Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
OORSIG: Vrystaatse amptenaar erken fout oor Estina-kontrak voor Zondo

  • Die voormalige hoof van die Vrystaatse landboudepartement, Peter Thabethe,het Vrydag verder oor die Vrede-melkplaas getuig voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping.
  • Thabethe het erken hy het nié ’n kontrak met die Estina-maatskappy deur senior regskenners laat nagaan voor hy die kontrak geteken het nie. Boonop het die departement nie die kontrak opgetrek nie, maar dit is deur Estina self gedoen.
  • Met dié kontrak is Estina aangestel as die bestuurder van die Vrede-melkplaas.
  • Die Zondo-kommissie, onder leiding van adjunkhoofregter Raymond Zondo, ondersoek die wydlopende korrupsie in die staatsdiens toe oudpres. Jacob Zuma die Nommer Een in die land was.
16 Aug. 17:00:19

Die sitting verdaag vir vandag. Thabethe sal weer geroep word om verder te getuig, maar daar is Maandag eers 'n ander getuie geskeduleer. Thabethe sal later volgende verder getuig.

16 Aug. 16:24:21

Gcabashe vra nou oor die beskikbaarheid van water vir die Vrede-plaas.

Thabethe verduidelik die aansoek vir water word deur die plaas gedoen.

16 Aug. 15:48:56

Thabethe verduidelik nou hoe die begrotingsproses en uitbetalings vir projekte werk.

16 Aug. 15:31:44

Hoof van landboudepartement vra nie senior regskenners om belangrike kontrak na te gaan

Zondo verwys na die ooreenkoms - is dit geteken sonder dat 'n regsverteenwoordiger daarna gekyk het?

Thabethe antwoord daar is regskenners in departemente maar nie op die vlak wat mens wil hê nie. Hy het deur die ooreenkoms gegaan en dit het alles ingesluit wat hulle wou bereik. Hy het die staatsprokureurs ook gevra het. Die enigste kwessie van die staatsprokureurs is dat die staat nie beskerm is nie.

Zondo sê maar dit is 'n groot kwessie.

Thabethe sê hierdie was net die begin van die proses, maar as die geld na die plaaslike boere sou gaan, sou daar nuwe ooreenkomste in plek wees.

Daar was R30 miljoen (nie baie geld volgens Thabethe nie) wat eenkant gesit sou word vir die begunstigdes.

Zondo sê is R30 miljoen nie baie geld nie. Thabethe antwoord nie in ag genome hoe groot die projek is nie.

Zondo sê maar die ooreenkoms het nie die regeringe se belange beskerm nie so die regering kon miljoene verloor.

Zondo sê die staatsprokureurs het dit gesê nadat Thabethe die kontrak onderteken het. Waarom het Thabethe as hoof van die departement dit aanvaarbaar gevind om te vertrou op 'n baie junior amptenaar wat deur die ooreenkoms gegaan het en nié dit na 'n senior regsgeleerde geneem nie.

Thabethe sê al het hy die verkeerde stappe gevolg - as 'n prokureur sê hulle is nie tevrede met iets nie, sê hulle dat hulle sal konsulteer. Hy weet nie of hulle gekonsulteer het hieroor nie.

Zondo sê dit plaas hom in 'n moeilik situasie. Thabethe kon dalk met iemand gepraat het oor die kontrak en daardie persoon kon 'n groentjie gewees het wat skaars uit die universiteit is en wat die kontrak nie na enige seniors verwys het nie. Zondo sê Thabethe was die hoof van die departement, hy kon nie net aan iemand vra of hulle gemaklik is met die inhoud van 'n kontrak maar nie eers weet wat die persoon se regskennis en ervaring is nie.

Hierdie is 'n baie belangrike projek in die departement en in die provinsie, Thabethe se oordeel moes wees dat indien hy die ooreenkoms teken, moes hy die kontrak deur senior regskenners laat nagegaan word.

Thabethe sê hy stem saam met Zondo, maar soos hy verstaan is dit die regsverteenwoordiger wat moes sê hulle het 'n meer senior regskenner se raad ook nodig. Thabethe sê hy aanvaar dat hy meer regskenners moes konsulteer voor hy die kontrakte geteken het.

16 Aug. 15:18:08

Begunstigdes van Vrede, Warden of Memel het geen sent gesien van R114 miljoen

Thabethe word nou gevra oor die ooreenkoms met die begunstigdes asook oor die grond wat by Vrede beskikbaar gestel sou word vir die projek.

Gcabashe sê teen 5 Junie 2012 was daar nog nie 'n lys van begunstigdes nie.

Thabethe sê daar was met plaaslike inwoners van Thembalihle vergader en hulle is gevra wie stel belang in melkbeeste, pluimvee of varkboerdery.

Gcabashe sê sy het vrae oor die informele manier waarop die begunstigdes hanteer is.

Thabethe sê daar was 'n lys, maar hulle moes wag tot die nasionale regering se befondsing goedgekeur is.

Gcabashe sê tot vandag  het die begunstigdes geen wetlike dokumente wat wys hulle is begunstigdes nie, hoewel dit die doel was om hulle te help.

Thabethe sê die regsprosedures is nie gevolg nie want hulle was aan die begin van die projek. Die een versoek was dat Estina 'n maatskappy stig en die inwoners amptelike begunstigdes maak. Die bedoeling was daar, maar daar is nooit daarby uitgekom nie.

Gcabashe sê volgens die dokumente wat sy het, is Estina die enigste geregistreerde begunstigde van die projek.

Thabethe sê die kontrak sou vir 'n jaar geld, dan sou die plaaslike inwoners as begunstigdes na 'n jaar geregistreer word.

Zondo sê maar op die ooreenkoms van 5 Junie 2012 is die enigste entiteit wat gelys word as 'n begunstigde Estina en nie enige iemand anders nie.

Thabethe sê die plan was wel dat begunstigdes na 'n jaar geregistreer sou word.

Gcabashe sê daar is in die eerste 3 jaar R114 miljoen in die projek belê, maar nie een van die 100 begunstigdes van Vrede, Memel of Warden het 'n sent daarvan gesien nie.

Thabethe sê hy wil verduidelik. Daar was 'n aantal prosesse om ondersteuning aan boere te bied.

16 Aug. 14:54:11

Estina trek kontrak op, nié Vrystaats regering, hoor Zondo

Gcabashe vra of die ooreenkoms met Estina na die staatsprokureurs geneem is om na te gaan? Sy wil weet wie die kontrak opgetrek het.

Thabethe antwoord die oorspronklike ooreenkoms is deur Estina opgetrek.

Gcabashe sê Thabethe moet help want soos sy verstaan dat die regering altyd sulke kontrakte optrek.

Thabethe sê nie noodwendig nie, die partye wat die kapasiteit het sal die ooreenkoms optrek. Estina het aangedui dit sal die kontrak optrek en aan die Vrystaats regering gee.

Gcabashe vra of Paras deel was van die opstel van die Estina-ooreenkoms?

Thabethe antwoord as dit van Estina kom, het hy aanvaar dit kom van Paras af.

Gcabashe sê hoekom dit belangrik is, is dat die ooreenkoms tussen Paras en Estina oorspronklik vir 'n jaar geldig was; dat Estina vir Paras sal verteenwoordig en dat Estina vir beleggers sou gaan soek namens Paras.

16 Aug. 14:45:38

Adv. Leah Gcabashe SC gaan voort om Peter Thabete, voormalige hoof van die Vrystaats landboudepartement, se getuienis te lei.

Sy vra oor die status van die Estina-maatskappy toe die Vrystaatse regering besluit het om dit as plaaslike vennoot te aanvaar vir die Indiese suiwelmaatskappy, Paras.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo sê dit gaan daaroor dat daar meer as R300 miljoen van belastingbetalers se geld aan die maatskappy oorgedra word en dat mens sou verwag dat die agtergrond van die maatskappy nagegaan sou word.

16 Aug. 14:38:15

Die sitting begin weer na middagete.

Zondo begin die sessie deur dankie te sê aan Thabethe en sy regvserteenwoordigers en sê hulle help baie en werk baie goed saam.

16 Aug. 13:23:42

Oud-landbouhoof sê mens moenie te min óf te veel in die staatsdiens doen nie

Thabethe sê sy belang was by Paras nie by Estina nie, want dit was die plaaslike maatskappy wat bestaan het sodat Paras hier kon sake doen in Estina se naam.

Zondo vra was Thabethe nie geïnteresseerd in die agtergrond van Estina nie, of dit dalk onwettige praktyke het.

Thabethe sê dit is 'n baie moeilik vraag.

Zondo sê maar Thabethe is die hoof van die landboudepartement, hy moet mos vra wie en wat die plaaslike maatskappy is, met wie daar 'n vennootskap aangegaan word. Gaan dit enige skade inhou vir die provinsiale regering?

Thabethe sê dit is nie hoe dit gedoen word nie. Dit is nog nooit so gedoen nie. Daar word gekyk of hy aan belastingvereistes voldoen. Dit word gedoen wanneer daar stappe soos litigasie sal wees.

Zondo sê maar as daar litigeer word, en daar word agtergekom daar in nie eers 'n maatskappy om te litigeer nie. Moet mens nie sulke vrae stel oor die maatskappy nie.

Thebethe sê dit is nie die praktyk nie.

Zondo sê maar as jy 'n private persoon is en jy wil met 'n maatskappy sake doen, doen jy nie navraag oor die maatskappy se agtergrond nie. Was die mense in die tronk vir 10 jaar vir bedrog, het die maatskappy eiendom indien daar 'n eis vir skade sal wees?

Hier word belastinggeld gebruik, Thabethe is die hoof van 'n departement, hy het die mag om miljoene rande belastinggeld te gebruik, hy is in die pos aangestel omdat hy 'n sekere vlak van kundigheid en akademiese kwalifikasies het. Kan hy vertrou word om belastingbetalers se geld te beskerm?

Thabethe sê in die regering is daar regulasies oor hoe goed gedoen word, en mens beperk jouself tot daardie regulasies. Jy kan nie jou eie regulasies instel nie, die ingewikkeldheid met die regering is as jy minder doen, het jy probleme, as jy meer doen, het jy probleme - so jy doen net wat van jou gevra word.

Zondo sê sou Mbhethe soos hy nou daar staan dink dit was nodig om die stappe te doen soos wat Zondo voorstel.

Mbethe sê as hy sê dit is nie nodig nie, wat sal hy sê om dit te regverdig. Hy wil nie nou op die vraag antwoord nie, sê Mbethe.

16 Aug. 13:07:20

Amptenaar moet sê of Estina se agtergrond nagegaan is

Thabethe sê die departement het 'n brief van Estina gekry. Paras het ook bevestig sy vennoot in Suid-Afrika is Estina.

Gcabashe vra of die brief vanaf Estina per e-pos gestuur is.

Thabethe sê hy kan nie onthou hoe dit gestuur is nie, maar daar is 'n brief wat ontvang is.

Gcabashe vra oor 'n verifikasieproses wat gedoen is ten opsigte van Estina. Is daar 'n ondersoek gedoen na wie presies Estina was?

Thabethe sê hulle het seker gemaak of dit 'n geregistreerde maatskappy is. Dit word met 'n interne regeringstelsel gedoen.

Verder word seker gemaak of die maatskappy se belastingstatus korrek is.

Thabethe sê met 'n Cipro-soektog is vasgestel Estina is in die landboubedryf.

Gcabashe vra of Thabethe bewus was daarvan dat Estina van Oktober 2012 sy vernaamse sakebelange anders aangedui het. Voor dit het die maatskappy niks met landbou te doen gehad nie.

Zondo vra wanneer is die dokument vanaf Cipro gekry. Watter maand?

Thabethe sê hy sal nie weet nie, dit is die verkrygingsafdeling wat dié inligting kry.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.