Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
OORSIG: Dis wat partyleiers, kenners oor staatsrede sê

In 'n neutedop:

  • Pres. Cyril Ramaphosa se regering sal oor die volgende jaar op sewe prioriteite fokus. Dié fokusgebiede is ekonomiese transformasie, onderwys, basiese dienste van gehalte, spesiale integrasie van woongebiede, om munisipaliteite te verbeter, asook maatskaplike samehorigheid, ’n veilige gemeenskap en ’n doeltreffende staat.
  • Ramaphosa het in sy staatsrede te veel gefokus op wat die staat moet en wil doen, en te min op wat die private sektor kan doen, meen ekonome. Lees die volledige storie hier

20 Jun. 22:03:57

Staatsrede 'n vooruitskouing, sê Croucamp

Dr. Piet Croucamp, politieke ontleder, sê die staatsrede bly maar 'n vooruitskouing van waarheen die land op pad is, maar daar was baie voorstelle wat "bietjie vergesog" is.

"Dit was baie van dieselfde, maar ek dink tot 'n mate het ons gesien dat die president besef dat die staat nie al die land se probleme gaan kan oplos nie, hy nie volle beheer oor sy party het nie en ekonomiese groei nie noodwendig die krisis van werkloosheid gou gaan oplos nie."

Hy het sterk betwyfel dat 2 miljoen werksgeleenthede vir jongmense geskep gaan word en sê die nasionale ontwikkelingsplan gaan eerder herskryf moet word.

"Ek dink daar moes eerder gekyk word na hoe ons veiligheid verskerp en onderwys verbeter met die begroting wat ons het en dit beter aan te wend."

20 Jun. 21:59:59

Hiermee sluit Netwerk24 sy regstreekse dekking van 2019 se staatsrede. 

20 Jun. 21:58:05

Politiese balanseertoertjie

Die politieke ontleder Ralph Mathekga sê Ramaphosa het ’n balanseertoertjie probeer doen oor die grondonteiening sonder vergoeding-debat deur homself nie te isoleer nie, en terselfdertyd beleggersvertrou in te boesem. 

“Hy was stil oor wat die ANC-beleid sê, maar hy het nie die saak bevraagteken nie. Dit is ’n man wat met almal kan praat. Hy kan later egter teenkanting van binne die ANC kry. Die EFF val hom reeds oor ANC-beleid aan.”

Mathekga het Ramaphosa ’n punt van 6 uit 10 vir sy staatsrede gegee.

20 Jun. 21:57:18

Utopiese agenda

Mkhuleko Hlengwa, IVP-LP, het gesê Ramaphosa het 'n geleentheid by hom laat verby gaan deur nie te verwys na die SAUK of die SAL nie. “Die toespraak  was nog n wenslys. 'n Utopiese agenda, pie in the sky. Ons het het hom gewaarsku  om nie vir ons 'n visioen te gee nie, maar spesifieke doelwitte. Hy het presies  die teenoorgestelde gedoen en vir ons n droom gegee.”

20 Jun. 21:56:37

Steve Swart, ACDP-LP, het gesê Ramaphosa het baie planne aangekondig, maar die vraag is of hy dit sal kan in werking stel en die vraag is waar gaan hy die geld vandaan kry.

“Hy het n reddingsboei van R230 miljard vir Eskom aangebied, maar ek sê kry eers die geld terug wat gesteel is, dit sal help om die boeke te balanseer.”

Swart 5 of 6/10


20 Jun. 21:55:48

UDM sê ook Cyril droom

Nqabayomzi Kwankwa, UDM-LP, het gesê sy algehele indruk van Ramaphosa se toespraak was dat hy gedroom het.

“Die president het hierheen gekom met n droom in sy agterkop, hy wou 'n droom aanbied en ja, hy het inderdaad 'n pypdroom aangebied. Ja, hy het alle aspekte aangeraak wat nodig is om Suid-Afrika om te draai en ekonomiese groei aan te wakker, maar die bewys is altyd in die aksie. Hy kon baie bereik het as hy hierheen gekom het met meetbare doelwitte.”

Kwankwa 5/10

20 Jun. 21:54:38

DA sê

Pres. Cyril Ramaphosa het dagdrome in sy staatsrede aangebied, terwyl baie Suid-Afrikaners in daagliks in 'n nagmerrie leef.

Dít was die algemene reaksie van opposisiepartye ná afloop van Ramaphosa se staatsrede Donderdagaand  in die Nasionale Vergadering.

John Steenhuisen, DA-hoofsweep hett gesê daar was baie goeie aspekte, maar baie daarvan was gefokus op drome met n baie lang aanloop.

Onder die positiewe aspekte was Ramaphosa se aankondigings rondom geletterdheid en duidelikheid oor die Suid-Afrikaanse Reserwebank.

Steenhuisen was krities oor die reddingsboei van R230 miljard oor die volgende tien jaar aan Eskom.

“Om R230 miljard in daardie draaikolk te gooi wat Eskom is, sonder om die strukturele veranderinge aan te kondig is n totale kortsigtige dwaasheid, want so seker as wat die son more gaan opkom – Eskom gaan oor die volgende drie, vyf jaar terug wees vir nóg n reddingsboei.

Steenhuisen 4/10 vir realiteit en 10/10 vir drome.


20 Jun. 21:52:01

Nog nooit soveel applous gehoor nie

Mangosuthu Buthelezi, IVP-leier, sê hy is sedert 1994 in die parlement en het nog nooit gehoor dat 'n staatsrede so baie applous gekry het nie.

"Dit omdat die president kwessies aangeraak het wat die land, die burgers en ons wens om van te hoor. Hy was ook baie eerlik deur die se die ekonomie presteer nie goed nie. Ons verwelkom ook sy stellings dat ons nou by 'n implementeringsfase is en die feit dat iets aan die sukkelende staatsenteite gedoen moet word. Hy het selfs van 'n reuse reddingsboei vir Eskom gepraat. Die vraag is net waar al die geld vandaan kom." Buthelezi gee Ramaphosa 5 uit tien vir sy toespraak."

20 Jun. 21:42:45

Oorsigtelike toespraak

Prof. Dirk Kotze verbonde aan Unisa, gee Ramaphosa se staatsrede 'n punt van 6,5 uit 10.

“Pres. Ramaphosa se staatsrede moet in verband met sy inhuldigingstoespraak gesien word as ‘n mens wil probeer vasstel wat sy denkwyse is.

“Dit was ‘n oorsigtelike toespraak en nie een van detail en implimentering soos die opposisiepartye wou hê nie.

“Myns insiens het die laaste deel van sy toespraak waarin hy gepraat het oor sy drome, ‘n groot deel van sy toespraak oorskadu.

“Wat vir my belangrik is, is dat hy die Reserwebank se mandaat bevestig het.

“Dit is ook insiggewend dat hy glad nie in sy toespraak verwys het na onteiening sonder vergoeding nie.

“Wat ook belangrik is – veral vir die internasionale gemeenskap – is dat hy nuwe lewe geblaas het in die nasionale ontwikkelingsplan waarvan hy die mede-outeur was. Daar sal egter weer na sekere aspekte van die plan gekyk moet word omdat daar met die huidige plan nog van die veronderstelling uitgegaan word dat die ekonomie teen 5% per jaar moet groei. Die internasionale gemeenskap sal bly wees dat daar steeds langtermyndoelwitte is.

“Hy het ook baie meer aandag gegee aan gesondheid as met sy vorige twee staatsredes. Hy het ook baie aandag gegee aan Eskom wat baie belangrik is.

“Pres. Ramaphosa het ook baie aandag gegee aan die idee van ‘n ontwkkelingstaat. Baie mense sien dit egter verskillend omdat hulle dit sien as ‘n sosialistiese idee uit kommunistiese lande, maar ek glo hy sien dit eerder uit modelle soos Japan en Suid-Korea waar die staat ‘n groot rol in die ontwikkeling van dié lande gespeel het. Die groot probleem met ons staatsdiens is egter dat hy nie baie mededigend is soos byvoorbeeld Japan en Suid-Korea s’n nie.”

20 Jun. 21:39:47

Dr. Azar Jammine, hoofekonoom van Econometrix, sê hy is nie ooruig Ramaphosa se aankondiging oor ’n spesiale reddingsboei vir Eskom sal werk nie – tensy die regering die geldsake van staasondernemings verbeter. 

“Daar is nie ’n enkele oplossing vir die probleem nie. Of jy gee meer geld, die staat gryp in of jy verhoog die tariewe van elektrisiteit, waarvoor Eskom gevra het,” het hy gesê.

Jammine het bygelas dat Ramaphosa se beplande hervormings vir die ekonomie sal teenkanting vanuit sekere oorde in die ANC kry. 

“Die geraas oor die reserwebank sal in die toekoms voortgaan. Dit sal maklik wees om hom ’n punt te gee uit 10 op grond van wat hy gesê het, maar gaan die ANC toelaat dat dit geïmplimenteer word?”

Meer oor:  Staatsrede 2019  |  Sona  |  Staatsrede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.