Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
OORSIG: OB se optrede 'is polities', hoor hof

* Pres. Cyril Ramaphosa het 'n dringende aansoek teen die Openbare Beskermer (OB), adv. Busisiwe Mkhwebane, in die hooggeregshof in Pretoria gebring oor 'n besluit dat hy moet optree teen Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings.

* Ramaphosa het gevra die hof moet verklaar dat hy wel gehoor gegee het aan die OB se versoek om met die proses te begin om teen Gordhan op te tree.

* Verder het hy gevra dat enige tugstappe teen Gordhan tydelik opgeskort word, hangende Gordhan se aansoek dat die OB se opdragte teen hom op hersiening geneem word.




01 Aug. 17:52:23

Uitspraak word voorbehou en sal op 8 Augustus gelewer word.

Die hof verdaag.

01 Aug. 17:51:05

Adv. Dali Mpofu, vir die EFF, staan nou op om sy saak weer te stel op wat Le Roux gesê het.

01 Aug. 17:49:39

Gordhan is 'n politieke teiken, sê sy advokaat

Adv. Michelle le Roux, wat optree vir Gordhan, vra om repliek te lewer. Sy verwys daarna dat gesê is Gordhan het die OB beledig.

Le Roux verwys na die geskrewe kommunikasie tussen Gordhan en die OB.

Daar moet onhou word dat die OB 4 ondersoeke teen Gordhan het. Is dit nie polities gedrewe nie? Hoekom is sy hier om Ramaphosa se aansoek teen te staan.

"Gordhan is die teiken van 'n politieke veldtog. Die EFF storm op hom af as hy die parlement wil toespreek," sê Le Roux.

01 Aug. 17:43:10

Die hof is nie polities nie, moet besluit met feite wat gebied is

Volgens Maenetje staan die hof deurentyd aansoeke toe vir die tydelike opskorting om aksies te moet uitvoer. Dié aansoek deur Ramaphosa is ook net so 'n versoek aan die hof.

Ramaphosa sê hy sal 'n besluit neem binne 30 dae nadat daar 'n uitspraak is in Gordhan se aansoek om hersieing van die OB se besluite. Hy wil wel riglyne van die hof hê hieroor, sodat hy 'n presiese tydlyn het daarvoor.

Maenetje sê die reg seëvier wanneer na sake uit die verlede gekyk word. Dit is nie so dat die aansoek om hersiening wat Gordhan vra eers oor 5 jaar afgehandel sal word en Ramaphosa en Gordhan die tyd gegun sal word om weg te stap teen 'n son wat agter hulle sak nie.

Ter afsluiting sê Maenetje die hof besluit nie polities nie, maar volgens die feite wat voor die hof gebring is.

01 Aug. 17:27:46

Maenetje sê oor die verdeling van mag het hy nie gesê dit het 'n dubbel impak hier nie, hy het gesê dit sny albei kante toe - na die kant van die president en die OB.

In die geval van Gordhan sal hy onregverdig behandel word indien sy aansoek om hersiening slaag, maar die hof nie Ramaphosa se aansoek vir 'n tussentydse uitstel van sy straf aan Gordhan toestaan nie.

01 Aug. 17:14:19

Ramaphosa beskou OB se bevinding as ernstig

Maenetje sê die OB het gesê Ramaphosa moet 'n aansoek bring - sy het hom uitgenooi om dit te doen.

Hy verwys daarna dat die EFF gesê het Ramaphosa is die teiken van die OB se besluit, nie Gordhan nie.

Die ernstige aard van die bevindinge van die OB beteken dat daar 'n dissiplinêre aksie sal wees wat gelykstaande is daaraan - dit is nie 'n situasie waar Gordhan en Ramaphosa slegs 'n gesprek om 'n vuur sal hou nie.

Maenetje sê die hof het die reg om 'n bevel te maak ten gunste van Ramaphosa se aansoek dat enige optrede wat hy beveel is om te doen ingevolge die OB se bevinding eers agterweë bly. Dit kan volg nadat Gordhan se aansoek afgehandel waarin hy vra dat die OB se besluite oor hom hersien word. Dit is al wat gevra word.

Dit is nie 'n saak wat die hof net ligtelik moet neem nie.

Maenetje sê die regsverteenwoordigers wie se kliënte die aansoek teenstaan (die OB en die EFF) verstaan nie Ramaphosa se beëdigde verklaring wat sy aansoek steun nie.

Ramaphosa vra in sy verklaring is dit gepas dat die president moet besluit oor dissiplinêre optrede in ag genome dat daar 'n aansoek is om hersieing van die OB se besluite. Dit is nie, volgens Ramaphosa se verklaring.

Ramaphosa se dissiplinêre optrede moet rasioneel wees, dit kan nie die bestaan van die hersieningsaansoek ignoreer nie.

01 Aug. 17:00:00

Maenetje sê Ramaphosa respekteer die regstelsel. Met sy aansoek steun hy op dié stelsel.

01 Aug. 16:54:56

Maenetjie sê Ramaphosa het nié die kantoor van die OB beledig nie. Hy het dit nie in enige korrespondensie gedoen of in sy beëdigde verklaring wat sy aansoek steun nie.

01 Aug. 16:52:21

Die aansoek gaan voort.

Ramaphosa se regsverteenwoordiger kry nou die kans om te antwoord op die opponerende kwessies.

Maenetje, vir Ramaphosa, sê daar moet teruggegaan word na wat Ramaphosa vra waaroor die hof moet besluit.

Die ander regsverteenwoordigers het afgedwaal, sê Maenetjie.

01 Aug. 16:39:25

Die hof verdaag vir 5 minute.

Meer oor:  Regering  |  Politiek  |  Busisi­We Mkhwebane  |  Pravin Gordhan  |  Cyril Ramaphosa  |  Pretoria  |  Ramaphosa  |  Ob
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.