Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
OORSIG: Zuma praat op eerste dag 'oor sameswering teen hom'

  • Oudpres. Jacob Zuma getuig oor sameswerings en vergiftiging met sy eerste dag voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping..
  • Die spesifieke opdrag aan die kommissie wat op 25 Januarie 2018 in die Staatskoerant gepubliseer is, noem dat vasgestel moet word of Zuma “enige rol gespeel het in die beweerde aanbod van kabinetsposte aan Mcebisi Jonas en Vytjie Mentor deur die Gupta-familie”.
  • Die kommissie moet ook vasstel of "die aanstelling van enige lid van die nasionale uitvoerende gesag, funksionarisse of ampsdraers aan die Gupta-familie bekend gemaak is voordat die aanstellings formeel gemaak of bekend gemaak is".
  • Verder moet bepaal word of Zuma die Grondwet of enige toepaslike gedragskode of wetgewing oortree of geskend het deur die onwettige toekenning van tenders.
  • Die kommissie word gelei deur adjunkhoofregter Raymond Zondo.
15 Jul. 15:50:52

Die sitting verdaag tot 10:00 Dinsdag.

15 Jul. 15:50:34

Pretorius sê volgens Maseko het Ajay Gupta gesê as enige departement hom moeilikheid gee, sal hy persoonlik met enige minister afreken wat dit bevraagteken.

Zuma sê hy weet nie hoekom Ajay Gupta so sou sê nie.

Hoekom sou hulle die mag hê om aan ministers te sê wat om te doen?

Pretorius: As Ajay Gupta 'n kans gevat het, en as Maseko se getuienis waar is, het jy enige idee dat hy die hele advertensiebegroting van die regering wou kry? 

Zuma: Maseko het sy werk gedoen. Ek wil nie oor die Guptas praat nie, want ek weet nie wat tussen hulle gesê is nie.

Zondo: Sou dit ná daardie ontmoeting tussen Maseko en Gupta 'n verrassing wees as die hele begroting aan een koerant bestee is?

Zuma antwoord instemmend.

En onreëlmatig, sê Pretorius.

15 Jul. 15:45:17

Zuma sê Gupta 'het dalk net 'n kans gewaag'

Zuma se hy het nie van die vergadering geweet nie. Hy weet egter die Guptas sou in die een of ander stadium met hom gepraat het.

Pretorius belig nou die deel in Maseko se verklaring waarin hy oor die ontmoeting met die Guptas uitbrei.

Hy vra Zuma om dit deur te lees en kommentaar te lewer.

Pretorius lees voor uit Maseko se verklaring waarin die Guptas uitbrei oor hul planne om 'n koerant en televisiekanaal te stig.

Die Guptas het geweet dat staatsdepartemente R600 miljoen aan advertensies sou bestee, lui die verklaring. Die Guptas wou glo hê die hele advertensiebegroting moet na sy mediamaatskappy gekanaliseer word.

Zuma sê hy dra geen kennis daarvan nie.

Zuma wil nie kommentaar lewer daarop nie: Dit is 'n kans wat hy gewaag het, sê Zuma.

Pretorius vra of Gupta die mag gehad het om aan ministers te sê wat hulle moet doen.

Zuma vra hoekom sal hy die mag hê?

15 Jul. 15:37:28

Vrae oor Zuma-oproep

Pretorius: As daar so 'n kommunikasie was, sou daar 'n doel daarmee gewees het. Hoekom sou so 'n oproep gemaak wees?

Zuma: Daar kon redes wees. Hier kon die rede wees dat dit 'n DG is wat handel met kwessies rondom die media.

Pretorius: Verstaan ek reg as ek praat van 'n gewone oproep waarin daar gesê word dié mense moet jy help, help hulle asseblief.

Zuma: Maar, as  sulke oproepe gemaak was, sou dit wegbeweeg het van die normale prosedures? Sal dit die DG dwing om 'n verkeerde ding te doen?

Pretorius: Verstaan ek reg dat jy sê dit was 'n versoek om te help, nie om onwettig op te tree nie.

Zuma bevestig dit.

Zuma: My rol is in baie gevalle om te help fasiliteer.

Pretorius: Volgens Maseko is die oproep deur jou (Zuma) gemaak op die dag van die vergadering (met Ajay Gupta).

15 Jul. 15:31:46

Zuma se regsverteenwoordiger sê hy wil Zuma die geleentheid gee om die dokumente te lees. Die vrae of hy hierdie of daardie woorde kan onthou, is nie regverdig nie.

15 Jul. 15:28:24

Zuma ontken dat hy Ajay Gupta na Maseko stuur

Pretorius: Soos ek verstaan, was die Guptas in 2010 van plan om die New Age-koerant te stig.

Hy lees voor uit Maseko se verklaring wat lui dat hy 'n oproep van Ajay Gupta gekry het, waarin 'n bepaalde versoek aan hom gerig is.

Pretorius wil by Zuma weet of Zuma gereël het dat Ajay Gupta met Maseko praat. Zuma ontken dit.

Luidens Maseko se verklaring, wat deur Zondo voorgelees word, is 'n oproep na die president deurgeskakel en die president het gesê: "My broer, hier is die Gupta-ouens wat met jou wil praat en jou hulp nodig het. Help hulle asseblief."

Zuma sê hy het met die direkteur-generaals geskakel. Maar hy kan nie dié oproep spesifiek onthou nie, omdat hy heelwat oproepe maak.

Zuma: Wel, ek kan nie onthou nie, want ek het die DG dikwels gebel om verskeie kwessies te bespreek. Ek kan nie onthou dat ek dié oproep gemaak het nie. Maseko se departement was 'n sleutelpunt vir advertensies, so dis net natuurlik dat hulle met hom sou wou praat. Ek dink nie dis buitengewoon nie - of daar nou 'n oproep was of nie.

Zuma bevestig dat dit kon gebeur het, maar hy kan nie onthou nie.

15 Jul. 15:21:06

Pretorius: Soos ek verstaan, is die GCIS 'n departement in die presidensie belas met kommunikasie. En wanneer staatsdepartemente advertensies wou plaas, sou die GCIS bepaal in watter media die advertensies sou verskyn. Is ek reg as die staat se advertensie-uitgawes omtrent R600 miljoen per jaar was.

Zuma antwoord instemmend.

15 Jul. 15:19:10

Zuma 'kan nie onthou nie'

Pretorius: Sal jy ons meer kan vertel oor hierdie ondersoek wat begin is?

Zuma sê hy kan nie onthou nie.

Daar kon 'n verslag gewees het, maar hy kan nie onthou nie.

Pretorius vra of Zuma geweet het van die bestaan van die ondersoek, wat glo 'n interne ondersoek deur die ANC was. Zuma sê hy weet daarvan, maar weet nie wat die uitkoms was nie. As hoof van die ondersoek sou Mantashe aan Zuma terugvoer gee, sê Pretorius. Zuma sê hy kan nie mooi onthou nie. As sektretaris-generaal het Mantashe baie aan hom gerapporteer, sê Zuma.

Pretorius: Mnr. Mantashe sal gevra word oor daardie ondersoek, want dit is belangrik. Maar ons kan dit vir eers ter syde stel. Pretorius wil nou praat oor Maseko se rol by die GSIS. Hy vra of die verslag op skrif is. Zuma sê ja.

Op 'n vraag of die kommissie een of ander tyd die verslag kan sien, sê Zuma hy weet nie.

15 Jul. 15:14:20

Pretorius lees die lys van name van mense wat die dokument onderteken het en vra of enige van hulle deel is van die sameswering om van hom (Zuma) ontslae te raak.

Zuma sê die plan is saamgestel deur drie intelligensie-organisasies. Hy het nie gesê mense wat dit gedoen het, is deel van die plan nie.

Pretorius sê wat is Zuma se mening dan oor hierdie versoek deur die direkteurs-generaal vir 'n ondersoek. Is dit omdat hulle bekommerd was?

Zuma sê ja, hulle het, want hulle was bekommerd.

 

15 Jul. 15:11:08

Zuma gevra oor direkteurs-generaal se kommer

Pretorius verwys na die memorandum wat deur 26 direkteurs-generaal onderteken is, waarin bekommernis oor die Gupta-familie se betrokkenheid in staatskaping uitgespreek word.

Maseko was een van diegene wat die memorandum onderteken het.

Pretorius sê die direkteurs-generaal het 'n beroep gedoen dat 'n openbare ondersoek gedoen moet word om senior amptenare te ondersoek wat met die Guptas sake gedoen het.

Die verklaring lui verder dat die kommissie binne drie maande op die been gebring moet word.

Die ondersoek moet voorvalle van korrupsie en onwettige aktiwiteite ontbloot. As hierdie uitdagings nie aandag kry nie, kan dit 'n krisis veroorsaak wat tot 'n ineenstorting van dienslewering kan lei.

Pretorius lees verder uit die memorandum.

Meer oor:  Regering  |  Politiek  |  Raymond Zondo  |  Johannesburg  |  Staatskaping  |  Zondo-Kommissie  |  Jacob Zuma
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.