Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
OORSIG: Cyril vol planne vir presidensie, maar opposisie nie so oortuig

Pres. Cyril Ramaphosa lewer om 14:00 die begrotingsrede vir die 2019-’20 boekjaar van die presidensie in die Nasionale Vergadering.

'n Debat waaraan die meeste leiers van politieke partye gaan deelneem sal ná afloop daarvan plaasvind waarop hy Donderdag repliek sal lewer.

So het dit verloop.

17 Jul. 15:57:49

Maimane: 'Jy doen nog min, en moenie van jou regskoste vergeet nie'

Pres. Cyril Ramaphosa moet vroeër eerder as later die voorwaardes waaronder die weermag in sekere gebiede ontplooi gaan word, bekend maak.

Dié beroep deur Mmusi Maimane het Woensdag in die Nasionale Vergadering opgeklink toe hy deelgeneem het aan die debat op Ramaphosa se begrotingsrede vir die presidensie.

Hy het die ontplooiing van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag in gemeenskappe wat onder beleg van bendes en misdadigers is, verwelkom. “Dit hang nou van jou kantoor af om die raad – gouer eerder as later – in te lig oor die voorwaardes van dié ontplooiing van die SANW.

“Laat ons nou dieselfde verbintenis ook aan landelike gemenskappe toon. Laat ons aan boere en plaaswerkers toon dat hulle ook ons beskerming verdien. Laat ons die oorlog na misdadigers oral neem.”

Maimane het gesê toe Ramaphosa in Februarie sy staatsrede gelewer het, het hy aan die land gesê dat hy 'n man van aksie is – dat hy die man in die arena is – die doener van dade.

“Daar is geen teken nog van die man in die arena nie, die doener van dade nie. Jy het lank gepraat daaroor om die staat skoon te maak, maar dit het nooit verder as praat gegaan nie. Die Spesiale Ondersoekeenheid is steeds dormant. Die Nasionale Vervolgingsgesag het geen geld vir sy bedrywighede nie. Niemand is aangekla, in hegtenis geneem of vervolg nie.

”Sommige van hulle is steeds in die parlement – besig om voorsitters te wees van portefeuljekomitees," het Maimane gesê.

Hy het weereens 'n beroep gedoen vir die totstandkoming in die parlement vir 'n oorsigkomitee oor die presidensie.

“Dit sal verseker dat die presidensie se begroting bestee word waar dit behoort bestee te word, nie aan die regskoste.

"Wat die openbare beskermer ook al teen jou bevind, betaal self vir jou regskoste.”

Met verwysing na oudpres. Jacob Zuma se getuienis voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping dat diegene wat praat van “nege vermorste jare” deelgeneem het aan besluite van daardie nege vermorste jare, het hy gesê: “Jy het op daardie span gesit as Nommer 2 vir Zuma se Nommer 1 en jy was tóé stil.”

Hy het gevra om Ramaphosa Donderdag in sy repliek sal aankondig dat hy voor die kommissie sal verskyn en die rekord sal regstel.

17 Jul. 15:00:45

Die president is klaar en repliek sal nou gelewer word.

17 Jul. 14:54:28

'Hierdie presidensie gee om'

In die sesde administrasie het julle 'n presidensie wat omgee. Vir diegene wat die staatsdiens en staatsinstellings gebruik om jul eie sakke te vul, sê ons totsiens.

Ons mense se hoop is hoog en hul verwagtinge is selfs hoër. Ons durf nie ons mense faal nie en ons gaan hulle nie faal nie.

Deur te sê ons gaan die land laat groei beteken dat die demokratiese dividend deur almal gedeel moet word.

Agbare lede, ons is op 'n reis wat ons nie bang moet wees om te onderneem nie. Ons sien uit na 'n ingeligte en gebalanseerde debat oor die kwessie wat waardig is om as insette beskou te word om die land vorentoe te neem.

17 Jul. 14:52:31

Jonas, Johnny, Marc en James

Hy haal die jazzmusikant Jonas Gwangwa aan en wens hom 'n spoedige herstel toe nadat hy siek geword het. Hy gee ook erkenning aan Johnny Clegg wat gister gesterf het sowel as Marc Batchelor en James Small wat gesterf het.

Ons is hier om vir ons mense te werk. Die eindelose gekibbel help nie.

Hy haal dan die Afrika-idoom aan wat beteken "Wanneer olifante baklei is dit die gras wat seerkry".

Die droom van die Suid-Afrika wat ons wil hê word deur almal gedeel. Die polisie, mediese personeel, onderwysers...

Aan die patriote sê ons dankie vir die dienste wat julle lewer.

17 Jul. 14:48:56

Internasionale arena

In die internasionale arena bly Suid-Afrika sy rol speel om Afrika en 'n beter wêreld te bevorder.

Ons is aktiewe deelnemers aan verskeie platforms waaronder G20, Brics en die Forum vir Afrika-China-Samewerking.

By die VN doen ons voorspraak vir groter multilateralisme.

Ons herbevestig ons ondersteuners vir Palestina se stryd vir selfbeskikking asook vir wes-Sahara.

17 Jul. 14:45:45

Cyril se hooffokus

Ek het ook in my staatsrede onder meer verwys na 'n aksieplan vir 'n visumregime, geïntergreerde jeugontwikkelingstrategie, die finalisering van die geïntreerde hulpbronplan en 'n plan vir Eskom se herstel.

In die komende weke sal ons ook 'n vorderingsverslag gee oor die ekonomiese stimuluspakket wat ons verlede jaar aangekondig het.

Infrastruktuurontwikkeling bly aan die kern van ons ontwikkelingsplanne.

Ek het vroeër gesê dat ons besig is om ons landelike program te versnel.

Die kabinet is bekommerd dat ons hawens te stadig opereer.


17 Jul. 14:41:13

Belegging

Die presidensie sal voortgaan om die nasionale beleggingspoging (Investment Drive) te lei.

17 Jul. 14:40:00

Ministers sal ook versigtig moet trap

Ek sal prestasie-ooreenkomste met ministers en adjunkministers onderteken - ons verwag om dit teen 1 September te finaliseer wat duidelike teikens vir elke minister sal bevat.

17 Jul. 14:37:45

Dienslewering en plaaslike regerings

Deur te fokus op implementering op 'n distriksvlak, sal ons 'n beter oog hê oor hoe om probleme aan te spreek.

Plaaslike regering is die enjin van dienslewering en broeikas van belegging.

Wanneer 'n motormaatskappy 'n besigheid wil begin, gaan dit nie na die Uniegebou nie, maar na die plaaslike munisipaliteit.

Gedesentraliseerde ontwikkeling gee effek aan samewerkende regering.

Die gebruik van die distrik as eenheid van ontwikkeling sal 'n ver pad gaan om aandag te gee die ruimtelike ontwikkelingspatrone.

Die nuwe dagbreek vereis dat ons meer sulke ingrypings het.

Ons moet 'n regering wees wat leer. 'n Masjinerie wat leer uit sy foute.

Die uitvoerende gesag van die sesde administrasie sal uit een mond praat. 

Dit sal versigtig wees met openbare geld en nie behep wees met bling en blou ligte nie.

17 Jul. 14:34:04

Tegnologie vinnig vir regeringsbeleid

Beleidsontwikkeling en toepassing word meer en meer kompleks namate die tegnologie verander. Die regering moet gereed wees.

Ons het regeringsdepartemente verminder met die doel daarop om hulle meer doeltreffend te maak.

In die verlede het ons ontwikkeling in gemeenskappe lukraak ingeduik. As ons klinieke bou het ons nie dienste daar rondom gebou nie.

As ons ekonomiese geleenthede wil skep moet ons ons pogings aanwend tot die onderskeie omstandighede van die omgewing.

As die sesde administrasie gaan ons wegdoen met dié gefragmenteerde manier van ontwikkeling.

Ons wil ook weet watter hoërskole in tegniese hoërskole omskep moet word om die jeug te bevorder.

Deur die program van imbizos sal die president, adjunkpresident, ministers, adjunkministers en premiers dié geïntegreede toepassingsmodel bevorder.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.