Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
OORSIG: Ace verloor hofsaak oor sy skorsing

Ace Magashule se aansoek om sy skorsing as sekretaris-generaal van die ANC tersyde te laat stel, is Vrydag in die hooggeregshof in Johannesburg met koste van die hand gewys.

Lees die hofuitspraak in .pdf-formaat hier.

Kyk die virtuele hofverrigtinge wat regstreeks uitgesaai is hier. 

  • Intussen het Magashule met sy terugvegpoging begin teen die aanklagte van bedrog, korrupsie en geldwassery wat hom in die gesig staar.

Magashule vra in hofstukke wat vandeesweek by die hooggeregshof in Bloemfontein ingedien is, dat dié hof die Vrystaatse direkteur van openbare vervolging moet verplig om die hele polisiedossier teen hom in die sogenaamde asbesdak-ouditverhoor van R255 miljoen aan hom beskikbaar stel.

LEES OOK: Magashule veg nou terug teen klagte van korrupsie

09 Jul. 10:55:28

Kollapen bevind dat Magashule se aansoek met koste van die hand gewys word.

Die verrigtinge kom tot 'n einde.

09 Jul. 10:55:05

Kollapen sê die sterk optrede teen korrupsie is in oreenstemming met die ANC se grondwet. Die model wat deur die ANC opgestel is om dit die hoof te bied, is ook in ooreenstemming met land se Grondwet en die ANC mag dit intern reguleer. Die hof is tevrede dat die besluit om Magashule te skors in ooreenstemming met die party se grondwet en die Grondwet van Suid-Afrika was, asook dat dit versigtig geneem is. Daar was geen gronde vir Magashule om Ramaphosa te probeer skors nie.

09 Jul. 10:51:36

Oor of Magashule om verskoning moet vra, het Kollapen tot die gevolgtrekking gekom daar is geen gronde om Magashule se versoek hieroor tersyde te stel nie.

09 Jul. 10:50:28

Oor die skorsingsbrief wat Magashule aan Ramaphosa gerig het, meen Magashule dat dit geldig bly totdat dit tersyde gestel is. Hy vra 'n verklarende bevel hieroor. Volgens Kollapen vereis reël 25.70 van die ANC se grondwet dat die geskorste persoon aangekla moes wees, en dit is duidelik dat Ramaphosa nie aangekla is nie. Dit is dus logies dat reël 25.70 hier nie op Ramaphosa toegepas kon word nie.

09 Jul. 10:47:20

Magashule het ook die gesag van Duarte om hom te skors, uitgedaag. Dit is egter duidelik dat Magashule nie homself sou kon skors nie omdat dit op 'n belangebotsing sou neerkom. Daarom het Duarte wel die gesag gehad om hom te skors, aldus Kollapen. 

09 Jul. 10:46:26

Oor Magashule se skorsing het hy aangevoer dat die audi alterem partem-beginsel nie toegepas is nie. Volgens Kollapen is die reël egter buigsaam en is 'n verhoor aan Magashule toegestaan voordat hy geskors is.

Hy was ook betrokke by die resolusies van die NUK wat tot die opsystaanreël gelei het. Hy het ook die geleentheid gehad om voorleggings te maak oor waarom hy nie geskors moes word nie, en hy het dit toe wel gedoen voor die integriteitskomitee en die NUK. Daarom is die audi alterem partem-beginsel wel toegepas.

09 Jul. 10:43:33

Oor die opsystaanreël het Magasule die NUK-resolusies aangeval. Hy voer aan dat die NUK-resolusies die nasionale-konferensie-resolusies gewysig en vernou het. Maar volgens Kollapen was die konferensie-resolusies egter nie bedoel om as reëls geformuleer te word nie, maar as 'n beginsel. Dit is oorgelaat aan die NUK om die prosedures en reëls te formuleer. Daarom is daar geen meriete in Magashule se argument nie, aldus Kollapen.

09 Jul. 10:41:04

Oor die argument dat reël 25.70 van die ANC se grondwet in terme van die Suid-Afrikaanse Grondwet ongeldig is, sê Kollapen die ANC kan intern sy lidmaatskap reguleer. Magashule het ook dié reël aangeval omdat dit betrekking het op mense wat aangekla is, maar nie skuldig bevind is nie. 

Volgens Kollapen het die argument slegs betrekking op 'n regsverhoor, en dis daarom misplaas. Magashule meen sy skorsing is ook 'n skending van sy waardigheid ingevolge die Grondwet. Ook dié argument is ongeldig, want anders sou geen regsgedinge aanhangig gemaak kan word nie.

09 Jul. 10:31:40

Volgens Kollapen is daar vyf kwessies in die saak voor die hof. Die eerste is of reël 25.70 van die ANC se grondwet, ingevolge waarvan Magashule geskors is, ongrondwetlik is en in konflik is met die ANC se eie grondwet. Kollapen sê Magashule se argument hieroor word van die hand gewys.

09 Jul. 10:30:30

Ramaphosa het op 10 Mei 'n verklaring voorgelees waarvolgens Magashule se skorsing bevestig is, en Duarte is as waarnemende sekretaris-generaal aangestel. Daar is ook aangekondig dat Magashule se brief aan Ramaphosa ongeldig is. Hy moes om verskoning vra omdat hy die brief geskryf het en dit onttrek. Op 12 Mei het Magashule in 'n brief aangevoer dat hy nie om verskoning sal vra nie en dat hy 'n hofaansoek sal bring.

Meer oor:  Staatskaping  |  Ace Se Skorsing  |  Politiek  |  Ace Magashule  |  Hofsaak  |  Korrupsie  |  Anc  |  Anc-Faksies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.