Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
OORSIG: Ramaphosa praat oor 'Die Stem', Bosasa, grond en EFF-skenkings
  • Pres. Cyril Ramaphosa het vrae in die parlement oor onder meer Bosasa, 'Die Stem', werkloosheid, grondhervorming en die vervreemding van minderheidsgroepe beantwoord.
  • Hy het gesê daar is baie Afrikaners wat al na hom gekom het en saamwerk om eenheid tussen die gemeenskappe van Suid-Afrika te verbeter.
  • Ramaphosa het ook verduidelik hoe die geldinsameling vir 'n interne veldtog in 'n politieke party werk soos met sy CR17-veldtog.
22 Aug. 16:52:37

Baie Afrikaners wil help om een verenigde nasie te wees, sê Ramaphosa

ANC-LP vra opvolgvraag. Watter rol kan verkose lede van minderhede speel om die vrees waarvan Mulder praat, te besweer?

Ramaphosa: Dit is 'n baie belangrike punt. Dr. Mulder in die gesprekke wat ons sal hê, moet ons daardie vraag hanteer. Oor watter rol mense kan speel om maatskaplike geregtigheid in die land te verseker en om te sorg dat almal gelyk behandel word. Watter rol ons kan speel om ons as nasie te omarm.

Ek het met talle Afrikaners gepraat wat wil help dat ons een, verenigde nasie kan wees as almal bydra. Hulle is deel van verskeie projekte om die wonde van die verlede te genees. Dit is vir my die belangrikste vraag.

Die laaste aanvullende vraag word nou gevra deur 'n ACDP-LP wat sê sy party is erg bekommerd oor die verdeeldheid tussen rasse wat al hoe erger in die land raak. Is daar nie baie meer wat ons kan doen om die wonde van die verlede te genees nie?

Ramaphosa: Ek stem saam. Godsdiensleiers het 'n groot rol in dié verband soos hulle dit onder apartheid gedoen het.

Hulle was aan die voorpunt om gewondes te behandel en om oorledenes te begrawe.

Hulle het die proses gelei vir die Vredesverdrag van die laat 1980's en vroeë 1990's. Ons moet hulle weer betrek in 'n proses van morele hernuwing.

Op regeringsvlak het ons 'n beraad gehou waar ons verskeie Godsdiensleiers bymekaar gebring is en ons sien die belangrike rol wat sulke leiers in die proses kan speel. Ek is bly om te hoor dat die ACDP ons gaan help daarmee. Baie dankie.

Modise sê dit is die einde van die vraesessie.

22 Aug. 16:45:41

Ramaphosa ondersteun 'Die Stem' as deel van 'Volkslied'

EFF-LP vra opvolgvraag. Sy wil weet waarom "Die Stem" nog deel van die volkslied is.

Ramaphosa: Eenheid beteken nie dat ons die ongeregtighede van die verlede moet vergeet nie. Dit wil ook hê dat ons iets transformerend daaraan moet doen.

Transformasie moet beteken dat ons voorheen benadeeldes bevorder.

Ons moet na almal se bekommernisse luister.

Die kwessie van "Die Stem" wat deel is van ons volkslied, is waarby ons by uitgekom het as 'n simbool om die nasie te bou.

Daar moet kompromisse aangegaan word. Ons nasionale volkslied bestaan uit vier verskillende tale. Dit verteenwoordig wat ons as 'n nasie is. Ons moet dit wat ons wat ons verenig, omarm en dit wat ons verdeel, verwerp.

Malema stel 'n punt van orde: Ons praat nie van Afrikaans nie. Ons praat van "Die Stem" wat in apartheid onder die vlag gesalueer is. Dit is wat moet gaan. Dit is "Die Stem" wat moet uit, sê hy in Afrikaans.

Ramaphosa: Ons is nog besig met 'n nuwe reis en ons moet mekaar leer verstaan en omarm. Ons is van verskillende streke in die land en is divers en dit is wat ons laat uitstaan bo enige ander nasie ter wêreld. Ons moet dit behou. Maar terselfdertyd moet ons transformeer en die dinge uit die verlede wat ons verdeel, uitskakel.

22 Aug. 16:39:49

Ramaphosa sal praat oor minderheidsgroepe

Dr. Corne Mulder, VF PLus-LP, sê hulle is gereed om met Ramaphosa oor die kwessie te praat. Dit hang ook af wat jy as president doen om eenheid te bevorder, soos die Grondwet sê.

Vorige ANC-leiers was meer besorg oor eenheid in die ANC as dié in die land, sê hy.

Ndlozi sê Modise moet almal gelyk behandel word en vir Mulder vra wat sy vraag is. Modise sê Mulder moet sy vraag vra.

Mulder sê hy het twee minute. Modise sê dit is so en dat hy sy vraag moet vra. 

My vraag is Ïn jou laaste antwoord het jy gesê dat jy oop is vir gesprekke oor die Ingonyama-trust. Is jy bereid om dit ook te doen met minderhede wat vervreemd voel?

Ramaphosa: Ja dit was interessant om die stryd tussen die twee doktors te sien. Dr. Ndlozi en dr. Mulder. Dit was fassinerend.

Ja, ek is bereid om met vervreemde minderhede te praat. Ek erken daar is kommer. Maar ons moet sit en praat soos voor 1994. Ons moet nou weer sulke gesprekke hê. Ek wil my hand na jou uitreik sodat ons 'n gesprek langs die vuur daaroor kan hê.

22 Aug. 16:34:44

Ramaphosa: Ons is almal een nasie. Laat ons so leef.

Ramaphosa sê dit is die rol en verantwoordelikheid van alle Suid-Afrikaners om 'n land te bou wat behoort aan almal wat in hom leef.

Ons Grondwet vra ons almal om die verdelings van die verlede te heel.

En ook om te verseker dat elke landsburger gelyk deur die landswette beskerm word.

Gelykheid in alle sfere van openbare en private lewe moet bevorder word. Alle Suid-Afrikaners moet dieselfde geleenthede hê. Ons het sedert 1994 beleide en programme in plek gestel om dié regte te bevorder. Soos dat elkeen 'n reg op sy taal het.

Weens die enorme ongelykheid in ons land wat op ras en gender gegrond was, moes ons ingryp met verskeie beleide en programme. Dit is ook waarom ons ons fokus op onderwys baie verbreed het. Ons moet verseker dat solidariteit en wedersydse vertroue onder alle Suid-Afrikaners heers.

As dit so is dat daar minderhede is wat vervreemd voel, moet ons uitvind hoekom. Ek is huiwerig om die woord minderheid te gebruik en wil verwys na die wat vervreemd voel. Ons moet dit egter deur dialoog hanteer.

My ervaring is die oorweldigende meerderheid Suid-Afrikaners, ongeag ras of gender, ondersteun die maatreëls wat ons onderneem het om diegene wat in die verlede benadeel is, te bevorder.

Hulle wil ook almal deel van die oplossing wees. Hulle het brûe gebou en verstaan dat ons nooit verenig sal wees as armoede nie aandag kry nie.

Miskien moet ons die idee van minderhede uitdaag. Ons het in Suid-Afrika verskeie etniese groepe en  gelowe. Ons is egter deel van die meerderheid wat Suid-Afrika is. Suid-Afrika behoort aan almal. En ons almal moet so voel, ongeag ons verskille wat ons op grond van kleur, taal en streek het.

Ons is almal een nasie. Laat ons so leef.

22 Aug. 16:28:38

Vraag 6: Ramaphosa moet antwoord oor vervreemding van minderheidsgroepe

Corne Mulder, VF-Plus-LP, vra: Met verwysing na art. 83 (c) van die Grondwet ingevolge waarvan van die president verwag word om eenheid te bou in die land: Hoe voorsien hy om sy grondwetlike plig as staatshoof na te kom en hoe gaan hy die huidige vervreemding van minderheidsgroepe in die land keer?

22 Aug. 16:26:11

Ramaphosa: Ons moet ophou in silo's werk

Maimane vra 'n opvolgvraag. Hy sê gemeenskappe landwyd het grondeise. Vandag het die konstitusionele hof teen jou regering bevind? Daardie hof sê jou regering plaas nie net grondeienaarskap in gedrang nie, maar ook die grondwetlike bestel. Die regter sê die Grondwet is nie die probleem nie. Hoekom wil jou party dan die Grondwet verander?

Ramaphosa: Die kabinet het daardie uitspraak bespreek. Ons het belowe dat dit nooit weer sal gebeur waar die regering deur sy eie onbevoegdheid as hindernis vir grondhervorming gesien word nie.

Ons moet ophou in silo's werk.

Soos ons enige kwessie benader, moet ons voortaan saamwerk om mekaar te help en te ondersteun.

Die kwessie om die Grondwet te wysig, sal deur die parlement afgehandel word. Laat ons debatte daaroor hê. Ek sien uit daarna. Laat ons vir daardie oomblik wag.

22 Aug. 16:22:11

Malema vra 'n opvolgvraag. Verteenwoordig die Ingonyama-trust demokratiese grondbesit? Ons moet almal gelyk behandel word. Konings, koninginne en gewone mense. Daar is geen heilige koeie hier nie. Stem jy saam met die aanbevelings van die hoëvlakpaneel van Motlanthe?

Ramaphosa: Ek glo in die demokrasie. En konsultasie is deel daarvan. Ons was altyd in staat om moeilike kwessies daardeur op te los. Dit is die geleentheid vir ons om dit te doen.

22 Aug. 16:20:42

Ramaphosa antwoord oor Zoeloe-koning se grond

Opvolgvraag van Hlengwa. Hy wil weet wat die situasie met die Ingonyama-trust van die Zoeloe-koning is. Staan Ramaphosa steeds by sy verbintenisse van vroeërdat die trust se grond nie gevat sal word nie.

Ramaphosa: Ek kan sê dat die kabinet die kwessie gister bespreek het. Ons het gepraat oor wat ons daaraan moet doen. Dit het gespruit uit 'n brief wat ek van die koning ontvang het. Ek sal dit nog antwoord. Die kabinet het besluit ons sal kabinetsministers stuur om met verskeie rolspelers in KwaZulu-Natal te praat saam met ons premier daar.

Hulle sal aan my en die kabinet daaroor verslag doen. Ons sal verseker dat deeglike gesprekke daaroor gevoer word sodat ons 'n oplossing kan vind.

Die hoëvlak-paneel van oudpres. Kgalema Motlanthe en die adviespaneel het met sekere aanbevelings gekom wat nou bespreek moet word. Wat ek wel gesê het, is dat daar geen arbitrêre proses oor die Ingonyama-trust sal wees nie. Ons sal egter konsulteer en ek sal die koning se brief beantwoord, sê Ramaphosa.

22 Aug. 16:16:01

Onteiening van grond is nié oplossing vir grondhervorming

Ramaphosa: Die adviespaneel oor grondhervorming en landbou het met verskeie verreikende aanbevelings vorendag gekom om grondhervorming in die land op te los.

Dit is nodig as ons ongelykheid wil verminder.

Deur grond aan arm Suid-Afrikaners te gee om op te boer, sake te doen of op te leef, sal ons help om armoede te verminder. Die paneel se verslag opper ook van die swakhede in ons stelsel en maak verskeie ander aanbevelings wat ons kan help om al ons mense grondeienaars te maak.

Dit moedig ons ook aan om dadelik grond vir behuising te identifiseer en sê ook dat onteiening sonder vergoeding nie 'n oplossing vir grondhervorming is nie, maar net een van die instrumente is om dit te kan bereik.

Die paneel se aanbeveling komplementeer ook die werk van die interministeriële komitee oor grondhervomring wat adj.pres. David Mabuza lei. Die werk wat die komitee doen het gelei tot die identifisering van talle stukke grond wat deur restitusie aan ons mense gegee kan word.

Die departement van openbare werke het reeds 100 stukke grond geïdentifiseer vir restitusiedoeleindes. Die paneel se aanbevelings sal deel uitmaak van omvattende grondhervormingsprogram. Só sal die parlementêre proses oor die wysiging van die Grondwet ook daartoe bydrae.

22 Aug. 16:11:17

Vraag 5: Ramaphosa moet antwoord oor grondhervorming

Mkhuleko Hlengwa, IVP-LP, vra: Of die president beplan om die voorstelle van die presidensiële adviesraad oor grondhervorming en landbou te implementeer - wat is die besonderhede hiervan?

Meer oor:  Regering  |  Politiek  |  Cyril Ramaphosa  |  Kaapstad  |  Vrae In Parlement
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.