Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
OORSIG: Zondo bekyk ambassadeur se verhouding met Guptas

  • Bruce Koloane, oudhoof van protokol wat uitgewys is as die man wat toestemming gegee het dat die Gupta-trougaste by die Waterkloof-lugmagbasis kon land, getuig verder voor die Zondo-kommissie.
  • Koloane was Maandag ontevrede en het gesê sy regte word aangetas omdat hy nie genoeg tyd voor sy getuienis gekry het om onder meer na die inhoud van twee geheime opnames te kon luister nie.
  • Een van die gesprekke is tussen Koloane en lt.kol. Christine Anderson, voorheen adjunkbevelvoerder van die Waterkloof-lughawe se verplasingseenheid, wat erg in die visier is oor die Gupta-trougasteskandaal.
  • Adjunkhoofregter Raymond Zondo lei die kommissie van ondersoek na staatskaping wat wydlopende korrupsie in die staatsdiens ondersoek.
09 Jul. 13:52:06

Die sitting verdaag tot Woensdag om 10:00.

09 Jul. 13:51:47

Zondo vra nou of lt.kol. Anderson sal kom getuig.

Norman sê Anderson woon nou in Botswana. Hulle sukkel met kommunikasie met haar regsverteenwoordigers, maar hulle verteenwoordig haar nie meer nie.

Norman sê dit blyk dat sy nie bereid is om te getuig nie, maar dit sal opgevolg word.

09 Jul. 13:49:21

Zuma bedank Koloane dat hy kom getuig het.

Koloane vra of hy weer vanaand kan terugvlieg Nederland toe. Zondo sê dit is reg.

Norman sê dit is die laaste getuie vir die dag, maar hulle is nog nie klaar met die Waterkloof-ondervragings nie.

09 Jul. 13:48:01

Koloane verduidelik verhouding met Guptas

Zondo sê dit kan wees dat wanneer hy na al die getuienis kyk, hy vir homself die vraag kan vra of Koloane werklik nie kon onthou nie en of dit die geval was van iemand wat gedink het daar is niks wat hom kan weerspreek nie.

Koloane sê hy verstaan wat Zondo sê en dat hy hoop Zondo sal verstaan dat dit baie dokumente was wat hy moes deurgaan voor sy getuienis. Hy wou kom getuig voor die kommissie.

Die korrespondensie tussen die kommissie se verteenwoordigers en Koloane was in 'n baie kort tydperk, volgens Koloane.

Die eintlike proses toe hy werklik begin gereedmaak het om te getuig, was toe hy besef het hy gaan kom getuig en nie net die sitting bywoon om na ander getuienis te luister nie.

Hy wil nie iets sê soos dat die kommissie onregverdig is nie. Hy het daaraan gedink om sy getuienis uit te stel, maar hy kan nie vra dat hy eers of 'n maand of twee sou kon getuig, dan kon dit lyk of hy weghardloop.

Koloane sê hy wil dankie sê dat die opnames Maandag aan hom beskikbaar gestel is.

Norman verwys nou na 'n ontmoeting wat Koloane met ondervraers van die kommissie op 29 Mei 2019 gehad het in Den Haag. Sy handig die notas van die ontmoeting as bewysstukke in.

Norman sê dit is kwessies in die openbare domein en sy wil hom die geleentheid gee om daaroor kommentaar te lewer.

Koloane is toe gevra oor beweringe in die media dat hy namens die Guptas in Nederland opgetree het om besigheid te kry. Die Guptas het gevra oor hul besigheid, KGP Greenhouses. Hy sê dat hy namens alle Suid-Afrikaners optree ongeag wie of wat hulle is, so hy het sy span gevra om 'n vergadering op te stel vir die Guptas se verteenwoordiger. Hy weet nie wat die Guptas se status nou is nie, maar in daardie stadium was hulle burgers van Suid-Afrika.

Norman sê Koloane is ook gevra oor 'n steenkoolmyn in KwaZulu-Natal. Koloane sê hy is van dié provinsie en iemand van daar het aan hom gesê hy het gesien dat Koloane by een van die beleggersontbyte met die Guptas gepraat het en of Koloane hulle kan voorstel. Hy het dit gedoen.

Oor nog 'n vraag of hy gehelp het dat daar 'n bespreking by een van die Guptas se lodges gemaak word, het Koloane gesê ja, hy het die lodge aanbeveel en hy het aan die Guptas gevra om dit teen 'n goeie prys aan te bied.

Koloane sê hy het ook die Guptas gevra om 'n gholfdag in Pietermaritzburg te help borg met pryse. Koloane sê hy bied al die gholfdag vir 11 jaar aan, so hy skryf aan 'n klomp besighede om te vra vir borgskappe.

09 Jul. 13:26:47

Zondo het nog 'n paar vrae vir Koloane

Koloane sê daar is inligting aan die media uitgelek.

Hy regverdig nie wat hy besluit het nie, maar verduidelik die rede waarom hy stilgebly het en beslis nie met die media gesels het nie.

Zondo sê Koloane het die geleentheid gehad om na dokumente te kyk wat in besit van die kommissie was. Met al die vrae wat hy geweet het hy gevra sou word, was sy uitsprake dat die president en twee ministers betrokke was.

Zondo sê hy sou gedink het die dokumente oor Koloane se dissiplinêre verhoor sou hoog op die lys wees van wat hy sou lees om homself voor te berei vir die ondervraging voor die kommissie.

Koloane sê hy het dit aan sy regspan oorgelaat om daardie dokumente deur te gaan.

Zondo sê indien Koloane die dokumente deurgegaan het, sou die kwessie dat hy aan Ntshisi gesê het die president en twee ministers was betrokke, daar wees.

Koloane sê ja, hy het dit gesien.

Zondo sê so al het hy dit in die dokumente gesien, het hy nie onthou wat hy gedoen het nie.

Koloane sê hy was nie seker of hy dit gedoen het of nie. Hy het nooit in sy lewe vir Ntshisi in persoon ontmoet nie, so hy was nie seker of hy so iets aan hom sou noem nie.

Zondo vra het Koloane nie in die dokumente gaan kyk het wat daarin staan oor wat hy gesê het nie.

Koloane sê hy kon deur die dokumente geloer het, maar het gefokus op dokumente wat nuut was vir hom. Dit kon 'n fout gewees het wat hy gemaak het, maar hy het net deur 'n paar dokumente gegaan.

Zondo sê sou dit nie vir Koloane benadeel indien hy sekere goed sou getuig wat dalk nie so is, omdat hy nie deur die dokumente gekyk nie.

Koloane sê dit is 'n groot hoeveelheid dokumente wat hy moes deurgaan. Hy het nie 'n regsbrein nie. Daarom het hy dit in die hande van sy regspan gelaat om die dokumente deur te gaan. Hulle het ook nie baie tyd gehad om dit deur te gaan nie.


09 Jul. 13:13:25

Koloane wil verskoning vra vir Zuma

Zondo het nog 'n paar vrae aan Koloane voordat hy as getuie klaar is.

Koloane sê hy en sy regspan het die opnames gevra, dit was nie aan hom aangebied nie. Die inligting daarvan inkrimineer homself en hulle het nie probeer om dit weg te hou van die kommissie af nie. Dit was om sy geheue te verfris.

Koloane sê hy het na die kommissie gekom om die waarheid te praat.

Zondo sê hy moet na alle kante luister, daarom is dit belangrik dat hy Koloane se mening en alle menings so duidelik as moontlik kry. Daarom het hy nog vrae aan Koloane.

Zondo vra sou Koloane binne weke na die voorval geweet het dat die hele land deur die media ingelig is die president van die land het 'n rol gespeel in die voorval. Ook met Koloane se dissiplinêre verhoor is die naam van die president en ministers weer genoem. Dit moes 'n invloed op Koloane gehad het dat sy weergawe nie waar is nie, maar dat dit aan Suid-Afrika so voorgegee is.

Koloane sê in daardie stadium het hy nie meer vertroue in die media gehad nie, daar was beweringe dat die Guptas vir hom 'n eiendom in Mauritius gekoop het vir etlike miljoene rande. Daardie selfde media sou nie glo hy praat die waarheid nie, daarom het hy nie na hulle gegaan nie.

Mense is reeds in die media skuldig bevind. Dit is hoekom hy nie na die media gegaan het nie, hy speel nie in die openbare galery nie.

Maar as hy terugkyk moes hy 'n brief aan die president geskryf het en verskoning gevra het. Maar hy het te skaam gevoel om die president in die oë te kyk.

Koloane sê hy weet dit is nou dalk te laat, maar hy sal oorweeg om briewe te skryf aan die president en betrokke twee ministers om verskoning te vra. Hy is nou nog te skaam om hulle in die oë te kyk en in persoon om verskoning te vra.

09 Jul. 13:03:51

Norman verwys na die gesprek tussen Koloane en Ntshisi sê Koloane hy kon nie sekere aspekte op skrif sit nie.

Koloane sê dit gaan daaroor dat hy die president en twee ministers se name verkeerdelik gebruik het en hy wou nie dit op skrif sit nie.

09 Jul. 12:59:56

'n Sesde oproep word ook gespeel waarin Ntshisi weer verwys na die brandstof.

Norman sê die gesprek was tussen Koloane en Ntshisi.

Nog foongesprekke wat Ntshisi met verskeie amptenare het, word ook gespeel.

09 Jul. 12:51:45

In 'n vyfde opname wat by die sitting gespeel word, is Ntshisi weer op die foon en hy vra aan 'n persoon of hulle brandstof gaan nodig hê vir die vliegtuig wat by die Waterkloof-lugmagbasis gaan land.

09 Jul. 12:48:56

'n Vierde opname word gespeel waarin Ntshisi en Koloane weer gesels.

Koloani vra dat dokumente per e-pos gestuur na 'n private e-posadres asook na sy amptelike e-posadres.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.