Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
OORSIG: Onnodige raadgewers kos Transnet honderde miljoene, hoor Zondo

  • Die waarnemende hoof van Transnet, Mohamed Mahomedy, getuig oor grootskaalse tenderkorrupsie voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping.
  • Mahomedy is in Mei as waarnemende hoof van Transnet aangestel.
  • Hy was tevore by Transnet geteiken toe van die vermeende korrupte amptenare gedink het dat hy inligting aan die media laat lek het oor die korrupsie wat daar aangaan.
  • Die manipulasie van kontrakte deur 'n klein groepie senior bestuurders van Transnet, om dié entiteit as hul eie beursie te gebruik om miljoene rande in te palm, is die jongste fokus van die kommissie.
  • Die Zondo-kommissie ondersoek omvangryke korrupsie in die staatsdiens.
15 Mei 15:58:07

Die sitting verdaag vir vandag. Dit word môre om 09:30 hervat.

15 Mei 15:56:50

Mahomedy sê een van uitdrukkings wat die situasie met Regiments opsom, is dat Regiments die onderhandelingskamer van Transnet geïnfiltreer het.

Hierop was daar 'n opmerking dat Regiments nie die onderhandelingskamers van Transnet oorgeneem het nie, maar dat die onderhandelingskamer na Regiments se kantore verskuif is. 

Vir Regiments se betrokkenheid by die besluitsnemingsprosesse van Transnet is hy boonop honderde miljoene rande betaal, sê Mahomedy.

15 Mei 15:49:26

Mahomedy sê Regiments was op groot skaal by Transnet betrokke. Dit word 'n raadgewer, en later selfs ook die bestuurder van die Transnet-pensioenfonds wat Transnet miljoene rande gekos het.

15 Mei 15:46:35

Mahomedy sê daar is amptenare in Transnet wat in die duister was oor die ooreenkomste om die geld te leen vir die lokomotiewe en nie kan glo op watter terme die geld geleen is nie.

15 Mei 15:31:32

Raadgewers wat Transnet miljoene kos, 'gee boonop die verkeerde raad'

Mahomedy sê daar is kwessies oor die China-ontwikkelingsbank wat hy moet noem. Transnet het vooraf 'n bedrag van $17,7 miljoen betaal op die lening wat van dié bank verkry is. Dit was nie in ooreenstemming met die tariewe wat aan ander instansies betaal is nie.

"Vir lenings by ander instansies is 'n voorafbetaling van tussen 0,3% en 0,45% van die leningsbedrag betaal, maar vir die lening by die China-ontwikkelingsbank was dit 1,18%."

Mahomedy sê om die lening in Amerikaanse dollar te kry is miljarde rande gebruik.

"Dit is soos om 'n motor te koop wat $100 000 kos, en as jy nie die geld het nie, dan gaan leen jy boonop die geld in dollar. Dit is 'n dubbelbetaling aan die kant van Transnet om twee keer in dollar te gaan leen en te betaal, en dit elke keer na die rand te moet oorsit, veral in ag genome dat daar in die plaaslike mark banke is wat die geld aan Transnet sou leen."

Mahomedy sê hy dink daar was 'n agenda om Regiments of iemand buite die Transnet-stelsel by die leningsooreenkoms te laat baat. Want hoekom sal 'n duurder lening aangegaan word indien daar goedkoper moontlikhede was.


 

15 Mei 15:19:30

Geen werk gedoen vir R82 miljoen aan Trillian-maatskappy

Mahomedy noem nou al die instellings se name by wie Transnet vir die verkryging van die 1 064 lokomotiewe geld geleen het.

Mahomedy verwys daarna as die ZAR-klub lening. 

Volgens 'n dokument wat opgespoor is, is R82 miljoen aan die maatskappy, Trillian, betaal, sê Mahomedy. Dit was in November 2015.

Mahomedy sê die sindikasie van 'n lening is nie 'n komplekse struktuur nie, dit is iets wat op 'n gereelde grondslag deur werknemers van Transnet se tesourie-afdeling gedoen word.

Mahomedy sê daar word beweer dat Trillian 'n diensverskaffer aan Regiments is. Hy sê daar kan egter geen bewyse gekry word dat Trillian enige werk vir die ZAR-klublenings gedoen het nie.

15 Mei 15:08:03

Die vraag is watter werk Regiments gedoen het vir die R166 miljoen wat aan dié maatskappy betaal is, sê Mahomedy - veral as in ag geneem word dat Transnet self al 'n jaar tevore met die China-ontwikkelingsbank onderhandel het vir die lening om die lokomotiewe aan te koop.

15 Mei 15:01:59

Transnet het nou prosedure vir betaling verander na korrupsie-gemors

Zondo vra wat gedoen kan word om sulke betalings in die toekoms te voorkom.

Mahomedy sê die huidige Transnet-raad het nou die afgewentelde mag wat voorheen aan individue toegeken is om kontrakte en betalings goed te keur, verander sodat daar nie 'n herhaling van dié tipe transaksies sal wees nie.

15 Mei 14:57:27

Adjunkregter Zondo sê dis moeilik om hierdie bedrae te hoor.

"Hoe gebeur dit dat sulke groot bedrae uitbetaal kan word, en niemand besef hier is 'n probleem nie?

"Behalwe dat die antwoord moet wees dat die goedkeuring gedoen is deur die mense heel bo, want wie sou dit dan optel en besef daar is fout."

Mahomedy sê in die geval van die betalings is dit deur die hoogste mense in Transnet gedoen. Dit is die mees senior uitvoerende beamptes in die organisasie wat die goedkeuring gee. Iemand wat die betaling bevraagteken wanneer dit gedoen moet word, sal die dokumente kry waarop almal se handtekeninge is om dit goed te keur.


15 Mei 14:51:34

Raadgewende werk wat Transnet self kon doen, kos R289 miljoen

Mahomedy getuig nou oor 'n tender vir dienste soos regsdienste en bepaalde raadgewende dienste met die verskaffing van die 1 064 lokomotiewe.

Daar was 'n paar konsortiums wat aansoek gedoen het, 'n KPMG-konsortium, PWC-konsortium asook die McKinsey-konsortium.

Mahomedy sê 'n brief is op 6 Desember 2012 aan McKinsey gestuur dat dit die voorkeur-kontrakteur is.  Die waarde van die kontrak was vir R35,2 miljoen.

Die kontrak met McKinsey het regsdienste uitgesluit wat aan Weber Wentzel sou gaan.

Volgens Mahomedy was van die dienste wat ingesluit sou word, die ontwikkeling van 'n sakeplan asook die ooreenkomste vir die finansiering van die projek. Enige ekstra uitgawe sou nié vir die rekening van Transnet wees nie, maar McKinsey moes verantwoordelikhied vir die totale lewering van die kontrak neem.

Die ooreenkoms is namens Transnet deur Anoj Singh onderteken.

Mahomedy sê Regiments, wat nie deel van die oorspronklike ooreenkoms was nie, is by die kontrak betrek. Dit het die oorspronklike konsortium fundamenteel verander.

Hy verwys na verskeie datums, op 6 Desember is die oorspronklike dokument onderteken.

Die volgende dokument is 'n verlenging van die kontrak, in Oktober 2013 is dit weer verleng. Op 29 Januarie 2014 was daar 'n nuwe ooreenkoms tussen Transnet en Regiment.

Op 5 Februarie is die brief van McKinsey ontvang dat die kontrak na Regiment oorgedra word.

Op 28 Februarie 2014 het die bedrag van R35 miljoen na R78 miljoen verhoog, nou met Regiment as hoof-kontrateur. Dit word slegs in 'n memorandum afgehandel.

Op 16 Julie is die finale bedrag vir die diensleweringskontrak op R289 miljoen vasgestel.

Mahomedy sê wat oorspronklik 'n R35 miljoen-kontrak sou wees, is verhoog tot 'n R289 miljoen-kontrak met Regiment.

Een van die bedrae wat betaal is, is een van R166 miljoen wat aan Regiment betaal is omdat dit suksesvol vir die verkryging van die lokomotiewe met die China-ontwikkelingsbank onderhandel het. 

Mahomedy sê die onderhandeling sou suksesvol met die China-ontwikkelingsbank gedoen kon word met die kundiges binne Transnet en dat dit nie nodig was om adviseurs van buite te kontrakteer nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.