Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
OORSIG: Zondo wil weet wat Valke gedoen het met Prasa-ondersoek

  • Popo Molefe, oud-voorsitter van die Prasa-raad, sluit sy getuienis af voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping.
  • Hy getuig dat daar 'n veldtog begin is teen die Prasa-raad nadat die raad onder sy voorsitterskap in November 2014 vrae gehad het oor die toekenning van 'n kontrak van R2,4 miljard.
  • Die kommissie, onder leiding van adjunkhoofregter Raymond Zondo, ondersoek staatskaping in die tyd toe oudpres. Jacob Zuma aan die stuur van die regering was.


30 Jun. 17:01:41

Zondo sluit die sitting af deur te sê hy soek meer getuienis oor wat die Valke gedoen het aan die Prasa-ondersoek.

"Dit is 'n klomp geld wat betrokke is," sê Zondo.

Wanneer 'n saak te lank draai, verdwyn dit. Geld raak ook intussen weg, sê Zondo.

Die sitting verdaag tot Woensdag om 10:00.

30 Jun. 15:28:56

Adv. Vas Soni behartig Ngoye se getuienis.

Sy getuig oor Mario Ferreira, hoof van Siyangena Technologies, wat kontrakte van miljarde rande met Prasa verkry het, en die verhouding tussen Siyangena en Lucky Montana, in daardie stadium uitvoerende hoof van Prasa.

Soni sê daar gaan vir die volgende twee dae getuienis aangebied word oor die verhouding tussen Siyangena en Montana volgens wat Ferreira daaroor gesê het in teenstelling met wat dokumentêre bewyse van die verhouding wys.

30 Jun. 15:08:48

Martha Ngoye, hoof van Prasa se regsafdeling, getuig.

Sy het vantevore getuig en gaan voort daarmee.

30 Jun. 15:06:08

Die sitting begin weer na middagete.

30 Jun. 13:59:06

Was Montana met 'n doel as Prasa-hoof daar geplaas? vra Molefe

Daar is 'n algemene draad wat die beëindiging van Montana se kontrak verbind met die aanval op die Prasa-raad en die minister van vervoer wat nie wou toelaat dat die raad 'n nuwe groephoof van sy keuse aanstel nie maar 'n eie kandidaat voorstel, volgens Molefe.

Daarna voer die minister aan dat die Prasa-raad hom by haar werk inmeng. Die minister stop nie daar nie en sê sy het die nuwe waarnemende uitvoerende hoof gevra om die Prasa-raad te ondersoek en te kyk of hulle beste praktyk volg, wat in der waarheid beteken dat die raad onder administrasie van die minister geplaas word, getuig Molefe.

Hierna volg 'n reeks vergaderings van die parlement se portefeuljekomitee oor vervoer, waarop die Prasa-raad aangeval is.

"'n Mens het te make met 'n gekoördineerde veldtog," sê Molefe.

Hierna hou die president (oudpres. Jacob Zuma) 'n vergadering waarop hy vra dat Montana teruggebring word, want Montana sê hy is die beste.

Molefe getuig hierna dat die president dan aanvoer dat die raad onder sy voorsitterskap niks weet nie, verdeeldheid skep en met die bestuur van Prasa baklei. Jeff Radebe en die president hou 'n vergadering en Montana word toegelaat om 'n lang toespraak te hou oor hoe sleg die Prasa-raad is.

Hierna sê die minister (Peters) aan die Prasa-raad, staak jul ondersoeke.

"Al die optrede wys dat sekere individue of 'n groep individue beskerm word," volgens Molefe. 

Die minister is ontevrede omdat sy truuks nie werk nie en ontbind die Prasa-raad.

“Maar dit eindig nie daar nie, ons het die regering en die regerende party en sekere hoë amptenare. Wanneer 'n mens na alles kyk, wys dit op korrupsie en dat niemand die planne omver wou gooi nie, ongeag hoeveel ellende dit die arm mense van die land veroorsaak – die arm pendelaars van die land – met miljarde rande wat geplunder word.

"Die goeie mense is oorweldig deur die vrot appels, soveel so dat die vrot appels meer mag as hulle het.

"Dit sê vir ons die demokrasie, waarvoor so baie mense so duur betaal het, word ondermyn. Om daarin te misluk om die kwessies te hanteer, beteken dat dit kan lei tot 'n outokratiese mag in die land waar die Grondwet en die openbare verteenwoordiging van die mense nie meer iets beteken vir die armes van die land nie.

"Staatskaping het gebeur en sleutelmense in die regering is gekaap. Alles het begin toe Montana se kontrak as groepshoof van Prasa tot 'n einde gekom het.

"Was Montana daar geplaas met ’n doel, anders as om die allerbelangrike taak te verrig om Prasa te bestuur?" wou Molefe weet.

30 Jun. 13:40:54

Molefe som sy getuienis op

Molefe sê 'n aantal sleutelkwessies is in sy getuienis uitgelig.

Daar is verwys na die verslag "Prasa in Turmoil", wat as bewysstuk ingedien is.

In die bewyse wat gebruik is, word genoem wat die ministers en die speaker daaraan gedoen het.

“Wanneer 'n mens kyk wat gebeur het, het alles begin toe die Prasa-raad in November 2014 oor die kontrak van R2,4 miljard vir die modernisering van die Braamfontein-depot en die aankope van spoorwegtoerusting gevra het.

"Die raad is gevra om die kontrak goed te keur omdat die uitgawe dringend was. Die raad het egter sy werk gedoen om seker te maak of die tender behoorlik toegeken is. Die tender moes hierna gekeer word omdat die tender onbehoorlik was," volgens Molefe.

Montana het hierna aan die Prasa-raad gesê hy gaan nie langer aansoek doen om die groephoof te wees van Prasa wanneer sy kontrak ten einde loop nie. Die Prasa-raad het aanvaar dat Montana met sy werk gaan klaarmaak.

Montana het egter baie besig geraak daarna en met allerlei organisasies kontak gemaak om deel te wees van 'n veldtog wat sou aanvoer dat Montana as groephoof moet terugkeer. Montana was direk daarby betrokke, sê Molefe.

30 Jun. 13:17:03

Maar waar is die lokomotiewe en die miljarde rande? vra Molefe

Molefe getuig daar is steeds miljarde rande wat die regering nog nie teruggekry het van die Prasa-kontrak met Swifambo nie.

Hy weet nie waar die lokomotiewe is wat reeds afgelewer is of dié wat dalk steeds in Barcelona moet wees nie.

Selfs nadat 'n hofbevel verkry is om die kontrak vir die lokomotiewe ongeldig te verklaar, het daar niks verder gekom daarvan om die geld terug te kry nie.

In daardie stadium is R2,6 miljard betaal vir 13 lokomotiewe wat afgelewer is.

“Wat gedoen moet word, is die lokomotiewe moet teruggestuur word en die geld daarvoor moet terugbetaal word,” sê Molefe.

Hy getuig dat Mkhacani Maswanganyi, wat Dipuo Peters as minister van vervoer opgevolg het, gesê het die lokomotiewe is reg en moet gebruik word, selfs ten spyte daarvan dat 'n hof die teendeel bevind het.

“Dit is die tipe ding wat ons moes hanteer het,” sê Molefe.

30 Jun. 13:00:09

Die president moet tog vra wat gaan hier aan, Zondo

Zondo sê dit is die president se plig om te vra hoekom dit nodig is vir die Prasa-raad om hof toe te gaan nadat die Valke nie 'n saak wou ondersoek nie – soos in die geval wat Molefe gedoen het.

Die president behoort die minister van polisie te vra asook die minister van vervoer oor wat in hul departemente aangaan.

Die kabinet behoort hierin belang te stel, die parlement behoort belang te stel hierin, die party behoort belang te stel hierin.

Is die manier om korrupsie te ondersoek die rede waarom mense hul werk doen op die manier wat hulle dit gedoen het?

"Dit is kommerwekkend, baie kommerwekkend. Dit is nou vyf jaar later en nie veel is gedoen aan die sake nie," volgens Zondo.

30 Jun. 12:33:50

Valke het nie Molefe se bewerings oor Prasa ondersoek, hoor Zondo

Molefe getuig oor sy frustrasie dat die gebeure by Prasa nie ondersoek is deur wetstoepassers nie.

Hy verwys na die Valke en sê daar is 'n groot aantal ware professionele ondersoekbeamptes in die direktoraat vir prioriteitsmisdade, maar elke keer as hulle hul tande wou inslaan in 'n saak, is hulle vervang deur sekere trawante.

Hy verwys na die geval van Anwa Dramat wat verwyder is en vervang is deur Berning Ntlemeza.

“Daar was 'n doelbewuste verbrokkeling van die stelsel. Dit het ook in die polisie en nasionale vervolgingsgesag gebeur," getuig Molefe.

Hy sê betrokkenes moet voor die kommissie geroep word om antwoorde te kom gee.

Zondo sê dit is een van die rigtings wat die kommissie ondersoek, maar hy is nie seker of die ondersoekers al bewus gemaak was van die inligting oor Prasa wat aan die Valke gegee is nie.

Molefe getuig die Valke het, so ver hy weet, nie 'n behoorlike ondersoek gedoen na sy klagtes oor Prasa nie. 

30 Jun. 12:09:52

Sakevrou bedank 'Dear Comrade Happy' vir inligting oor projekte

Die volgende dag (17 Desember 2013) stuur Gomes 'n e-pos terug aan Montana. Sy begin met: Dear Comrade Happy…

Sy sê Montana se e-pos is goeie hulp ten opsigte van die treinspoor-aangeleentheid. Sy gaan 'n vergadering hou met die vise-president van die bank in Sandton teen 16:00 daardie dag oor hoe om vorentoe te gaan. Indien Montana daar wil wees, kan hy saamgaan. Indien nie, sal sy hom later sien, want “ons man is heeltemal desperaat”.

Vasi vra Molefe is dit regverdig om te sê dat Gomes antwoord op Montana se e-pos.

Zondo vra of "Dear Comrade Happy" dalk 'n ander naam is vir Montana waarvan Molefe weet.

Molefe sê die tweede e-pos is baie duidelik in antwoord op die inligting wat Montana op 16 Desember 2013 gestuur het.

Molefe getuig ook verder as 'n mens kyk na ander inligting wat voorheen voor die kommissie geplaas is, is dit so dat Gomes klaarblyklik in 'n ander gesprek gesê het dit is 'n groot projek en dat “die beweging” 10% van die waarde van die kontrak moet kry.

Meer oor:  Prasa  |  Kommissie Van Ondersoek  |  Zondo  |  Popo Molefe  |  Johannesburg  |  Zondo-Kommissie  |  Staatskaping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.