SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Politiek
OORSIG: Hoë in Vrystaatse premierskantoor getuig voor Zondo

  • Getuienis oor beweerde grootskaalse korrupsie met die Estina-suiwelprojek in Vrede in die Vrystaat word vandag deur die Zondo-kommissie van ondersoek aangehoor.
  • Die Vrystaatse regering het Estina, ’n maatskappy met Gupta-bande, meer as R300 miljoen betaal om die Vrede-suiwelplaas te bestuur. Die projek was daarop gemik om swart boere op te hef.
  • Roy Jankielsohn, van die DA in die Vrystaat, asook Albertus Venter, adjunkdirekteur van korporatiewe administrasie en koördinering in die kantoor van die Vrystaatse premier, is op die lys van getuies vir vandag.
  • Die rol wat Ace Magashule, voormalige premier van die Vrystaat, in die projek gespeel het, sal met die getuienis belig word.
  • Adjunkhoofregter Raymond Zondo lei die kommissie van ondersoek na staatskaping.
22 Jul. 17:00:43

Die kommissie verdaag. 

22 Jul. 17:00:12

Zondo sê dan hulle kan verdaag vir die dag. Die kommissie sal 10:00 Dinsdagoggend begin en tot 17:00 aangaan as dit moontlik is. 

22 Jul. 16:58:25

Venter: Behalwe die projekvoorstel, weet ek van verskeie gesprekke deur die regsadviseurs en die departement. Die inligting in die ooreenkoms kon daaruit gespruit het.

Buthelezi: Jy praat ook van 'n versoek van die munisipale bestuurder van Vrede.

Venter: Mnr. Morwebi was die munisipale bestuurder. Hy het raad gevra oor die huurooreenkoms vir die grond. Die kwessie is na Ditira verwys. Sy het 'n opinie opgestel. Hy wou weet of die ooreenkoms wat hy moes onderteken, in orde was. Dit is die huurooreenkoms.

Ons opinie was dat die ooreenkoms nie haalbaar sou wees nie as jy na MFMA- en ander regulasies kyk. 'n Munisipaliteit kan nie 'n aandeelhouer in maatskappye word nie. Ons opinie was dat dit nie 'n haalbare keuse sou wees nie. Ons voorstel was dat die munisipaliteit die grond beskikbaar kan stel aan die departement en dan huur van die begunstigdes kon verhaal. Dat Estina 'n stuk grond naby die plaas vir die prosesseringsaanleg kon koop.

22 Jul. 16:52:55

Venter: Estina was die vennoot van die Paras-maatskappy in Suid-Afrika. Die enigste wat in daardie stadium die diens kon verrig.

Zondo: Moet dit nie so gevra word nie: Wat dink jy van die stelling dat Paras Dairy die alleenverskaffer van sulke suiweldienste was?

Venter: Daar is destyds 'n ingrypingskomitee gestig waarin relevante amptenare moes verduidelik waarom sulke ouditvrae geopper word. As ek reg onthou, is dit op daardie vergadering gesê dat verskeie maatskappye in Suid-Afrika genader is vir die projek, maar dat daar geen belangstelling was nie.

Buthelezi: Nog 'n paragraaf in die ooreenkoms lui onder meer dat Estina gewillig is om die projek deur te voer. Maar hulle was 'n IT-maatskappy.

Venter: Ek weet nie of dit ondersoek is nie. As ek so 'n ooreenkoms vir kliënte moet opstel, sal ek baie huiwerig wees om so 'n ooreenkoms vir kliënt-departemente op te stel. Ek sal dit nie insluit in my regsopinie nie. Dit is ongelukkig dat dit deel van die ooreenkoms is. Dit moet nie daar wees nie.

22 Jul. 16:45:55

Buthelezi: Watter inligting het julle oor die Estina-kontrak gehad?

Venter: Daar was 'n projekvoorstel. So daardie inligting was beskikbaar, maar dit was nie aangeheg by die dokument wat onderteken is nie. Daar was 'n voorlegging wat ek gesien het dat Thabete die aanstelling van Estina goedgekeur het met 'n afwyking van die verkrygingsproses wat gemagtig was. Dit was egter nie duidelik wat die redes vir die afwyking was nie. Daar is voorskrifte van hoe daar van standaardprosedures afgewyk kan word. Ek onthou die ouditeur-generaal het ook later probleme daarmee gehad.

Zondo: So dokumente is aan julle verskaf om die ooreenkoms op te stel. Wat het die dokumente gevra?

Venter: Ek weet van 'n voorlegging vir afwyking wat goedgekeur is deur die regte owerheid, hoewel daar vrae oor die nakomingskwessies was.

22 Jul. 16:41:19

Buthelezi: Waarna kyk julle as julle die versoeke vir regsadvies oor ooreenkomste ontvang?

Venter: Ons werk met regsadviseurs in departemente. Dit is deel van ons pligte om kapasiteite uit te bou. Daar is weens dit nou groter stabiliteit in die departemente. Ons het 'n reëling met hulle dat hulle eers 'n konsepooreenkoms moet opstel met al die tenderdokumente sodat ons kan sien wat alle oorwegings vir die tender was. Dit is nou standaardpraktyk.

22 Jul. 16:39:33

Venter: Ek kan nie sê wat gebeur het voor 1994 nie. Maar kort ná die 1994-verkiesing, was daar 'n besluit in die regering om 'n sterk regseenheid in die premierskantoor te stig.  Daardie tyd het departemente nie regsadviseurs gehad nie. Die besluit was dat daar 'n sterk regskomponent in die premierskantoor was omdat die eenheid verantwoordende beamptes moes adviseer oor veral finansiële kwessies.

In 2005 het ons die verhoudinge geformaliseer oor hoe ons regsadvies aan departemente lewer. In daardie tyd het ons as regsadviseurs in die premierskantoor uitgevind dat daar in baie gevalle ooreenkomste was wat deur diensverskaffers opgestel is wat tenders gekry het. Ek het dit uitgewys aan die DG en op 'n vergadering van departementshoofde. In daardie ooreenkomste is ook vrywaringsklousule ingewerk. Ek het hulle daarop gewys dat net die LUR vir finansies 'n vrywaringsklousule kan uitreik. En dat dit misdaad is as jy nie die LUR is nie en so vrywaringsklousule in 'n ooreenkoms onderteken.

22 Jul. 16:32:44

Buthelezi: Wat het van die eerste ooreenkoms geword?

Venter: Ek dink nie dit was geïmplementeer nie. Ek weet dat Ditiri en amptenare van die provinsiale tesourie die volgende week ontmoet het. Dit was van 2 tot 6 Julie. Ek was toe op verlof.

Zondo: Net om seker te maak ek volg. Toe Ditira jou gebel het, was dit toe sy gevra is vir regsadvies oor of die ooreenkoms tussen Estina en en die departement wettig is. Sy was bekommerd daaroor. Julle het dit met die DG bespreek. Sy advies was dat jou eenheid vir die provinsiale tesourie moet vra om die ooreenkoms na julle te stuur. Is dit na julle gestuur?

Venter: Ons het vir die verdere inligting gevra nog voordat die ooreenkoms by ons aangekom het. In die week toe ek op verlof was, was daar nog skakeling tussen my eenheid, sowel as die deparement van landbou en die provinsiale tesourie. Nadat ek van verlof teruggekeer het, is ek toe ingelig dat 'n nuwe ooreenkoms opgestel is en dat dit onderteken is.

Buthelezi: Oor die tweede ooreenkoms, is dit dit een wat op 5 Julie onderteken is?

Venter: Ja. Adv. Ditira het dit onderteken. Ek kon die ooreenkoms nie ontvang nie omdat ek daardie tyd op 'n plek was waar selfoonseine baie swak was en ek nie groot boodskappe kon oopmaak nie. Die tweede ooreenkoms was om die kommer oor die R30 miljoen aan te spreek en om die weg vorentoe te baan.

22 Jul. 16:27:12

Zondo: Jy het nog van die DG gepraat toe ek iets gevra het.

Venter: Die DG het gesê dat die ooreenkoms terugverwys is na ons kantoor  vir deeglike herevaluasie. In die advies wat Ditira aan die departement geskryf het, het sy geskryf dat daar voorgestel moes word dat die ooreenkoms vir hersiening na ons teruggestuur moet word.

Ek het toe met Thabete vergader. Hy het ook 'n internasionale ooreenkoms saamgebring. Ons eenheid het toe 'n brief aan Thebete geskryf en gevra vir nog inligting voordat ons die advies saamgestel het. Die inligting wat ons gevra het, het egter nooit na vore gekom nie.

Zondo: Het dit inligting ingesluit oor of daar aan verkrygingsvereistes voldoen is?

Venter: Dit is so. Daar is geskryf oor die R30 miljoen, maar nie oor wat presies daardie geld sou doen nie. Dit was die kommer wat die tesourie geopper het.

22 Jul. 16:22:24

Buthelezi: Jy handel ook met 'n opinie wat jy aan die rekenmeester-generaal verskaf het.

Venter: Die opinie is deur my eenheid opstel. Adv. Ditira, die opsteller van die opinie, is genader deur die rekenmeester-generaal in die provinsiale tesourie. Ek was toe nie op kantoor nie.

Zondo: So iemand in jou eenheid is genader deur die provinsiale tesourie. Vir wat?

Venter: Vir advies oor die ooreenkoms tussen Estina en die departement. Ons het die DG genader en hy het geadviseer dat die tesouriekomitee daardie kontrak na ons moet terugverwys. Dit omdat daar 'n aansienlike begrotingskwessie was oor die R84 miljoen wat ons moes goedkeur. Ek het verstaan dat Ditita sekere kommer oor die ooreenkoms gehad het. Daar was daardie tyd toe ook 'n appèlhofuitspraak wat dit baie belangrik vir ons gemaak het dat enige ooreenkoms wat ons voorberei het ooreengestem het met die verkrygingsprosesse. Ek weet nie wie die ooreenkoms opgestel het nie. Dit is net na ons kantoor verwys.

Meer oor:  Vrystaatse Regering  |  Estina  |  Politiek  |  Zondo  |  Roy Jankielsohn  |  Johannesburg  |  Staatskaping  |  Zondo-Kommissie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.