Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
OORSIG: Duduzane en oud-melkboer getuig voor Zondo
  • Duduzane Zuma, seun van oudpres. Jacob Zuma, het sy getuienis afgesluit voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping.
  • Hy het erken dat hy wel deur die Openbare Beskermer (OB) genooi is om sy weergawe te gee van wat gebeur het met Mcebisi Jonas se besoek aan die huis van die Guptas, maar dat hy toe oorsee gebly het. Hy is ook gedagvaar om sy weergawe te gee. Die OB se verslag is afgehandel sonder dat hy sy weergawe kon stel.
  • Verdere getuienis oor die Vrede-melkplaas is ook aangehoor.
  • Die Zondo-kommissie ondersoek die wydlopende staatskaping in die tyd toe Zuma die president was.
08 Okt. 16:28:57

Zondo bedank Theron vir sy getuienis.

08 Okt. 16:27:38

Oud-melkboer se 'oë het gerek' oor Estina-projek

Theron se getuienis is afgehandel. Hy sê dit is soos om bloed uit 'n klip te tap vir hom, hy het niks om by te voeg nie.

Zondo het nou vrae aan Theron. Waarom het hy gesê dit is 'n dom projek?

Theron sê melkboere regoor die gebied het uit die melkbedryf gegaan van Heilbron, Bethlehem, Harrismith tot by Ficksburg. Hulle het Natal toegetrek en ook na die Tsitsikamma-omgewing. Daar het hulle groot suksesse gehad. Dit was net te duur om voer te kry in die omgewing vir die melkkoeie en die melkprys was te laag om dit te kan bekostig.

Dit is wat sy oë laat rek het, sê Theron.

08 Okt. 16:16:02

Oud-melkboer wonder wat doel is van Estina-projek

Theron word gevra waar hy gehoor dit gaan 'n R1 miljard-projek wees. Dit was Narayan se antwoord toe hy gevra is waar gaan die geld vandaan kom.

Volgens Theron is R1 miljard baie geld. In 2012 het baie melkboere opgegee want dit was nie meer winsgewend nie.

Om 'n melkplaas te begin, sal sowat R30 miljoen kos. Theron kon nie verstaan wat die doel van die Estina-projek wees nie. Is dit om melk te produseer of opkomende boere te help? Hy dink nie hulle was seker van hul eie motief nie.

Theron getuig in daardie stadium kon mens melkkoeie koop vir R8000, hy en sy werkgewer het gehoop hulle kon koeie vir so R12000 aan die projek verkoop.

Zondo sê ja, want dit het gereën. Theron sê dankie voorsitter.

Theron sê hy en Newman het nog 'n manier gesien om 'n paar rand te maak. Dit was om toerusting te voorsien. Hulle het die voorstel aan plaaslike mense gegee. Dit was vir R6 miljoen en Theron en Newman het elkeen sowat R30 000 gekry (1%) wat deur die vervaardiger aan hulle betaal is.

Zondo lag en sê so toe hulle nie meer die geleentheid gehad het om hul melkkoeie te verkoop nie, het hulle 'n ander plan gemaak.

Theron sê dit is korrek.

Volgens Theron het hy later gedink hy sal kan help om die Vrede-melkplaas te bestuur. Hulle was baie sensitief oor die koeie wat besig is om te vrek, so hulle het hom weggejaag.

08 Okt. 16:05:56

'Dom besluit om in Vrede met melkkoeie te wil boer'

Theron getuig daar is 'n student aan hom voorgestel en hy het die indruk gekry dat dit die bestuurder van die projek sou wees. Hy het besef die persoon is nie opgewasse om die bestuurder te wees nie.

Volgens Theron het hy en Newman die geleentheid gesien om hul beeste teen 'n goeie prys te verkoop, maar Narayan het nie daarin belang gestel nie.

Hy getuig daar sou 'n duisend koeie op die Vrede-melkplaas wees. Hulle sou twee keer 'n dag gemelk word.

Theron sê mens kan die koeie drie keer 'n dag melk, maar dit sal baie harde werk wees. 'n Koei vervaardig die hele tyd melk. Indien daar plek is in die uier, sal die koei meer melk produseer. Indien die uier vol is, sal die koei minder melk vervaardig.

Volgens Theron het 'n gemiddelde melkplaas in die Vrede-omgewing sowat 80 koeie. Dit was dus 'n enorme projek.

Theron het gesê die grootste probleem sal wees om genoeg voer aan te koop vir die melkkoeie. Daar moet so min as moontlik voer aangekoop word. In Vrede groei daar gras en mielies. Mens het ander voer vir die beeste nodig. Hy het gevra waarom in Vrede. Volgens hom was dit 'n dom besluit om melk te wil produseer in dié omgewing.

Meeste van die melkboere daar het reeds na KwaZulu-Natal getrek om hul melkboerderye daar te hê.

Dit was 'n verrassing vir die Indiese mense wat die omstandighede in Vrede is, in Indië was hulle gewoond aan baie reën, volgens Theron.

Hy sê dat hy na die ontmoetings besef hulle is in vir 'n groot verrassing, en dit het toe so gebeur. Baie van die koeie het na ses maande gevrek van siektes waarvan hulle nie kennis gehad het nie.

Theron sê Narayan het aan hom konsultasiegeld asook vervoerkoste betaal.


08 Okt. 15:54:34

'Magashule betrokke by projek'

Theron getuig dat Narayan gesê het hy is 'n middelman tussen Estina, die Vrede-munisipaliteit en die departement van landbou.

Hy het uitdruklik gesê Ace Magashula was betrokke en dit is 'n belangrike projek vir hom.

Volgens Theron was Narayan baie ernstig oor die projek, hy was bekommerd dat hy moet slaag in die projek.

Vir Theron het dit gelyk of Narayan baie senuagtig is elke keer as Magashule se naam genoem word, en dit was kommerwekkend.

08 Okt. 15:50:34

As dit pap reën moet jy skep, getuig oud-melkboer

Theron getuig mens kan nie sommer net blitsig leer in 2 ure wanneer jy 'n plaas besoek om self 'n melkplaas te bestuur nie. Om net te leer hoe die voeding van die koeie werk, behels 'n drie jaar graad by 'n universiteit.

Hy getuig dat Ashok Narayan hom 'n maand later gebel het, hulle wil voortgaan met die projek maar het kundige raad nodig om dit te beplan.

Theron getuig hy is gevra om Narayan te ontmoet by 'n huis in Saxonwold. Sy werkgewer, ene mnr. Newman, sou ook teenwoordig wees. Hy het 'n afleiding gemaak daar was dringendheid, daar sou R1 miljard belê word en dit is 'n baie groot projek.

Na die oproep met Narayan het Theron aan sy werknemer genoem dat hy uitgenooi is. Hulle het die projek bespreek, hier is 'n kwessie van 'soos die boere sê as dit pap reën moet jy skep'. Zondo lag en vra hy moet die gesegde weer sê.

Hulle het gedink hulle kan hul melkbeeste teen 'n groot prys aan die projek verkoop.

Theron en Newman is na die eiendom by Saxonwold. Theron getuig hy het nog nooit soveel sekuriteit gesien nie. Hulle is na Narayan geneem. Hulle het niemand anders ontmoet nie.

Hy het nie geweet aan wie die eiendom behoort nie, dit is nie aan hom genoem nie en hy het aangeneem dit is die eiendom van Estina.

08 Okt. 15:41:23

Theron getuig die meeste van die besoekers was van Indiese afkoms. Hy kan nie hulle name onthou nie, dit was 16 mense wat hy ontmoet het. Hy is nie so goed nie.

08 Okt. 15:38:26

Oud-melkboer getuig oor besoekers aan melkplaas

Theron getuig hy was 'n melkboer vir 34 jaar en ook 'n bestuurder vir 4 jaar van 'n ander melkplaas. Hy is nou afgetree as melkboer en is 'n eiendomsagent.

Theron word gevra wat is nodig om 'n goeie melkplaas te bestuur.

Hy antwoord dissipline, kennis om die koeie te voer asook om werknemers te bestuur. Hy sê die belangrikste van so 'n plaas is dat dit winsgewend moet wees. Daar moet ook  genoegsame water wees.

Theron getuig in 2012 was daar 'n besoek van sowat 20 mense aan die plaas wat hy bestuur het. Van die 20 mense wat 4 mense van die munisipaliteit en 16 van Estina. Dit was die plaas van sy werkgewer.

Volgens Theron is hy beskou as 'n kundige van melkboerdery en is daarom is hy gevra om te help met die afvaardiging van die Estina-maatskappy en die amptenare van die Vrede-munisipaliteit.

Theron sê die groep het meesal in hul Mercedes Benze by die plaas opgedaag en hy het hulle rondgeneem op die plaas om te wys hoe dit werk.

08 Okt. 15:26:25

Die volgende getuie is Johannes Theron, 'n eiendomsagent van Memel in die Vrystaat. 

08 Okt. 15:00:16

Mtshiza het klaar getuig.

Die sitting verdaag vir enkele minute om gereed te maak vir die volgende getuie.

Meer oor:  Oakbay  |  Guptas  |  Politiek  |  Zondo  |  Duduzane Zuma  |  Johannesburg  |  Staatskaping  |  Zondo-Kommisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.