Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
OORSIG: Cele, vriend geïmpliseer met getuienis oor geheime eenheid - Zondo
  • Kol. Dhanajaya Naidoo, fluitjieblaser oor die korrupsie by die polisie se misdaadintelligensie-eenheid, het Maandag getuig hoe Bheki Cele, minister van polisie, vermoedelik R40 000 kontant in 'n koevert gekry het en hoe Cele se vriend se familie glo onregmatig by dié eenheid aangestel is
  • Naidoo leef die laaste agt jaar onder 'n nuwe identiteit in vrees vir sy lewe, nadat hy aan die Valke inligting gegee het oor die korrupsie.
  • Die Zondo-kommissie, wat staatskaping en wydlopende korrupsie in die staatsdiens ondersoek, fokus die laaste paar weke op die korrupsie in die misdaadintelligensie-eenheid.
30 Sep. 15:36:21

Die sitting verdaag vir vandag.

30 Sep. 15:32:07

Só is vriende, familie as geheime 'agente' aangestel

Naidoo getuig oor die gesinslede en vriende van Lazarus wat ook in die eenheid opgeneem is.

Hy sê daar is tien mense aangestel, van die mense was nooit voorheen in die polisiediens nie en is as kapteine en kolonels aangestel, drie van die mense was die kinders van 'n vriend van Lazarus wat saam met hom in die Tongaat-polisiekantoor gewerk het.

Hy getuig daar is ook mense onregverdig bevorder deur Lazarus. Naidoo self was een van die mense wat bevorder is.

Mense met 'n verbintenis aan Marimuthu is ook in die eenheid opgeneem. Marimuthu self het maandeliks R50 000 se betaling vanaf die eenheid gekry nadat hy as 'n "kontakpersoon" geregistreer is.

Die inligting is deur sy hanteerder aan Naidoo gegee en dié beampte sal dit kan bevestig,

Nog agt familielede of vriende van Marimuthu is in die eenheid aangestel.

Lazarus het een dag aan Naidoo gesê Timmy (Marimuthu) het baie vir hom gedoen en hy gaan aan hom 'n guns lewer.

30 Sep. 15:16:45

Mdluli se familielede 'as agente aangestel'

Naidoo getuig nou oor 250 poste in die misdaadintelligensie-eenheid. Hy sê dit is poste wat meesal gevul is deur vriende en familie van Mdluli.

Naidoo sê 'n agent is gewoonlik 'n polisiebeampte wat geïdentifiseer word deur 'n projekleier vir 'n bepaalde projek. Hy sê dat hy nie veel meer oor die proses wil sê in die openbaar nie, omdat dit inligting weggee oor hoe die eenheid werk.

Naidoo sê 'n agent is gewoonlik 'n lid van die Suid-Afrikaanse Polisiediens en 'n informant is 'n private persoon. Informante word ook maandeliks betaal.

Hy getuig nou oor die aanstelling van Mdluli se  familielede in die eenheid. Mdluli het na Lazarus gegaan met 'n stuk papier en 'n klomp name daarop. Mdluli het gevra hoe hulle aangestel kan word.

Lazarus het gesê daar is besluit hulle sal eers aangestel word, en dan as agente in die stelsel opgeneem word vir betaling.

Naidoo sê Lazarus het gevra hy moet dokumente gaan haal wat mense moet invul om aansoek te doen vir werk in die polisie. Naidoo het dit aan Mdluli oorhandig.

Naidoo is as die hanteerder van sewe van die ''agente" aangestel.

30 Sep. 15:03:18

Die ''queen" kos duur in Singapoer

Naidoo sê dat Mdluli gesê het ''die queen" is swaar op sy beursie. Dit was in Singapoer. Mdluli het geld by Lazarus gevra omdat hy nie meer geld gehad het nie. Hy het gekla dat sy vriendin, Theresa Lyons, uitermatig baie inkopies doen in Singapoer.

Met hulle terugkeer in die land het Mdluli weer geld by Lazarus geleen.

30 Sep. 15:00:22

Naidoo ontstel dat hy tandeborsel moes koop vir ''dwelmhandelaar"

Naidoo gevra wat sy verhouding was met Lazarus en Mdluli.

Naidoo sê hy het lank saam met Lazarus gewerk. Dit was Lazarus wat gehelp het dat hy by die misdaadintelligensie-eenheid kon aansluit.

Hy het Mdluli leer ken meestal omdat hy saam met Lazarus gewerk het.

Wat sy take by die eenheid betref, hy het die minimum van sy eie werk gedoen. Hy het altyd werk vir Mdluli en Lazarus gedoen.

Hy het onder meer verseker dat 'n skuilhuis (wat vir onder meer informante gebruik word of vir ander bedryfsdoeleindes) skoongemaak en vol kos is vir die gebruik deur Mdluli. Daar was ook 'n voertuig by die skuilhuis wat Mdluli gebruik het en Naidoo moes seker maak die huis is skoon.

Die kruideniersware wat hy aangekoop het vir die skuilhuis wat Mdluli soms gebruik het, was met 'n voorskot op sy naam gedoen.

Naidoo sê Lazarus en Marimuthu het intussen ook 'n goeie band gevorm. Een dag moes Naidoo 'n tandeborsel en tandepasta koop en na hom neem by 'n hotel. Hierdie voorval het Naidoo laat dink is dit wat misdaadintelligensie nou moet doen. Dit was ook vir homself 'n laagtepunt om deur 'n "dwelmhandelaar" gebel te word en tandepasta en tandeborsel na hom te neem.

Dit was sy gedagtes in daardie stadium, hoe hy aan sy posisie by die eenheid gedink het.

Marimuthu is ook later as 'n kontrakteur van die misdaadintelligensie-eenheid aangestel.

30 Sep. 14:39:31

8 se besoek aan Singapoer uit geheime fonds betaal

Naidoo word nou gevra oor 'n oorsese besoek aan Singapoer.

Hy getuig sowat twee weke nadat Mdluli terug was van China af op 20 November 2009.

Kol. Barnard en sy vrou; Lazarus en sy vrou; kol. Meranda Venter; Mdluli en sy vriendin Theresa Lyons (nie sy vrou die keer nie) en Naidoo het na Singapoer gegaan om spioenasie-toerusting te gaan koop vir die eenheid.

Naidoo sê hy was in Lazarus se kantoor voordat hulle na Singapoer sou vlieg. Die lid FM09 was ook daar. Naidoo het gevra hoekom gaan hy op die besoek, ook hoekom hy op die rekening van die geheime fonds vlieg.

Lazarus het gesê Mdluli het gesê hy moet saamgaan.

Wentzel vra wie in besigheidsklas gevlieg het. Mdluli, Lazarus en Theresa Lyons het besigheidsklas, die res het ekonomiese klas gevlieg.

In Singapoer is daar wel toerusting gekoop vir spioenasiewerk vir twee dae, sowat 'n uur per dag. Dit is 'n winkelsentrum wat elektroniese toerusting verkoop. Dit is nie soos 'n geheime plek vir spioenasietoerusting nie.

Die res van die tyd behalwe vir die vier ure se besoek aan die elektroniese winkel het die groep vanaf 20 tot 29 November gaan inkopies doen en rondgereis. Daar was agt mense op die besoek na Singapoer.

Naidoo sê die besoek was glad nie nodig nie, 'n mens kon die toerusting oor die internet koop, daarvoor betaal en dit kon afgelewer word. Of 'n enkele lid kon oorgaan na Singapoer om die toerusting te gaan koop.

Naidoo sê sy suster het gesê hy moet vir haar 'n kamera koop. Lazarus het gesê hulle moet dit uit die eenheid se fonds betaal en dit sal uitgesorteer word as hulle terugkom. Met sy terugkeer het hy die kamera aan sy suster oorhandig. Barnard en Lazarus het die aankope goedgekeur.

Die kamera is op die stelsel aangedui as die eiendom van misdaadintelligensie.

Met die terugkeer het Mdluli gereël dat die groep nie deur doeane hoef te kom nie, sodat hulle nie die aankope hoef te verklaar nie.

Barnard se vrou werk by 'n bank, sy het twee kredietkaarte gereël en daar is R100 000 op elke kaart gelaai.

Zondo vra of Naidoo saamgeneem is sodat hy dan nie sou praat oor die onreëlmatige uitgawe nie. Naidoo sê dit is moontlik.

Zondo vra in die stadium was Naidoo alreeds deel van wat verkeerd gegaan het by die eenheid? Naidoo sê dit is korrek.

Die besoek was vanaf 20 November 2009 en 29 November 2009.

Zondo sê dit is nogal 'n lang tyd, tien dae, wat die groep op die rekening van die staat gaan vakansie hou het.

Naidoo sê dit is korrek.

30 Sep. 14:19:57

Mdluli en vrou besoek dogter in China met polisie se geld

Naidoo word gevra oor 'n ontmoeting met Mdluli by die lughawe.

Naidoo sê op 7 November toe Mdluli na China sou vlieg het Lazarus gevra Naidoo moet nog R10 000 op sy eie naam by die geheime fonds op voorskot vat en vir Mdluli gaan gee vir sy besoek aan China.

Uiteindelik het Mdluli R20 000 na China geneem.

Naidoo getuig hy het die bedrag aan Mdluli oorhandig by O.R Tambo-lughawe. Mdluli het gesê hy neem sy vrou na China om vir hul dogter te gaan kuier wat daar studeer.

Zondo vra of Naidoo ooit gevra het hoekom Mdluli net die voorskotte gevat het in sy naam nie, maar dat dit in Naidoo se naam moes wees.

Naidoo antwoord dat Mdluli nooit enige voorskotte in sy naam gevat het nie.

Zondo sê so daar sal geen dokumente wees wat sou aandui dat Mdluli geld van die misdaadintelligensie-eenheid se geheime fonds gekry het nie.

30 Sep. 14:10:40

Naidoo getuig hy het ongemaklik gevoel oor die twee vliegkaartjies vir Mdluli.

Hy het fotostate daarvan gemaak asook notas wat hy daaroor geskryf het daarby gevoeg en by die huis weggesteek indien hy dit later nodig sou hê.

30 Sep. 14:07:47

Naidoo getuig verder na middagete.

30 Sep. 13:01:06

Die sitting verdaag vir middagete tot 14:00.

Meer oor:  Saps  |  Politiek  |  Raymond Zondo  |  Johannesburg  |  Staatskaping  |  Zondo-Kommissie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.