Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
OORSIG: Hoe verdwyn duisend rekenaars by Transnet, vra Zondo

  • Mohamed Mahomedy, waarnemende hoof van Transnet, het vandag verder voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping getuig.
  • Mahomedy is in Mei as waarnemende hoof van Transnet aangestel.
  • Hy het onder meer getuig van 'n duisend rekenaars wat deur 'n afdeling van Transnet bestel is, maar wat nie opgespoor kan word nie.
  • Volg die regstreekse dekking hier.
16 Mei 16:07:00

Die kommissie verdaag tot Vrydagoggend om 9:30.

16 Mei 16:04:33

Mahomedy se getuienis is klaar.

16 Mei 16:01:03

Transnet word klaar reggeruk, getuig Mahomedy

Mahomedy getuig die afgelope maande is daar tesame met die Transnet-raad en bestuur groot introspeksie gedoen oor wat by Transnet gebeur het en om te verseker dat dit nooit weer in Transnet of die res van Suid-Afrika gebeur nie.

Transnet en sy raad het reeds begin om sy verkrygingsafdeling (tenderafdeling) te versterk, die mag van individue om tenders en beleggings te kan afteken is verwyder, en daar is nuwe oorsigmaatreëls ingestel.

Mahomedy sê Transnet het ook begin om geld terug te kry. Daar is R618 miljoen vanaf China South Rail teruggekry. Daar word nog gewerk aan die R80 miljoen. Die R400 miljoen wat rente jaarliks kos, word ook hersien.

Daar is ook 'n proses om met diensverskaffers te onderhandel om van die geld vir Transnet terug te kry.

Transnet vorm 'n groot deel van die land en sy mense se ekonomie. Die 55 000 werkers van Transnet is toegewyd en wil daar werk en wil goed vaar - daar sal gekyk word om aan die mandaat voldoen te word, volgens Mahomedy.

Transnet is suksesvol gemanipuleer om 'n paar mense te baat. Die ontwikkeling en gebruik van ingewikkelde prosesse is gebruik hiervoor.

In die laaste maande het hy besef hoe korrupte mense basiese kontrakte kan manipuleer om korrupsie te pleeg.

"Bestuur wat sekere besluite herroep het, die raad wat bestuursbesluite herroep het, die isolasie van inligting oor kontrakte sodat meer mense nie daarvan kan uitvind nie," is volgens Mahomedy van die maniere om prosesse te manipuleer.

16 Mei 15:47:16

Mahomedy getuig nou oor die spesiale ondersoek wat tussen September 2016 en April 2017 by Transnet gehou is.

Hy sê dat hy ingelig is dat die spesiale ondersoek gewys het hy was by geen onregmatighede betrokke nie.

Hy wou in daardie stadium bedank omdat sy werksomstandighede ondraaglik was, maar sy bedanking is nie goedgekeur nie.

Mahomedy getuig oor sy verhouding met mense en maatskappye oor al die jare heen, om dit voor die Zondo-kommissie te verklaar.


16 Mei 15:32:00

Transnet-kontrakte ook met Guptas verbind

Mahomedy getuig oor 'n kennisgewing vanaf Brian Molefe dat hy T-Systems in die plek van Neotel aanstel as 'n kontrakteur. Die kennisgewing is op 31 Oktober 2013 uitgereik. 'n Jaar later word Neotel weer as die kontrakteur aangestel.

Molefe het die kennisgewing aan onder meer Anoj Singh gestuur.

Mahomedy sê dit is vreemd dat Molefe as uitvoerende hoof van Transnet self die kennisgewing uitstuur, en dat dit nie deur Transnet se verkrygingsafdeling of regsafdeling uitgestuur is nie.

Hy sê daar is ook in die media verslag gedoen dat Neotel bepaalde bepalings gemaak het aan Homix, wat 'n verbintenis met die Guptas het.

16 Mei 15:23:30

Meer as 1 000 rekenaars verdwyn uit een afdeling van Transnet

Mahomedy getuig oor die T-Systems-kontrak en sê daar is met 'n ondersoek vasgestel daar is betaal vir die huur van 2 200 rekenaars, terwyl daar net 1 100 personeellede is in die bepaalde afdeling wat dit kan gebruik.

Al die rekenaars is verskaf deur die T-Systems-kontrak.

Mahomedy sê die oortollige rekenaars kon nie opgespoor word nie.

Adjunkhoofregter sug diep en vra wat die koste sal wees.

Mahomedy sê 'n hele paar miljoen rand. Transnet betaal vir die huur van die rekenaars.

Hy sê dit is onduidelik wat gebeur het. Daar was bevestiging van die aflewering van die rekenaars.

Zondo sê maar daar moet tog rekords wees van watter rekenaar na watter amptenaar gegaan het.

Mahomedy sê daar was 'n ondersoek, sommige amptenare het bedank, ander is dissiplinêr verhoor oor die verdwyning van die rekenaars.

Zondo sê 'n duisend rekenaars word afgelewer, 'n duisend rekenaars verdwyn en niemand weet wat daarvan geword het nie. Dit is uiters vreemd.

"Dit is 'n klomp rekenaars. Dit wys op swak stelsels binne Transnet. Waar is die rekenaars? Hoe het dit gebeur," vra Zondo.

Mahomedy sê daar was 'n verswakking van die stelsel in Transnet sodat dinge soos dié kan gebeur.

"Dit is gruwelik. Dit is gruwelik. En die ergste is, is dit dat belastingbetalers se geld is," sê Zondo.

Mahomedy sê die verdwyning van die 1000 rekenaars sou nie ontdek geword het, tensy nuwe bestuur nie in die afdeling oorgeneem het nie.

16 Mei 15:15:27

Mahomedy sê die nuwe kontrak moes na nasionale tesourie gestuur word vir goedkeuring, maar dit is nie gedoen nie.

16 Mei 15:11:30

Mahomedy sê Nkonki se geslote tenderaanbod was nie regverdig nie, omdat daar in die mark ook ander diensleweraars was wat die werk sou kon doen.

Verder was dit bloot die duplisering van 'n bestaande kontrak.


16 Mei 15:07:31

Nkonki-kontrak 'onwettig' met R500 miljoen verhoog

Mahomedy getuig nou oor die Nkonki-kontrak, met 'n waarde van R500 miljoen, vir 'n periode van vyf jaar.

Nkonki sou interne ouditwerk lewer vir Transnet. Die ouditeur-generaal het verlede jaar gevra dat betalings aan Nkonki deur staatsinstellings stopgesit moet word. (Nkonki is in 2018 aan die Gupta-sakeryk se sakebelange gekoppel.)

Mahomedy sê in Januarie 2017 het Transnet 'n ongevraagde aanbod van Nkonki ontvang om bykomende werk vir Transnet te doen as waarvoor dié maatskappy reeds 'n kontrak gehad het. In daardie stadium het Nkonki reeds kontrakwerk vir Transnet gedoen.

Daar is voorgestel dat die tender wat reeds met Nkonki bestaan het, uitgebrei word sodat dit ook nie-ouditwerk kan verrig. Die vyfjaarouditkontrak se waarde was R500 miljoen. Die nuwe kontrak moes ook nie 'n bykomende R500 miljoen oorskry nie, volgens Transnet se verkrygingskomitee.

Adjunkhoofregter Zondo wil weet of die bykomende kontrak goedgekeur is.

Mahomedy getuig in 'n vergadering wat op 12 Februarie 2017 deur die verkrygingskomitee gehou is, is gevra dat die kontrak beperk kan word tot onder R500 miljoen, sodat dit binne die komitee se mag val om dit goed te keur. Daarna sou die Transnet-raad van die betaling ingelig word.

Die komitee het die bykomende kontrak goedgekeur.

Nkonki het gesê dit gaan help met die verbetering van tenders en inkomste, om die steenkool-spoorvervoer te verbeter en dan om die ysterertsvragte te verhoog om Transnet te bevoordeel.

Mahomedy sê Regiments en McKinsey het soortgelyke kontrakte gekry in 2014 - soos om die ystererts-kontrak te hersien. Dit lyk na die duplisering van 'n kontrak wat voorheen bestaan het, sê hy.

Mahomedy sê die manier hoe Nkonki se kontrak vergroot is, stem nie ooreen met nasionale tenderprosedures nie.

16 Mei 14:51:11

Trillian se betalings was 'hoogs vreemd'

Adjunkhoofregter Zondo sê tensy iemand getuienis kom gee oor goeie redes vir die manier wat betalings afgeteken is, is dit bloot 'n flagrante verontagsaming van prosesse.

Hy sê dalk kom gee daar iemand getuienis hieroor, daar sal gewag en sien moet word. Indien daar niemand kom nie, is dit nogal baie duidelik wat hier aangegaan het.

Mahomedy sê van die sleutelgevolgtrekkings oor Trillian is dat daar nie dienste gelewer is vir van die fakture wat aan Transnet gestuur nie, en in ander gevalle was Trillian nog nie aangestel as kontrakteur nie, maar het eise ingesit en is daarvoor betaal.

Hy getuig verder die terugbetaling van 'n R38 miljoen is hoogs vreemd.

Transnet het begin met prosesse om nog terugbetalings van Trillian te kry.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.