Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
OORSIG: Zuma gewaarsku Guptas sal ANC nog duur kos

  • Twee getuies, Trevor Manuel, voormalige minister van finansies, en genl. Siphiwe Nyanda, voormalige hoof van die weermag, het Donderdag voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping getuig.
  • Een van die kwessies wat Manuel genoem het, is die Guptas se betrokkenheid by Fikile Mbalula se aanstelling as minister van sport.
  • Die Zondo-kommissie van ondersoek, onder leiding van adjunkhoofregter Raymond Zondo, ondersoek staatskaping in die tyd toe oudpres. Jacob Zuma president was.

28 Feb. 17:05:24

Die kommissie verdaag tot Vrydag om 10:00.

28 Feb. 17:05:05

Genl. Nyanda se getuienis word afgesluit.

Nyanda sê hy wil ander mense vra om aan boord te kom. Hy ondersteun die kommissie, want baie van wat gebeur het, het soveel mense geraak.

Die ANC het kabinetslede, ANC-lede en die algemene publiek aangemoedig om voor die kommissie te getuig. Dit is in die gees hiervan dat Nyanda getuig het, sê hy.

 

28 Feb. 16:52:54

Genl. Siphiwe Nyanda se verklaring aan die kommissie.

28 Feb. 16:52:23

28 Feb. 16:49:14

Nyanda getuig Zuma was baie ontevrede dat daar van hom gevra is om as president te bedank. Hy het gesê dat hy sy termyn as president sal uitdien.

28 Feb. 16:47:12

Zuma gewaarsku dat die ANC nog 'n duur prys sal betaal oor Guptas

Nyanda sê hy was een van 'n ANC-afvaardiging wat met Zuma gaan praat het.

"Ons kom hierheen met gepynigde harte omdat ons dink die ANC is op die afdraendepad," lees Nyanda uit sy notas van wat hy aan Zuma gesê het.

Hy het aan Zuma gesê dat die ANC weens die betrokkenheid van die Guptas in toekomstige verkiesings nog 'n duur prys gaan betaal.

Verder is aan Zuma gesê dat daar 'n spesiale konferensie gehou moet word en dat Zuma sekerlik nie sy eie wil eerder sou wil opdwing en dit stel bo dié van die ANC wat in twee sou skeur nie.

Hulle het ook vir Zuma gevra of dit die standaarde is waarvoor die stryd om 'n demokrasie in Suid-Afrika te vestig, onthou moet word.

Verder is genoem dat Zuma na die uitspraak in die konstitusionele hof moet luister oor die Nkandla-sage, getuig Nyanda.

Nyanda sê hy kan nie onthou wie almal saam was om Zuma te gaan spreek nie. Hulle het 'n groeiende groep mense verteenwoordig, insluitend voormalige direkteurs-generaal.


 

28 Feb. 16:32:21

Sommige in ANC wou kommissie hê om Gupta-kwessie te ondersoek

Nyanda getuig die ANC se sekretaris-generaal het mense uitgenooi om bewyse te bring van staatskaping, eerder as om 'n kommissie van ondersoek te begin om die ongerymdhede te ondersoek.

Nyanda sê hy het nie dié kans gebruik om met inligting na vore te kom om staatskaping te keer nie.

Nyanda se getuienis verskuif nou na 'n memorandum wat op 18 Maart 2016 opgestel is. Hy getuig dit het gegaan oor 'n versoek vir die aanstelling van 'n onafhanklike kommissie na Mcebisi Jonas se uitlating dat hy na Saxonwold ontbied is en as minister aangestel sou word as hy R600 miljoen sou aanvaar en dan sekere dinge moes doen daarvoor.

Volgens Nyanda is die memorandum saamgestel omdat hy en ander oud-MK-lede in die ANC wou gehad het die ANC moet self 'n onafhanklike kommissie aanstel.

Hy sê dit was nou 'n openbare saak en daar moes opgetree word - "met 'n minister wat vervang is, 'n nuwe een wat vir drie dae aangestel is, en toe weer vervang is. Ons was bekommerd daaroor."

Nyanda het getuig dat daar sigbare faksies in die ANC was.

Die memorandum is gerig aan die sekretaris-generaal van die ANC. Mo Shaik het dit aan Nyanda gestuur en hy het dit verder aangestuur binne die ANC.

28 Feb. 16:14:57

Nyanda getuig hy het aan die kommissie se ondersoekspan gesê hy het geen "bomme" wat gaan bars met sy getuienis nie. Hy kan net sê wat met hom gebeur het soos wat hy dit ervaar het.

28 Feb. 16:09:46

Zuma het 'iets gemompel van die SAUK'

Nyanda getuig nou hoe hy 'n oproep van Zuma gekry het dat hy herontplooi word en nie meer minister van kommunikasie sou wees nie, maar die ambassadeur na Duitsland.

Nyanga sê hy het Zuma se aanbod van die hand gewys. Hy wou eerder as gewone parlementslid dien soos wat hy deur die ANC gekies is.

Ek het hom in sy kantoor gesien, en hy het iets gemompel van die SAUK, maar ek het nie mooi verstaan nie. Ek het dit daar gelos en hom nie verder uitgevra nie.

Ek het gehoor mense het geskinder dat ek 'n private intelligensie-eenheid het. Ek het aan hom gesê dit is nie so nie, getuig Nyanda.

Nyanda sê hy het geweet die rede wat wat aangevoer vir waarom hy as minister uitgeskop is, is nie die waarheid nie. Hy het gerugte gehoor, maar het dit eers nie geglo nie, want hy het gedink hy het goed gevaar.

Oor die algemeen was daar stabiliteit in al die portfeuljes wat onder sy oog was, sê Nyanda.


28 Feb. 16:02:27

Niemand in ANC-komitee het iets gedoen aan Guptas se invloed nie

Nyanda sê die skok was nie dat Mbalula die Guptas se name genoem het nie, maar dat Zuma niks aan die situasie gedoen het nie. "Dit was 'n skok."

Hy getuig dat Zuma ook nie daarna verwys nie. Hy weet nie of Zuma eenkant met Mbalula gepraat het nie en hy weet ook nie of ander lede afsonderlik met Zuma daaroor gepraat nie.

Nyanda sê dit was nie op die vergaderings van die uitvoerende komitee waar hy was op die agenda geplaas om te bespreek nie.

Zondo sê wat Nyanda nou getuig, is baie belangrik. Want die vraag wat hy (Zondo) herhaal, is of daar vroeër iets gedoen kon word om staatskaping te keer. Of mense nou kan sê dat hulle verkeerd was om nie op te tree nie. En hulle ook nou kan sê dat hulle wel iets moet gedoen het en nie weer so 'n fout herhaal nie.

Nyanda sê hy het ook een vergadering met die Guptas gehad. Dit het eers later uitgekom wat aangegaan het. Sakemanne wou naby die ANC wees, diegene met baie, baie geld wil langs die president van die land sit, langs die minister van finansies sit - by geldinsamelings.

Volgens Nyanda sal hy ook langs die president wil sit as hy die ekonomiese spierkrag het om dit te doen. Nie noodwendig om verkeerde goed te doen nie, maar vir die beeld van sy besigheid. Nie om oneerlik te wees nie, maar om die blootstelling te kry en saam met die president gesien te word.

"Ons het eers later besef daar was iets regtig sinisters aan die gang. Die uitspraak van Mbalula was die eerste aanduiding dat iets verkeerd is. Dat die president nie reg opgetree het nie. Maar dit was nog nie 'n ware bewys van staatskaping nie," getuig Nyanda.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.