Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
OORSIG: Zondo-span kon nie Mentor se beskrywings bevestig

  • Vytjie Mentor, 'n voormalige ANC-LP, is terug voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping. Sy is die eerste getuie wat by dié kommissie in kruisverhoor geneem gaan word.
  • Die Zondo-kommissie, met adjunkhoofregter Raymond Zondo as voorsitter, ondersoek omvangryke korrupsie in die staatsdiens, asook die betrokkenheid van politici en amptenare by staatskaping.

11 Feb. 17:07:07

Zondo sê dit was 'n lang dag en Mentor was vir baie lank in die getuiebank.

Die sitting verdaag tot Dinsdag om 10:00.

11 Feb. 17:06:01

Ajay Gupta se verskille teenoor Mentor se getuienis

Ajay Gupta se verklaring aan die kommissie word nou gehanteer.

Mentor sê sy vind dit vreemd dat iemand se verklaring toegelaat word tot die kommissie indien die persoon nie self bereid is om te getuig nie.

Sello sê een van die goed waaroor Ajay Gupta verskil is dat Mentor gesê het hy dra 'n robynring aan sy indeksvinger as deel van sy Hindoe-geloof. Ajay Gupta sê hy dra nie so 'n ring as deel van sy geloof nie.

Ajay Gupta ontken ook dat daar skaapvleis aan haar aangebied is by die Saxonwold-huis. Ajay Gupta sê hy is 'n Hindoe en sal nooit opgekapte skaapvleis in sy huis hê nie. Hy bevestig wel dat daar 'n kok in die huis is, maar nie dat daar so 'n ete aan Mentor aangebied sou word nie.



11 Feb. 16:36:07

Mentor se beskrywings van Guptas-huis kon nie bevestig word nie

Sello voer aan die Zondo-ondersoekspan sê hulle kon nie die beskrywings wat Mentor gegee het van die Guptas se huis, opspoor by  Saxonwold-rylaan nr. 5 nie.

Mentor sê inaggenome die beperking van die opdrag wat aan die ondersoekspan gegee is, kan sy dit verstaan.

11 Feb. 16:19:00

Mentor getuig sy wou die detail van die Guptas-huis onthou 'as wapen'

Zondo sê hy het 'n probleem daarmee dat daar so 'n lang tyd verstryk het met Mentor se besoek aan Saxonwold en die verklaring wat sy vir die Zondo-kommissie voltooi het.

Mentor sê sy wou dit onthou. Sy onthou die details van die huis, hou Mentor vol.

Die eerste keer toe sy oor haar besoek aan die Guptas se huis gepraat het, is sy deur die Guptas gedreig dat hulle haar gaan dagvaar. Dit is hoekom sy die details oor daardie huis wou onthou, om te wys sy praat die waarheid.

Mentor sê na die Gupta-troue en vliegtuig wat by Waterkloof geland het, het sy baie navorsing oor die Guptas gedoen. Sy het op sosiale media daaroor kommentaar gelewer.

Mentor sê sy het besef hoe naby die Guptas beweeg aan mense met mag in die regering. Sy het ook gelees dat die Guptas baie arm was in Indië.

 

11 Feb. 16:02:28

Guptas en Tina Joemat-Pettersson se goue badkamers het Mentor beïndruk

Mentor sê sy is baie goed daarmee om detail te onthou van geboue. Sy is lief vir kuns en mooi goed, so as sy dit raaksien, onthou sy dit.

Sy sê die Guptas se goud in hul toilet herinner haar aan die goue badkamer van Tina Joemat-Pettersson wat sy in 1990 besoek het.

Sy let sulke goed op as dit vir haar mooi is, getuig Mentor.

Mentor getuig dat die joernalis Jan-Jan Joubert al vantevore vir haar gevra het hoe die binnekant van die Guptas se huis gelyk het. Sy het toe gesê dat sy dit nié openbaar gaan maak nie, want dit is haar wapen wat sy na aan haar bors hou as bewys teen die Guptas.

11 Feb. 15:55:10

Mentor verduidelik die verskille aan die Gupas se huis

Sello sê met die ondersoek is daar by Saxonwold-rylaan vier huise langs mekaar opgemerk, naamlik nommers 1, 3, 5, 7 wat aan die Guptas behoort.

Die huise wat Mentor voorheen gesien het op een erf, was langs mekaar in Saxonwold-rylaan.

Mentor sê toe hulle die huis ingegaan het met die ondersoek, was daar 'n struktuur aan die regterkant en 'n deur wat die spasie kleiner gemaak het. Dit was nie daar in 2010 nie.

Die groot ruimte wat daar by die ingang was in 2010, is ook afgeskort met nog 'n muur wat 'n raadsaal afgeskort het.

Mentor het gesê sy het gevra dat 'n kundige moet kyk of dit nuwe bouwerk is en of dit altyd daar was, dan kan dit haar weergawe bevestig van hoe die plek in 2010 gelyk het. Sy sê die badkamer was op dieselfde plek as in 2010.

In 2010 was die badkamer baie klein in vergelyking met die groot ruimte van die huis. In 2010 moes sy deurskuur want die deur wou nie heeltemal oopmaak nie. Sy sê dit was 'n klein bietjie meer ruim, en sy kan nie sê of die toilet en wasbak op presies dieselfde plek was nie.

Mentor sê sy wil nie ongeskik wees nie, maar die badkamer het in vergelyking met die res van die huis ietwat sleg gelyk - dit het nie dieselfde finesse as die res van die huis nie en het ook nie meer soveel goud ingehad nie. 'n Franse spieël met goue raam was nie meer daar nie maar daar was nog 'n bietjie goud aan die krane.

11 Feb. 15:31:42

Guptas se Saxonwold-eiendom het anders gelyk met Mentor se besoek

Zondo verwys na 'n foto van die hek na die huis en vra wat verander het.

Mentor sê as mens na die hek kyk, is daar 'n ekstra veiligheidsheining opgerig. Sy kan ook nie met sekerheid sê of die hek altyd solied was en of mens daardeur kon sien nie. Sy onthou wel 'n boom wat met haar besoek in 2010 ook daar was.

Sy word gevra oor haar getuienis dat daar vier of vyf huise op die erf was.

Sello sê met hul ondersoek in 2018 was daar slegs een huis.

Mentor sê die eerste ding wat haar opgeval het, is dat daar nie vantevore 'n muur was wat die erf opgedeel het nie.

Sy sê in haar geheue, reg of verkeerd, was daar nie 'n muur nie.

Zondo vra of sy met die ondersoek die vier of vyf huise gesien het soos wat sy met haar getuienis oor haar 2010-besoek opgemerk het. Mentor bevestig daar was met die ondersoek net een huis wat gesien kon word.

11 Feb. 15:09:32

Mentor gaan gevra word oor beskrywing van Saxonwold

Adv. Sello sê kundiges (strukturele ingenieur en argitek) is gevra of daar nuwe bouwerk aan die Guptas se huis in Saxonwold gedoen is, omdat Mentor dit volgens haar weergawe in 2010 besoek het, terwyl die ondersoek ter plaatse in 2018 gedoen is.

Dit is 'n lang tyd en daar kon intussen veranderinge aan die huis wees.

Mentor se getuienis oor:

- 'n trap voor die huis;

- 'n pilaar in die vertrek waar sy gewag het op oudpres. Jacob Zuma;

- 'n muurskildery;

- 'n badkamer met goue krane en nog goue toebehore;

- asook die ingang na die badkamer, gaan uitgeklaar word.

Die ondersoekers wat die ondersoek gaan doen het, kan hieroor getuig, sê Sello.


11 Feb. 14:59:32

Lugfoto van die Guptas se huis in Saxonwold. Foto: Felix Dlangamandla/Argief

11 Feb. 14:58:30

Guptas se video vir eers nie toegelaat deur Zondo

Sello verwys nou na die opname wat deur die Guptas se videograaf gemaak is van die ondersoek in Saxonwold.

Sello sê dit is slegs 'n herhaling van die ondersoekspan se eie opnames en waar daar klein verskille is, sal dit waarskynlik wees waar die videograwe dalk op verskillende punte gefokus het.

Zondo sê hy aanvaar die amptelike opnames wat deur die Zondo-ondersoekspan gemaak is. Hy sê die ondersoekspan moet na die Guptas se weergawe kyk, asook een wat deur Mentor se regspan gemaak is - indien dit nie nuwe inligting bevat nie, sou dit nie nodig wees om dit in te handig nie.

Meer oor:  Staatskaping  |  Vytjie Mentor  |  Zondo-Kommissie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.