Daar was net één man vir Van Rooyen
Van Rooyen getuig oor sy verhouding met
Mohamed Bobat.
Hy sê dat hy Bobat in 2009 ontmoet het op 'n ete en daarna met hom kontak behou
het om soms vir hom raad te vra oor sy studies in finansiële bestuur.
Nadat Van Rooyen gehoor het hy gaan die
minister van finansies word, het hy Bobat gebel (ses jaar nadat hy hom ontmoet
het), want hy wou uitblink in sy nuwe pos as minister en het hulp nodig gehad
van kundiges om hom by te staan.
Hy was in Luthuli-huis en het Bobat gebel van 'n landlyn af. Hy wou Bobat in kennis stel dat hy hom wou insluit as een van die
mense wat sy inswering as minister kon bywoon, getuig Van Rooyen.
Hy kon hom nie in die hande kry
nie en het Bobat se nommer aan die presidensie gestuur vir die lys van
gaste wat gekontak en genooi moet word.
Hulley vra of Van Rooyen en Bobat 'n geleentheid
gehad het om voor die inswering te gesels. Hy vra of Van Rooyen op die inswering op 10 Desember vir Bobat gevra het of hy sy spesiale raadgewer sou wees.
Van Rooyen antwoord hy het voor dit die idee
gehad om Bobat as 'n raadgewer te betrek, dit was op meriete.
Nadat hy op 8 Desember met Zuma vergader het,
het hy 'n obsessie gehad om suksesvol te wees as minister.
Hulley vra of Van Rooyen Bobat se CV nagegaan het voordat hy hom as raadgewer aangestel het.
Van Rooyen antwoord dit was nie nodig nie. Hy het Bobat se agtergrond as finansiële kundige geken.
Zondo vra hy het vir Bobat op 'n ete ontmoet en hulle het een of twee keer in ses jaar gesels, hoekom het hy net op Bobat gefokus? Daar was seker ander keuses ook?
Van Rooyen antwoord hy het nie tyd gehad nie, hy moes in die ry inspring. Hy moes in ag neem wat die onmiddellike posisies is wat hy moes vul. Hy het 'n personeelhoof en raadgewer nodig gehad. Hy het besluit Bobat is die beste kandidaat.
Zondo sê hy wil meer hieroor weet, want Van Rooyen se keuse bekommer hom. Hy kon met Nene gesels het daaroor. Hy kon beter seker maak oor Bobat se agtergrond. Wat sou hy verloor as hy 'n paar dae gewag het?
Van Rooyen sê dit is die ideaal, maar hy was onder druk - veral inaggenome hoe die finansiële mark gereageer het. Van Rooyen sê Bobat is 'n man van integriteit, hy staan steeds daarby. Dit sluit ook (Ian) Whitley in, sê Van Rooyen.