Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
OORSIG: Noodplan teen gendergeweld - wat jy moet weet

Pres. Cyril Ramaphosa het 'n noodplan aangekondig tydens 'n ongewone sitting van beide huise van die parlement.

Hoogtepunte:

  • MISDAADSTATISTIEK: SA se misdaadstatistieke is vergelykbaar met lande wat in oorlog verkeer.
  • WETGEWING: Dit moet verander wat oortreders van gendergeweld vinniger en daadwerklik aan die pen sal laat ry. 
  • STRAFREGSTELSEL BESPOEDIG: Spesiale howe en meer forensiese laboratoriums wat met seksuele oortredings kan help, gaan gebou word.
  • REGSRAAMWERK VERSTERK: Strenger minimumvonnisse gaan ingestel word en geen borgtog sal oorweeg word nie.
  • OPVOEDING: Benewens genesing van slagoffers, gaan gekyk word vir vrouebemagtiging aangesien patriargale houdings 'n kwessie is, het Ramaphosa gesê. Die jeug sal ook so opgevoed word.
  • ONWETTIGE IMMIGRASIE: Beter grensbeheer moet onwettige immigrante takel, maar terselfdertyd moet vryehandel met die res van Afrika bevorder word.

Opposiepartye het daarop gereageer met onder meer:

  • "Die onderdrukker is nou manlikheid." - Sylvia Lucas, ondervoorsitter van die NRP
  • "Wetgewing is te oud en moet hersien word en die polisie moet provinsiaal beheer word." - Mmusi Maimane, DA-leier
  • "Het jy al 'n vrou aangerand, Cyril? Alle man is die probleem." - Ntombovuyo Mente, EFF-LP
  • "Ons glo in 'n goeie pak slae op die regte tyd." - Dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier
  • "Die waardigheid van vroue sal herstel word as pornografie verbied word." - Eerw. Kenneth Meshoe, ACDP-leier
  • "Stel die doodstraf in vir sulke misdade." - Vuylwethu Zungula, ATM-LP

Ramaphosa het hierna geantwoord dat geen vorm van geweld teen kinders - selfs nie lyfstraf - gewettig kan word nie. Hy het gesê die polisie moet heropgelei word omdat sommige beamptes klagtes oor seksuele geweld steeds te ligtelik opneem. Tegnologie sal ook moet verbeter sodat dossiere nie net kan verdwyn nie. Voorts steun hy Maimane se idee dat parlementêre komitees gestig word. 

Volg hier hoe die gebeure ontvou het:

18 Sep. 17:13:16

'ONS SAL STERKER ANDERKANT UITKOM'

Rampahosa: Dis 'n moeilike tyd vir die land.

Daar was 'n tyd waar ons gevoel het dat ons die hele stryd teen gendergeweld en aanvalle op buitelanders verloor het.

Maar dit is dikwels in krisistye waar 'n nasie se ware moed getoets word. Dit is in die tye wat ons moet sê dat ons sterker anderkant sal uitkom omdat ons deur vuur is.

Alle politieke partye moet met een stem praat.

Laat ons 'n SA bou waar ons vroue nie in vrees leef nie. Laat ons saamwerk. Laat ons die komitees in die parlement stig. Laat ons die gesprek voortsit in ons komitees en soos ons wette maak.

Laat ons uitgaan en met ons mense gaan praat oor die kwessies. Laat ons 'n ware gesprek hê met die massas.

Dit is moeilike kwessies om te bespreek, maar ons almal as leiers moet ons mense daaroor laat praat.

18 Sep. 17:09:13

MIGRASIE VAN MENSE NA SA

Ramaphosa: Die probleme wat ons mense duidelik ondervind is armoede. Ons moet gesonde balans oor kwessie van migrasie handhaaf. Ons moet dit so goed doen omdat mense altyd van een land na die ander sal migreer. SA het oase geword wat baie lok. Baie kom hier vir werk en ekonomiese geleenthede. Ons moet die kwessie gebalanseerd debatteer.

Terselfdertyd moet ons ook vaardige immigrante lok. Immigrasiebeheer is egter die rol van die regering. Landsburgers moet nie vigilanties teenoor immigrante optree nie.

Dit is iets wat ons op die vlak van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap moet debatteer. Noudat die vryehandel-ooreenkoms bereik is, moet ons mens ook in staat wees om wettig oor grense te kan beweeg.

 

Vlugtelinge

SA het nooit vlugtelingkampe gehad nie. Dit is iets wat bespreek moet word.

18 Sep. 17:06:47

SWAARDER STRAF VIR DWELMSMOUSE OOK

Ramaphosa: Oor dwelm- en drankmisbruik het eerbare Shaik Imam gesê watter verwoestende rol dit in samelewing speel. Net soos daar swaarder strawwe vir oortreders van gendergeweld moet wees, moet daar swaarder strawwe vir dwelmsmouse wees.

Jabu Baloyi het in Pretoria sy lewe verloor omdat hy probeer het om 'n dwelmsmous te stop. Ons mense is keelvol en wil sien dat ons almal hier ernstiger begin optree.

18 Sep. 17:05:10

CYRIL VERWERP VERSOEK VAN VF PLUS OM LYFSTRAF TE WETTIG

Ramaphosa: Die konstitusionele hof het vandag uiters betekenisvolle uitspraak gelewer dat ons nie meer kinders in ons huis lyfstraf kan gee nie. Kinders moet teen alle vorme van geweld by die huis of skool beskerm word. Die uitspraak sal sterk boodskap uitstuur dat die slaan van kinders nie langer geduld sal word nie.

 

Malema maak punt van orde. Hy sê almal in sy geledere is skuldig dat hulle hul kinders tug.

 

Ramaphosa: Ons moet almal saamstaan.

18 Sep. 17:01:46

POLISIE MOET HEROPGELEI WORD

Ramaphosa: Ons stem saam dat ons 'n betroubare en beslissende polisiediens benodig.

Baie polisiebeamptes stel hul eie lewe in gevaar om misdade te ondersoek. Ons prys hulle vir dit.

Maar mense landwyd kla altyd oor sommige polisiebeamptes wat nie so verbind is om hul klagtes te ondersoek nie. Soos waar verkragting aangemeld word en polisiebeamptes dit ligtelik opneem of slagoffers wil aanraai om die saak te los.

Polisiebeamptes moet daarom heropgelei word. Dit het baie belangrike kwessie vir my geword sodat hulle diens kan lewer wat die vroue in die land goed dien.

Daar moet verseker dat oortreders wat beskermingsbevele teen hulle het, nie deur die skuiwergate val nie. Vroue sterf met beskermingsbevele in hul huise. Ons moet waak daarteen.

 

Dossiere verdwyn

Ons gebruik steeds ou tegnologie en praktyke. Dossiere verdwyn steeds en oortreders loop vry rond.

Ons moet ook polisie se getalle regkry om met die euwel te kan handel. Ons polisiekantore moet genoeg "rape kits" hê.

Gister was ek in die Oos-Kaap. Daar sê die premier dat hulle nie eens 'n DNS-laboratorium het nie. Hulle moet hulle s'n na Durban of die Wes-Kaap stuur. Ons het besluit om in die volgende paar maande 'n laboratorium daar te bou.

Ons moet waak dat slagoffers sleg behandel word as hulle klagte aanmeld.

Ondersoekbeamptes moet opgelei word oor hoe om seksuele oortredings te hanteer.

18 Sep. 16:56:15

CYRIL STEUN IDEE DAT KOMITEES GESTIG WORD

Dit is duidelik dat ons 'n oudit moet doen van nasionale wette en regulasies en ons moet dit wat tekort kom, wysig.

Ons moet ook die kapasiteit van die parlement versterk om te doen wat selfs Maimane sê en dit is om wetgewing te begin teen gendergeweld.

Soos Maimane die gebiede uitgelig het met wat hul wetsontwerp ingestel moet word, sal ons almal moet help daarmee. Die voorstel dat 'n ad hoc- of oorsigkomitee oor gendergeweld gestig moet word, sal ek ook ondersteun omdat ons moet demonstreer dat ons ernstig is om gendergeweld te bestry.

18 Sep. 16:52:49

ANDER LANDE HET SOORTGELYKE PROBLEME

Ramaphosa:

Ons het duidelik 'n lewendige parlement. 

Mense wat van die huis af kyk, moenie skrik nie, want dis hoe demokrasie werk.

Frankryk en Spanje het ook aantal ingrypings ingestel nadat hulle oor vlaag van moorde op vroue ervaar het.

Paar lande in Afrika ook. Ons is nie alleen nie.

Maar ons verskil van hulle want moorde op vroue hier is veel hoër as dié in ander lande.

Ons het gevoel dat ons nie moet wag nie. Dat ons dit dringend pak.

As iets gewerk het, moet dit versterk word. Ons moet kyk hoe om dit te versterk.

Vroue is absoluut reg om woedend en gefrustreerd te wees omdat maatreëls wat ons in die verlede aangepak het, nie werk nie.

18 Sep. 16:48:27

Pres. Cyril Ramaphosa antwoord die sprekers oor hul voorstelle en insette. Hy sê hy wil eers namens Suid-Afrikaners sy diepe meegevoel toespreek oor die dood van Bavelile Hlongwa, adjunkminister van minerale bronne en energie.

18 Sep. 16:44:50

18 Sep. 16:44:26

SPESIALE HOWE KOM

Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste:

Ek aanvaar die uitdaging om die demoon van verkragting en gendergeweld uit te wis. Alle mans in die land moet dit ook aanvaar.

Ons sal 11 nuwe spesiale howe vir seksuele oortredings hierdie jaar oop maak.

Lamola sê die samewerking wat sy departement met die burgerlike samelewing, die polisie en alle rolspelers met die Thutuzela-sentrums het, is van kritieke belang.

Ons moet ook kyk na sake wat teruggetrek word.

Rehabilitasie is ook in Limpopo begin vir verkragters waar hulle geleer word hoe om op afsprake te gaan.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Misdaad  |  Geweld  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.