Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
OORSIG: ‘Duduzane jok oor Gupta-vergadering’

  • Mcebisi Jonas, ’n voormalige adjunkminister van finansies, het Vrydag voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping in Johannesburg getuig. 
  • Jonas het in Augustus verlede jaar ook voor die kommissie getuig.
  • Die Zondo-kommissie, met adjunkhoofregter Raymond Zondo as voorsitter, ondersoek omvangryke korrupsie in die staatsdiens, asook die betrokkenheid van politici en amptenare by staatskaping.
  • Nhlanhla Nene, voormalige minister van finansies, het Donderdag sy getuienis voor die kommissie afgesluit. Hy het getuig dat hy as minister van finansies bedank het omdat hy oneerlik was oor sy talle vergaderings met die voortvlugtende Gupta-familie, maar veral omdat dié ministerspos te alle tye bo verdenking moet bly.
  • Dr. Thibedi Ramontja, voormalige direkteur-generaal (DG) van minerale bronne, het Donderdag getuig hoe Mosebenzi Zwane as nuwe minister van dié departement hom as DG van alles uitgesluit het en selfs die Optimum-mynprojek, wat voorheen deur gewone amptenare hanteer is, in die minister se kantoor “gesentraliseer” het.
15 Mrt. 13:02:02

Zondo verdaag tot Maandag wanneer daar begin sal word met getuienis rakende Denel.

15 Mrt. 13:01:50

Mokoena sê dit is dan die einde van vandag se verrigtinge.

15 Mrt. 13:01:36

Zondo bedank dan vir Jonas en sê Hlongwane se prokureurs is nie teenwoordig vir kruisondervraging hoewel hulle in kennis gestel. "As die behoefte weer kom vir jou om weer te kom, sal ons met jou skakel."

15 Mrt. 13:01:13

Mokoena sê hy weet nie waarom Hlongwane se regspann nie vandag teenwoordig is nie. Hy sê hulle is egter vroegtydig deur die kommissie se regspan in kennis gestel dat Jonas vandag deur Duduzane en Hlongwane se regspanne gekruisondervra sou word.

Zondo: "Ons moet egter vir Jonas verskoon en as hy moet terugkom, sal ons hom in kennis stel."

15 Mrt. 13:00:11

Zondo: "Wat is die situasie met Hlongwane se regspan?"

Mokoena: "Ek het korrespondensie in die teepouse daaroor gekry."

Zondo sê dit is vreemd dat hulle die betrokke korrespondensie aan hul eie kliënt in plaas van aan die kommissie geadresseer het.

15 Mrt. 12:55:42

Zondo: "Voor die vergadering in die Gupta-huis, hoeveel oproepe het jy met Duduzane gehad?"

Jonas: "Daar was 'n paar, maar nie baie nie."

Mokoena: "Ek het geen vrae vir Jonas nie."

15 Mrt. 12:54:54

Trengove praat nou oor die Guptas se weergawe. Hulle het destyds 'n verklaring daaroor uitgereik.

Jonas: "Hulle het daarin gesê dat ek lieg omdat die vergadering nooit plaasgevind het nie."

Trengove wil nou verder oor die Guptas se persverklaring praat. "Hulle het gesê daar was geen vergadering nie. Dit was gedateer 13 Maart 2016. Dit was 'n verklaring van Oakbay Investment namens die Gupta-familie. In die middel daarvan was 'n kort paragraaf waarin hulle sê dat daar nooit enige vergadering was nie."

Jonas: "Ek sien dit."

Trengove: "My geleerde vriend het ook die Valke-generaals se weergawe aan jou gestel soos genl. Ntlemeza wat ook agter die rampspoedige vervolging van Gordhan gesit het."

Jonas: "Ja hy was."

15 Mrt. 12:51:32

Trengove: "Duduzane praat ook oor afpers-gerugte en hoe hy 'n vergadering met Jonas gereël het om dit op te klaar. Dít omdat Jonas ook wou weet by Duduzane waar die gerugte vandaan kom."

Jonas: "Dit is totaal onwaar. As hulle daaroor met my gepraat het, sou ek gesê het dit is onsin."

Trengove: "Duduzane sê ook die gerugte is bespreek."

Jonas: "Dit is onwaar. Daar was niks om te bespreek nie. Dit is nie eens genoem nie."

Trengove: "Hy sê ook julle het ooreengekom dat as daar nog kwessies opduik, sou julle dit later in opvolgvergaderings uitklaar."

Jonas: "Dit is onwaar."

Trengove: "Hy sê nie net is die afpers-gerugte opgelos nie, maar dat daar nog spanning tussen jou en Hlongwane was wat ook nog opgelos moet word."

Jonas: "Dit is onwaar."

15 Mrt. 12:47:05

Adv. Wim Trengove SC, vir Jonas, wil so 'n paar vrae aan hom vra.

Hy sê hy wil Duduzane se weergawe bespreek wat aan Jonas gestel is.

"Het Hlongwane jou ooit afgepers, het jy hom beskuldig daarvan, of van gerugte daarvan gehoor?"

Jonas: "Nee, dit is onsin. Hulle kon my net daaroor gebel het. Voor die vergadering van 23 Oktober 2015 het ek 'n dag tevore telefonies met Hlongwane gepraat. Hy het niks oor die afpers-gerugte gesê nie. Dit was 'n vriendelike gesprek. Daar was niks spanning tussen ons nie."

Trengove: "Hulle sê dan vir ons dat niks anders behalwe die afpers-gerugte in die Gupta-huis bespreek is nie."

15 Mrt. 12:42:25

Louw verwys Jonas nou na 'n polisieverklaring. Dit lui hoe Jonas aan hulle gesê het hy is nie bereid om enige verklaring aan die polisie te gee nie.

Jonas: "Dit is Mnonopi se verklaring. Ek het haar nie ontmoet nie. Dit was nadat sy my ingelig dat hulle nie kan help om die DA of Cope met die saak te help nie."

Louw: "Is dit verkeerd?"

Jonas: "Ek onthou nie."

Louw sê sy probleem is dat hy nog 'n dag of meer kan aangaan, maar dat die tyd hom ingehaal het.

Zondo: "Ons moet 'n balans hê om regverdig te wees aan alle geïmpliseerdes en dit is waarom ek jou nie gestop het toe jou tyd om was nie. In terme van belangrike dinge wat jy nog wil dek, hoeveel tyd sal jy benodig?"

Louw: "Ons wil versoek of ons die kommissie van 'n lys van kwessies kan verskaf wat ons teenstrydig vind met Jonas se getuienis en dit weer ophaal as Duduzane Zuma voor die kommissie getuig."

Zondo: "Ek is tevrede daarmee."

Louw sê dan is hy klaar. 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.