Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
OORSIG: Sakeman 'nié betrokke by geldwassery' hoor Zondo
  • Die miljoenêr Vivien Natasen, eienaar van Neo Solutions, getuig voor die Zondo-kommissie oor die staatstenders wat hy bekom het.
  • Natasen se getuienis skakel in by die ondersoek wat die kommissie doen oor korrupsie in die lugvaartbedryf.
  • Die Zondo-kommissie van ondersoek, onder leiding van adjunkhoofregter Raymond Zondo, ondersoek wydlopende bedrog en korrupsie in die staatsdiens.
12 Jul. 14:09:04

12 Jul. 14:08:04

Vivien Natasen getuig verder.

Hy sê die eerste keer toe hy agtergekom het Brian van Wyk, voormalige hoof van SA Express, se geld wat in Natasen se besigheidsrekening inbetaal is, is verdag, was toe Van Wyk se sake ondersoek is.

12 Jul. 13:03:38

Die sitting verdaag vir middagete.

12 Jul. 13:03:24

Hofmeyr sê Van Wyk het genoem dat daar leefstyloudits is en hy verkies dat die R10 miljoen in Natasen se bankrekeninge inbetaal word.

Zondo sê in 'n tyderk van korrupsie vra Van Wyk dat die geld in Natasen se bankrekenings inbetaal word. Hoekom sal dit 'n probleem wees as die geld op behoorlike en eerlike manier bekom is? Waarom was dit 'n probleem vir hom om die geld in sy eie rekening te hou?

Natasan sê dis 'n regverdige vraag. Van Wyk het dit so voorgestel. Hulle was besig om saam as sakevennote te begin werk. Hy het dit gesien as Van Wyk se aandeel in hulle toekomstige besighede saam.

Zondo sê maar as Van Wyk verwys na iets soos leefstyloudits, moes Natasen nie eerder geantwoord het waarom praat jy oor leefstyloudits nie?

Natasan sê hulle het begin vriende word. Van Wyk het gereeld so teen 15:00 by die kantore van Neo Solutions aangekom. Hy het nooit by Van Wyk aan huis gekuier nie.

Natasan sê Neo Solutions het gewerk aan 'n nuwe besigheid; daar was 'n plan dat Van Wyk en Neo Solutions 50/50-vennote sou wees.

12 Jul. 12:55:17

Jaloesie oor R10 miljoen vir SA Express-werker

Natasen sê hy het spesifiek vir Van Wyk gevra of die geld afkomstig is van SA Express of van die staatsdiens. Hy het ook gevra of die geld "skoon" is.

Hofmeyr vra hoekom het Natasen spesifiek die vrae gevra. Hy antwoord want Van Wyk was in daardie stadium 'n staatsamptenaar, daarom wou hy weet of dit nie geld is wat Van Wyk daar gekry het nie.

Natasen sê Van Wyk het dit duidelik gestel dat die geld nie afkomstig is van SA Express nie.

Hy het Van Wyk gevra en hierop het Van Wyk geantwoord hy het die geld uit 'n ander besigheid gemaak maar wil nie hê sy kollegas by SA Express moet weet daarvan nie, want hulle sal jaloers raak.

Zondo sê maar hoekom jaloesie? As dit sy geld was, het dit niks met hulle te doen nie en as hulle jaloers was, wat daarvan?

12 Jul. 12:50:31

Só vloei geld na sakeman se rekening

Hofmeyr verwys nou na twee betalings vanaf Koroneka Trading na dié van Neo Solutions in opdrag van Brian van Wyk.

Die betalings is op 11 en 12 November 2015 gemaak toe daar onderskeidelik R5 miljoen en R4,9 miljoen in Neo Solutions se bankrekening betaal is.

Hierna is daar bedrae uit Neo Solutions in die bankrekening van Batsumi Investment Holdings betaal.

Daar is altesaam R9,9 miljoen in Neo Solutions se bankrekening betaal en daar is R9,6 miljoen oorbetaal aan Batsumi Investment Holdings  Daar is ook R300 000 in kontant aan Van Wyk betaal.

Natasen getuig nou oor sy sakeverhouding met Van Wyk. Hulle is deur 'n werknemer van Neo Solutions aan mekaar voorgestel. Van Wyk was 'n sakeman en hy het laat blyk dat hy nie lank by SA Express gaan wees nie; hy hou nie juis van die openbare sektor nie.

Natasen sê hy en Van Wyk het goed oor die weg gekom. Hy het hulle selfs as toekomstige sakevennote gesien.

Van Wyk het gevra of Neo Solutions betalings wat hy sou kry uit ander sakebelange in Neo Solutions sou betaal. Van Wyk het gesê hy gaan 'n betaling van R10 miljoen kry.

Natasen sê hy het self in die tyd toe hy en Van Wyk oor sake gesels het, betrokke geraak by boerdery en die verspreiding van landbouprodukte. Hy het Van Wyk as 'n toekomstige sakevennoot hierin ook gesien.

Natasen sê hy het ingestem dat hy Van Wyk sal help dat die geld in Neo Solutions se rekening inbetaal sal word. Hy het Van Wyk vertrou en hulle was vriende.

12 Jul. 12:34:08

Sakeman se regsverteenwoordiger sê die kommissie probeer hom in slegte lig stel

Natasen sê hy is baie betrokke by die werk van Neo Solutions in die veld, al is hy die enigste aandeelhouer, uitvoerende hoof en enkele direkteur van die maatskappy.

Natasen verwys daarna dat daar geen fakture was vir die geld wat van Brian van Wyk ontvang is nie. Maar hy noem dit net as 'n moontlike voorbeeld. Hy het eers gedink daar is fakture, maar het later besef daar is nie. Daarom is daar verskille in sy beëdigde verklarings. Soos wat hy meer inligting gekry het, het hy nuwe beëdigde verklarings daaroor gemaak.

Hofmeyr sê die probleem wat daar is, is dat Natasen verskeie beëdigde verklarings het waarvan die inligting verskil. Moet die nuutste beëdigde verklarings dan aanvaar word indien dit meer of ander inligting bevat as vorige verklarings?

Natasen se regsverteenwoordiger, Andre Pienaar, tree weer tussenbeide en sê wanneer mens 'n verklaring onderteken staan daar dat jy dit volgens jou bes doen. Hy sê Hofmeyr probeer weer uitmaak dat Natasen nie eerlik is nie.

Zondo sê Pienaar moet notas maak van al sy klagtes wat hy dan later kan opneem. Pienaar sê hy het nou die objeksies en wil dit nou op rekord kry.

Pienaar sê Hofmeyr se manier van vrae stel laat sy kliënt in 'n slegte lig.

Zondo sê Hofmeyr help hom om by die waarheid uit te kom. Hy sien nie enige probleem met die vrae nie.

Pienaar sê maar as Hofmeyr net toegelaat word om al haar vrae te vra, sal die skade reeds gedoen wees.

Zondo sê hy let ook daarop dat daar nie onregverdigheid is nie en dat Pienaar nie die verrigtinge so baie onderbreek nie, anders gaan hulle nêrens kom nie.

Pienaar sê maar dit is 'n ernstige kwessie. Hy kan sien in watter rigting Hofmeyr se vrae gaan, maar Natasen besef dit nie, daarom moet hy inmeng om sy kliënt te beskerm.

12 Jul. 12:19:36

Hofmeyr wys uit dat Natasen gesê het met sy ontmoeting met lede van die kommissie is hy onregverdig behandel want hy het nie regskennis nie. Natasen het ook aangevoer dat hy nie ingelig is hy kan sy regsverteenwoordigers betrek nie.

Hofmeyr vra of dit vals is, want hy is ingelig hy kan regsverteenwoordiging kry. Natasen bevestig hy het 'n vals verklaring gemaak hieroor.

12 Jul. 12:11:33

Hofmeyr wys aan Natasen uit hy noem in sy beëdigde verklaring dat hy twee keer met die kommissie se ondersoekspan vergader het, maar dit was drie keer.

Natasen se regsverteenwoordiger vra waarom sy kliënt so ondervra word. Is dit om onsekerheid oor sy eerlikheid te saai?

Zondo sê dit is belangrik dat die feite reggestel word voor die kommissie. Hy sê daar is niks verkeerd in die stadium nie.

12 Jul. 12:03:58

Die kommissie het vir nog 'n paar minute verdaag en gaan nou weer voort met Natasen se getuienis.

Meer oor:  Sal  |  Politiek  |  Johannesburg  |  Staatskaping  |  Zondo-Kommissie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.