Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
OORSIG: Magashule-man hanteer kontrak vir Estina-melkplaas, hoor Zondo
  • Die voormalige finansiële bestuurder van die Phumelele-munisipaliteit, waar die Vrede-melkplaas geleë is, het Dinsdag voor die Zondo-kommissie getuig.
  • Moses Moremi het getuig toe hy nié die huurkontrak met die vorige Vrystaatse premier, Ace Magashule, se gesant (Ashok Narayan) wou onderteken nie, is hy bedrieg deurdat hy onwetend 'n ekstra klousule in 'n ooreenkoms onderteken het wat die munisipale grond aan die Vrystaatse regering oorgedra het. Hierna het die Vrystaatse regering die 99-jaar-huurkontrak met Estina aangegaan.
  • Die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping, onder leiding van adjunkhoofregter Raymond Zondo, fokus dié week steeds op die Vrede-melkplaas.
13 Aug. 13:16:20

Die beskikbaarheid van 'n getuie wat Woensdag moet getuig, moet nog gefinaliseer word.

Daar moet nog gefinaliseer word of daar Woensdag 'n sitting sal wees afhangend van dié getuie, sê Zondo.

Dit sitting verdaag vir Dinsdag.

13 Aug. 13:12:34

Moremi voltooi sy getuienis.

13 Aug. 13:09:47

Estina het nie net die plaas nie, maar eintlik die hele dorp gehuur

Moremi getuig daar is druk op hom geplaas om 'n ooreenkoms met die Vrystaatse departement van landbou te onderteken vir die gebruik van die plaas.

Die burgemeester, John Motaung, het aan Moremi gesê indien die grondgebruik-kontrak nie gesluit word nie, sal die beleggers nie voortgaan om in die projek te belê nie.

Die ooreenkoms is dringend, het Moremi besef, en dit onderteken.

Moremi getuig hy was nie bewus daarvan dat die plaas met dié ooreenkoms aan die provinsiale regering oorgedra sou word nie. Hy het daarna in die media gelees dat die eienaarskap van die plaas aan die provinsiale regering oorgedra is en dat die provinsiale regering die huur van Estina sou invorder.

Hy het eers later besef dat die ooreenkomste wat hy onderteken het, 'n klousule bevat het wat die eienaarskap van die grond in der waarheid aan die provinsiale regering oordra.

Die Vrystaatse landboudepartement het nadat hy die eienaar van die grond geword het, die 99-jaar-huurkontrak met Estina aangegaan - die huurkontrak wat Moremi nie wou onderteken tussen die Phumelele-munisipaliteit en Estina nie.

Dié huurkontrak tussen die Vrystaatse regering en Estina het nie net die plaas nie maar ook die Vrede-dorp en die Thembalihle-woonbuurt ingesluit.

13 Aug. 12:45:45

Moremi getuig hy is in Februarie 2014 weg by die Phumelele-munisipaliteit.

13 Aug. 12:29:40

Magashule-gesant hanteer huurkontrak vir Vrede-melkplaas

Moremi getuig nou oor 'n e-pos wat op 18 Julie om 14:14 van Ashok Narayan ontvang is.

Hierin skryf Narayan oor die paar kwessies wat hy wil uitklaar. Eerstens die aandele wat na die munisipaliteit en plaaslike inwoners sou gaan - dit is gewone aandele en nie voorkeuraandele nie.

Die munisipaliteit sal aandele kry in ruil vir die huurinkomste. Die grondbelasting en ander munisipale heffings sal deur die munisipaliteit betaal word omdat die munisipaliteit aandele kry in die projek in ruil hiervoor.

Die huurkontrak sal vir 99 jaar geld.

Moremi antwoord nou op 'n vraag van Zondo dat die huurkontrak met die vorige vier huurders (boere van die omgewing) nog bestaan het terwyl die nuwe huurkontrak aangegaan is vir die Vrede-suiwelprojek.

Moremi getuig hy het dit uitgewys dat daar 'n bestaande huurkontrak met die vier plaaslike boere was. Dit is op 1 Oktober 2011 aangegaan en sou geld tot 30 September 2013.

Zondo vra weer hy wil weet wat die haas was?

Moremi sê hy weet nie.

Moremi getuig op dieselfde dag, 18 Julie, het hy aan Narayan 'n e-pos gestuur dat hy die mening van die nasionale tesourie asook die regsmening van die staatsprokureurs gevra het oor die huurkontrak. Hy het die e-pos ook aan Rockman gestuur - dit is omdat sy hom vantevore oor die delegasie van Indië ingelig het.

13 Aug. 12:05:47

Magashule-gesant wil hê huurkontrak moet blitsig onderteken word

Moremi getuig nou oor 'n vergadering wat Ashok Narayan in Vrede met hom kom hou het.

Narayan het 'n harde kopie van die huurkontrak vir die Vrede-melkplaas gebring sodat Moremi dit moes onderteken.

Moremi getuig hy het voor die besoek van Narayan 'n oproep van Elsabé Rockman, voorheen direkteur-generaal in die kantoor van die Vrystaats premier Ace Magashule, ontvang dat daar 'n afvaardiging van Indië af na hom sal kom. Sy het genoem dat Vrede 'n klein munisipaliteit met 'n klein begroting is en indien hy vrae het oor die regskwessie van die huurkontrak, moet hy nie die saak verwys na private regsverteenwoordigers nie - indien hy vrae het sal sy dit verwys na die provinsie se staatsprokureurs.

Adv. Buthelezi wys aan Moremi uit dat Narayan 'n gesant was van Magashule en dat Magashule vir Narayan in 2012 aangestel het as raadgewer.

Zondo sê wat hy nie verstaan nie, is dat die mense net opdaag met 'n huurkontrak en van hom verwag om dit te onderteken. Ook dat die burgemeester deel is van die groep mense wat verwag dat daar met 'n ooreenkoms by Moremi opgedaag word en daar van hom as finansiële hoofbeampte verwag word om dit bloot goed te keur en te onderteken sonder om die inhou van die ooreenkoms na te gaan.

Moremi getuig die afvaardiging het voor hom gesit. Moremi het blitsig deur die huurooreenkoms gegaan en dadelik 'n paar kommerwekkende punte opgetel wat hy genoem het. Narayan het nota's geneem van die probleme wat Moremi uitgewys het.

13 Aug. 11:51:15

Zondo vra vrae oor hoekom sake altyd so 'dringend' afgehandel moes word

Moremi getuig in die konsep resolusie wat die Phumelele-stadsraad gegee is om te oorweeg, is aangedui dat Estina 4 400 hektaar grond sou huur. Dit sou egter beteken dat die huurkontrak die hele dorp van Vrede asook die Thembelihle-woonbuurt sou insluit.

Moremi het gesê dat hy die raad ingelig het om nié die resolusie goed te keur nie. Die grond wat as landbougrond te huur was, was slegs 3 300 hektaar.

Zondo sê hy kan nie die dringendheid verstaan nie. daar was 'n gewone raadsvergadering maar die afvaardiging het ingekom en die projek voorgestel. Daar moes toe as 'n saak van dringendheid besluit word oor die verhuring van die grond.

Zondo sê hy het Maandag getuienis gehoor van 'n amptenaar dat sy onder druk geplaas is om 'n R30 miljoen tjek te reël wat ook as 'n saak van dringendheid gedoen moes word.

Zondo herhaal hy kan nie die dringendheid verstaan om sake so vinnig te wil deurdruk nie.

13 Aug. 11:37:59

Stadsraad besluit eensklaps dat grond gebruik gaan word vir melkplaas-projek

Moremi getuig nou oor 'n raadsvergadering wat in Junie 2012 gehou is deur die Phumelele-munisipaliteit. Die Vrystaatse departement van landbou het dié dag ongenooid in Vrede opgedaag en by die raadsvergadering 'n aanbieding gehou. Die aanbieding was nie vooraf op die agenda aangedui nie, dit is egter wel toegelaat.

Daar was geen dokumentasie voor die munisipale vergadering oor die projek nie. Die groep mense het opgedaag en hul aanbieding gemaak, waarna die munisipale raad daaroor gestem het.

Moremi sê Peter Thabethe, voormalige departementshoof van die Vrystaatse departement van landbou, het die oggend opgedaag, die aanbieding is voor die aanvang van die gewone sake van die raadsvergadering gemaak, en die afvaardiging het weer padgegee.

Adv. Zinhle Buthelezi, getuienisleier, sê 'n vorige getuie, Ephraim Dlamini ('n kleinboer van Vrede), het aangevoer dat die LUR van landbou en ander amptenare het die raadsvergadering gekaap, wat sê Moremi daarvan.

Moremi antwoord hy sal nie die woord 'gekaap' gebruik nie, maar volgens prosedure word daar 'n kennisgewing uitgestuur twee dae voor 'n raadsvergadering, hulle kry die agenda's van wat bespreek gaan word en die dag se sake word ingevolge daarvan afgehandel. Dit is nie so gedoen met die aanbieding van die melkplaas-projek nie.

Buthelezi vra aan Moremi hoekom hulle toegelaat het dat die afvaardiging hul voorlegging maak in die raadsgevrgadering. 

Moremi sê die afvaardiging het opgedaag en hulle is die kans gegee om hul sê te sê.

Zondo sê dit is ietwat van 'n onregverdige vraag deur adv. Butehlezi. Hy vra hoe die vergadering gewerk het en hoe dit moontlik is dat die raad so vinnig 'n besluit kon neem sonder dat daar werklik enige vrae deur hulle gevra is soos hou lewensvatbaar die Vrede-melkplaas sou wees. Hulle het nie eers tyd gevra om daaroor na te dink nie.

Moremi sê dit is korrek want niemand het 'n afskrif van die aanbieding gehad nie. Gewoonlik behoort mens formele dokumentasie te hê asook 'n formele voorlegging wat voor die tyd gehou is. Dit was 'n besluit wat geneem is bloot op die aanbieding wat daar gedoen is.

Zondo vra of iemand dalk vooraf geweet het van die afvaardiging.

Moremi sê hy maak die afleiding dat daar vooraf met die burgemeester (Tlokotsi John Motaung) hieroor onderhandel is, want niemand kom tog in op jou gebied en neem net oor nie. Die burgemeester moes vooraf geweet het, maar dit is beter dat hy daaroor kom getuig, sê Moremi.

"Dit is beslis nie die gewone manier waarop besluit geneem word deur die stadsraad nie," sê Moremi.

13 Aug. 11:17:36

13 Aug. 11:15:37

Zondo sê vorige trust wat Vrede-grond gehuur het, moet ook ondersoek word

Zondo sê dit is vreemd dat die trust in 1993 gestig is. Die plaas is verhuur, maar was daar enige bewyse van 'n inkomste wat uit die verhuring gekry is?

Moremi sê dit is juis hoekom hy meer besonderhede oor die plaas gevra het, want daar was geen rekord van enige inkomste uit die verhuring nie. Daar was wel 'n inkomste van R8 miljoen toe die trust ontbind is en 'n veiling op die plaas gehou is van al die los bates soos sie implemente en vee.

Moremi kon nooit uitvind wie die trustees was nie.

Zondo sê die saak kan nie net so gelos word nie, daar moet ondersoek gedoen word of daar korrupsie was met die verhuring van die plaas. Dit is die taak van die kommissie om enige korrupsie te ondersoek.

(Zondo het vroeër in die verrigtinge gevra of die grond aan die trust verhuur is in die tyd toe dit 'n wit stadsraad was. Moremi het gesê dit is reg.)

Meer oor:  Staatskaping  |  Estina  |  Vrede-Melkplaas  |  Zondo-Kommisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.