Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
OORSIG: Naidoo getuig intelligensielede 'wou bewyse vernietig' - Zondo

  • Kol. Dhanajaya Naidoo, oudlid van die polisie se hoogs geheime misdaadintelligensie-eenheid, begin getuig oor die korrupsie by dié eenheid.
  • Naidoo leef in vrees vir sy lewe reeds vir byna agt jaar onder 'n nuwe identiteit in die getuienisbeskermingsprogram.
  • Die regspan van die Zondo-kommissie het 'n spesiale aansoek gebring waarin 'n bevel deur adjunkhoofregter Raymond Zondo aangevra is dat Naidoo kan getuig sonder dat sy gesig gewys word. Slegs sy stem mag gehoor word en die media mag geen foto's of enige beeldmateriaal van Naidoo publiseer nie.
  • Hy het van 'n geheime plek af getuig.
27 Sep. 16:09:32

Intelligensie-lede wou bewyse vernietig

Naidoo getuig hy het begin ongemaklik voel met die gersprek by Lazarus se huis. FM08 het genoem dat genl.maj. Mark Hankel vrae gehad het oor vliegkaartjies.

FM10 het gepraat daaroor dat al die bewyse van die vlugbesprekings vernieting moet word. Almal wat by Lazarus by die braai-area was het saamgestem daaroor.

FM08 het gesê hy sal met sy kontak, ene Mahess, praat oor 'n skootrekenaar wat vernietig moet word.

Naidoo sê dit is egter nie betyds gedoen nie, want die rekords is opgespoor.

Naidoo verwys weer na die gesprek by die braai-area en FM09 het gevra of hy 'n 'storie moet spin'. Lazarus het sy kop geskud en dit het gelyk of Lazarus instem met FM09.

FM09 het voorgestel dat hy, FM08 en Naidoo 'n drankie gaan drink.

Zondo sê die sitting verdaag tot Maandag om 10:00.

27 Sep. 16:02:57

Naidoo aanhoudend gevra wat hy aan Valke gesê het

Naidoo het gesien Lazarus was in die voorste sitplek van die motor. Die motor het gestop en Lazarus het gesê hy is 'n man wat moeilik is om in die hande te kry.

Lazarus het aan hom opdrag gegee om in die motor te spring. Hy het gesê Naidoo se vrou moet ook in die motor klim, maar Naidoo het verduidelik dit is naby die huis en sy en hulle jongste kind kan huis toe stap.

FM09 het agter aan die linkerkant gesit van die motor. FM08 het die motor bestuur en het begin om, om die blok te ry. Lazarus het aan hom gevra of hy okey is.

Lazarus het gevra of daar enige iets is wat hy aan hom wil noem. Naidoo het nee geantwoord, waarop Lazarus die vraag herhaal het. Hy het weer nee gesê. Lazarus het gesê: Wil jy niks aan my vertel nie."

Lazarus sê hy het gehoor dat Naidoo klomp goed aan die Valke vertel het. Hy het gesê nee dit is nie sê nie. Lazarus het gevra hoekom het Barnard dan gesê hy het vals eise van R100 000 ingesit.

Naidoo sê hy het dit ontken.

Lazarus het gesê hy het met 'n sekere pastoor Jonathan gepraat en dat die hele ding binnekort sal oor wees en hy moet sterk wees.

Naidoo sê hy het dit verstaan dat hy moet sterk wees deur die ondersoek en dat dit binnekort sal oor wees. FM08 het voor sy huis by die oprit ingery en Lazarus het gevra hy moet weer wegtrek en ry na Lazarus se huis toe.

FM10 het daar na die braai-area gegaan. Daar is in die algemeen gesels tot op 'n punt waar FM10 gesê het sy kontak by die Valke het aan hom gesê Naidoo is nou aan die Valke se kant en hy het seker inligting uitgelap.

27 Sep. 15:52:59

Naidoo getuig hoe kollega oor sy huis se hek spring

Naidoo word deur Wentzel gevra oor die getuienisbeskermingsprogram waarmee hy beskerm word en die omstandighede waaronder hy in beskerming geplaas is.

Naidoo sê hy het Lazarus altyd by sy huis gaan aflaai en oplaai om werk toe e gaan Hy het aan Lazarus genoem dat hy wil huis toe gaan op Donderdag 20 Oktober omdat hy baie moeg gevoel het na sy gesprekke met die Valke.

Naidoo het vir Barnard genoem dat hy met die Valke gepraat het en erken het dat hy sélf R100 000 van die geheime fonds gesteel.

Daar was nog 'n kolonel teenwoordig toe hy met Barnard gepraat het. Naidoo verwys na hom as FM40 om nie sy identiteit bekend te maak nie.

In daardie stadium het Naidoo die indruk gehad dat hulle bekommerd is oor sy welstand. Hulle was aan die begin baie geskok dat hy erken het oor die R100 000.

Zondo vra of hulle geskok was dat hy met die Valke gepraat het en of dit gaan oor die bedrag wat hy gesteel het.

Die twee het gesê hulle is bekommerd oor sy welstand. Hy het huis toe gegaan want hy was sielkundig gedaan. Dit was nadat hy lank met die Valke gepraat het en min geslaap het.

Naidoo sê hy en sy vrou het besluit om te gaan stap. Sy oudste seun was by die huis en aan die slaap. Hy en sy vrou en jonger seun, op sy fiets, het besluit om om die blok te gaan stap. Dit was vroegaand tussen 18:00 en 19:00.

Daar is 'n parkie oorkant sy huis en hulle het daar gaan stap. Hy het twee van sy kollegas, wat hy slegs identifiseer as FM08 en FM09, opgemerk. Hy het gesien hoe die een kollega oor sy hek spring van die binnekant af.

Daar was 'n motor wat geparkeer was voor sy hek. Hy het dit erken as een van die motors wat hy self ook al by die eenheid bestuur het.

27 Sep. 15:42:10

Naidoo besluit 'om alles te vertel'

Naidoo sê hy het self besluit om alles wat hy weet van die misbruik van die geheime fonds, meesal deur senior lede en ook deur homself, aan die Valke te openbaar.

OP 19 Oktober moes hy weer terugvoer aan Lazarus gee oor sy gesprek met die Valke. In dié stadium het hy die Valke in sy vertroue geneem. Hy het aan Lazarus 'n afgewaterde weergawe gegee van wat hy alles aan Roelofse en Viljoen vertel het.

Naidoo sê daar was soveel gevalle van korrupsie, dat hy op die 19de net alles wat hy kon onthou, oorvertel het.

Hy het 'n beëdigde afgelê op 25 Oktober 2011. Dit het al die inligting bevat wat hy aan die Valke-ondersoekers gegee het. Hy was toe reeds in die getuienisbeskermingsprogram geplaas.

Zondo vra dat hy moet vertel wat op 19 Oktober gebeur het na sy onderhoud.

Naidoo sê hy moes weer terugvoer gee aan Lazarus oor sy gesprek met die Valke, maar hy het die afgewaterde weergawe aan hom gegee om hom van sy rug af te kry.

Lazarus was nie sy direkte lynhoof nie. Sy lynhoof was Hein Barnard, in daardie stadium die hoof van verkryging by die eenheid.

Naidoo sê hy het besluit om nie aan Lazarus te vertel dat hy oor alles gepraat het nie. Hy het nie gedink dat Lazarus daarvan sou hou nie, in ag genome hoe Lazarus die vorige dag gereageer het toe Naidoo gesê het hy het een voorval aan die Valke genoem.

27 Sep. 15:34:33

Generaal kwaad oor Naidoo met Valke praat

Naidoo getuig na die gesprek met die Valke het Solomon Lazarus, voormalige finansiële hoof van die eenheid se geheime fonds, hom gevra wat hy alles aan hulle genoem het.

Die vergadering met Roelofse en Viljoen was byna 'n hele dag lank, omdat hy so baie inligting gehad het om met hulle te deel.

Naidoo sê hy het aan Lazarus erken dat hy aan die Valke genoem het dat Mdluli en genl. (Raymond) Lalla private eiendom huur met geld van die eenheid se geheime fonds. Lazaraus was baie kwaad hieroor dat hy dit aan die Valke genoem het. Hy was nie gelukkig nie en baie ontstel, sê Naidoo.

Naidoo sê hy het verduidelik dat dit 'n direkte vraag aan hom was en hy nie daaroor kon lieg nie omdat dit 'n amptelike ondersoek was. Die manier wat Lazarus met hom gepraat het, het laat blyk hy is baie ontstel.

27 Sep. 15:26:12

Naidoo erken hy het self geld gesteel by intelligensie

Naidoo getuig hy was 'n klerk by die misdaadintelligensie-eenheid. Hy en ander lede was betrokke by die stroping van geld by die eenheid, erken Naidoo.

Dit is gedoen onder Richard Mdluli se bevel in sy tyd as hoof van die eenheid.

Hy is deur Kol. Roelofse van die Valke genader, kan nie die bepaalde dag onthou nie, maar dink dit was waarskynlik einde September 2011. Die gesprek is by die eenheid se kantoor gehou.

Naido getuig dit was nie 'n lang gesprek nie. Hy moes verduidelik hoe die administrasie van die eenheid werk, hoe salarisbetalings werk.

Hy het op 18 Oktober 2011 vir Roelofse en kol. Piet Viljoen by die Valke se kantore ontmoet. Hy was aan die begin baie huiwerig. Hy het baie inligting gehad wat hy oor wou praat, maar was nie seker of hy hulle kan vertrou nie.

Op 19 Oktober het hy besluit om hulle in sy vertroue te neem en om al die aantyging aan hulle bekend te maak oor die stroping van die rekening van die eenheid se geheime fonds.

27 Sep. 15:20:03

Adv. Susan Wentzel SC lei Naidoo se getuienis.

Sy sê dat die plek waar Naidoo sy beëdigde verklarings afgelê het, is doodgekrap sodat dit nie duidelik kan word waar hy hom bevind nie.

27 Sep. 15:16:27

27 Sep. 15:13:33

Naidoo vra moontlike intimidasie moet ondersoek word

Naidoo getuig hy is 'n 204-getuie in verskeie sake, wat beteken hy is 'n staatsgetuie wat betrek word by die misdade maar vrywaring kan kry solank hulle die waarheid vertel.

Naidoo sê daar is in dié week ingebreek in een van sy naby familielede se huise. Dit kan dalk wees om hom te intimideer, maar dit kan ook 'n gewone misdaad wees.

Naidoo sê hy wil noem aan die kommissie. Hy sê hy kan nie dit uitskakel dat die doel daarvan is om hom te intimideer of te probeer keer om te getuig nie, aangesien die inbraak so na aan is aan die tyd wat hy nou getuig.

Naidoo vra dat die Valke dit kan ondersoek.

Zondo vra dat die Valke gevra word om dit dringend te ondersoek.

27 Sep. 15:09:55

Naidoo begin getuig

Zondo vra of Naidoo kan hoor en sê dankie dat hy bereid is om te kom getuig. Hy verduidelik dat verskeie maatreëls in plek gestel is om Naidoo te beskerm.

Naidoo bevestig om Zondo se vrae dat hy die eed afgelê het om die waarheid te praat in sy getuienis.

Naidoo getuig hy is deur ondersoekers van die Zondo-kommissie genader en versoek om te getuig voor die kommissie. Dit is weens die inligting wat hy aan kol. Kobus Roelofse van die Valke verskaf het.

Naidoo bevestig op Wentzel se vrae dat hy besef hy sal homself inkrimineer in sy getuienis.

Meer oor:  Saps  |  Politiek  |  Johannesburg  |  Staatskaping  |  Zondo-Kommissie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.