Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
OORSIG: Só rits Mdluli én familie lekker rond op geheime fonds, hoor Zondo

Misdaadintelligensie was weer onder die loep voor die Zondo-kommissie wat staatskaping ondersoek. 

  • Die Zondo-kommissie, onder leiding van adjunkhoofregter Raymond Zondo, ondersoek die wydlopende korrupsie in die staatsdiens.
  • Kobus Roelofse, 'n ondersoeker van die Valke, het vandag getuig oor verskeie ondersoeke wat hy gelei het.
  • Roelofse het getuig hy is gedreig om nie voor Zondo te getuig nie
  • 'n Geheime fonds van misdaadintelligensie is misbruik sowel as 'n skuilhuis, het hy getuig.
  • Bates is ook aangekoop. "Jy kon selfs 'n duikboot koop as daar genoeg motivering was."
  • Die voormalige misdaadhoof, Richard Mdluli, het glo die fonds gebruik vir reise, selfs vir sy familie, is getuig.
  • Mdluli en sy reise het glo R306 000 beloop.

Volg hier die volledige sitting.

17 Sep. 16:02:30

Misbruik van geheime skuilhuis

Hy word nou gevra hoe Lazarus 'n skuilhuis misbruik het.

Roelofse: Kol. Naidoo het my ingelig. Hy het daardie tyd met Lazarus gereis. Lazarus het toe geld uit die geheime fonds betaal vir akkommodasie.

Geld is ook gebruik om meubels vir die skuilhuis aan te koop. Nadat hy die plek gebruik het, is die meubels afgeskryf. Lazarus en Naidoo het toe van die meubels vir hulle gevat.

Lazarus het vir 'n jaar in so 'n skuilhuis gebly. Misdaadintelligensie moes ook vir alle tuindienste en DSTV in daardie tyd betaal. Dit terwyl daardie huise nie net so vir huur deur amptenare gebruik kan word nie. Dit word gewoonlik gebruik vir agente se werk of wanneer iemand beskerm moet word. Maar 'n risiko-ontleding moet eers gedoen word. Ek kon geen veiligheidsbedreiging teen Lazarus in my ondersoek vind nie. Selfs as daar was, moet die geld vir daardie eiendom uit oop rekening en nie die geheime fonds kom nie.

September: Kan geld uit die geheime fonds gebruik word om lid van polisie te huisves?

Roelofse: As dit vir werk is, dan is dit reg. Maar net vir werk. Jy kan egter nie in dit woon as polisiebeampte nie. Dan trek jy persoonlik voordeel daaruit.

 

Die verrigtinge verdaag vir die dag.

17 Sep. 15:58:48

Kommer oor familie in poste aangestel is 

 

September: Dui van die dokumente waarop julle beslag het op die tydsraamwerk waarin Maatskappy X sake gedoen het? Jy het ook sekere kommer geopper oor die aanstel van sekere individue.

Roelofse: Naidoo het my ingelig dat familielid van Marks ook as kaptein in daardie tyd in misdaadintelligensie aangestel is. Ek het dit ook bevestig van Henkel. Daar is nie noodwendig iets daarmee verkeerd nie, maar dit moes weens die verhouding tussen Marks en die misdaadintelligensie-eenheid verklaar gewees het. Weet nie of dit aan Mdluli verklaar is nie.

Marks was 'n diensverskaffer van misdaadintelligensie en sy seun is as kaptein aangestel.

September: Jou volgende ondersoek was oor genl. Solomon Lazarus. Waar het jy inligting vir dit bekom?

Roelofse: Aanvanklik van kol. Naidoo en deur dokumente wat ek later bekom het.

Naidoo het gesê hoe Lazarus, wat 'n ou vlugbal-kollega van hom in KZN was, hom en verskeie van Lazarus se familielede destyds onreëlmatig in misdaadintelligensie aangestel het.

Daar was sowat 12 vriende en familielede wat Lazarus so aangestel het.

 

September verwys nou na Roelofse se getuienis wat onder meer lui dat van Lazarus se familielede en vriende wat in die polisie was, verskeie range oorspring het om in hoê poste in misdaadintelligensie aangestel te word. Het jy die aanstellings bevestig?

Roelofse: Ja ek het dit op die polisie se stelsel bevestig.


17 Sep. 15:32:04

'Voertuie verkry en teen hoër pryse verkoop'

Roelofse sê hy weet die stelsel waarvan hy nou praat is verander weens die misbruik.

Zondo: Is die nuwe een meer deursigtig?

Roelofse: Dit is so.

Kol. Naidoo het die ou stelsel aan my verduidelik toe ek onderhoude met hom gehad het in 2011.

September: Wat het Naidoo gesê oor die verkryging van voertuie vir die misdaadintelligensie?

Roelofse: Hy het verduidelik dat daar gewoonlik vyf bieërs was vir nuwe motors.

Joe Marks was die eienaar van New World Motors. Naidoo sê Marks is vooraf ingelig van tenders vir motors. Hy sou dan die tenders kry. Einde 2011 het Marks byna 80 motors gehad wat hy van Maatskappy X gekoop het.

Ons het dokumente gevind wat aangedui het dat geen mededingende tenders daarvoor uitgesit is nie. Dit is net maatskappye wat aan Marks en sy familie wat vir tenders gebie het. Ons het boek gevind wat dit gestaaf het.

Naidoo het gesê die meeste voertuie sou kort voor dit gekoop is deur Marks en dan weer aan misdaadintelligensie verkoop word. Weens 'n gebrek aan dokumente kon ons dit nie direk staaf nie.

September: Was daar enige inligting aan jou gegee oor die motors se pryse?

Roelofse: As 'n lid sy eie motor wou koop en vir werk gebruik, sou dit teen minder as die koopprys van New World Motors gekoop word.

September: Is dit reg dat die voertuie teen opgeblaasde kontantpryse verkoop sou word?

Roelofse: Dit is wat ek vertel is.

Daardie motors sou aan New World Motors verkoop word en dan weer teen 'n opgeblaasde prys terug aan misdaadintelligensie verkoop word.

 

Kontantsurplusse vir Mdluli gebruik

Naidoo het gesê as daar kontantsurplusse was op motors wat verkoop is, word dit gebruik. Soos toe Mdluli na Singapoer gereis het, is hy sakgeld gegee wat hy daar kon spandeer en moet bewyse daarvan terug bring. As dit nie gedoen kon word nie, is die kontantsurplusse van motorverkope daarvoor gebruik.

Naidoo sê hulle het so bedrieglike fakture geskep wat vir die herstel van motors se windskerms aan New World voorgelê is.

En so het hulle die kontant vir bogenoemde bekom.

17 Sep. 15:06:01

Só rits Mdluli én familie lekker rond op geheime fonds

Roelofse sê hy kon bevestig dat R1,1 miljoen in daardie 18 maande aan Westville Travel betaal is.

Reiskoste vir Mdluli en sy familie het oor die RSeptember: En die beweringe dat sekere pastore ook voordeel getrek het.306 000 beloop, terwyl dit vir Lazarus en sy familie oor die R100 000 beloop het.

Ek het ook vasgestel dat Mdluli se kinders in ten minste een geval ook rondgevlieg is.

Die kinders het ook as intelligensie-agente gevlieg.

Ons kon egter nie al die dokumente bekom nie omdat Henkel op daardie stadium uit misdaadintelligensie verwyder is.

 

Fondse ook gebruik om kerk toe te vlieg

Genl. Sentemula en haar man, sowel as genl. Mochachi het ook deur die geheime fonds gevlieg. Hulle het egter in Lazarus se tugverhoor verduidelik wat daar gebeur het. Hulle het albei gesê dat hulle deur Mnr. Marimuthu gevra is om kerkdienste in KZN by te woon. Dit het meer as een keer gebeur. Sentemula en haar man het meer as een keer gevlieg en Mochachi een keer. Hulle was egter onder die indruk dat die kerk daarvoor betaal.

Hulle was in posisie geplaas dat die dinge later teen hulle gebruik kon word.

 

September: Het Mdluli en sy familie se reiskoste sowat R306 000 beloop?

Roelofse: Dit is so. Mdluli het egter ook van die polisie se oop rekening gebruik om te vlieg. Meer as R700 000 is tussen Maart 2009 en 2011 vir sy vliegonkostes deur die oop rekening betaal.

Uit die dokumente wat aan my voorgelê is, lyk dit of dit amptelike reise was.

Zondo: Sou mens kan sê dat hy die oop rekening vir amptelike reise gebruik het en vir onwettige reise die geheime een?

Roelofse: Wat ek kan sê, is dat ek van sy familie praat, was dit nie net die kinders nie. Ek praat ook van sy eksvrou en broers en suster. Dit is nie wettig nie. Nie eens sy kinders nie. Net agente se vlugte kan uit die geheime fonds vir amptelike werk rondgevlieg het.

September: En die beweringe dat sekere pastore ook voordeel getrek het?

Roelofse: Ek noem nie name hier nie. Maar ek het gesien dat verskeie pastore en kerkleiers se vlugte uit die geheime fonds betaal is. Dit was gewoon saam met Lazarus.

September: Is enige tugstappe teen Lazarus geneem?

Roelofse: Ja. Hy is skuldig bevind aan wangedrag.

17 Sep. 14:54:29

Vreemde rol van African Dream Family Church en Mduli se reise

September: Weet jy enigiets oor die kerk?

Roelofse: Ek weet Lazarus is lid van daardie kerk. Naidoo het my vertel en ek het dit later bevestig.

Naidoo sê hy het besprekinge gemaak vir reise vir Mdluli se familie. Hy sou plaaslike tak van reisagentskap bel en daar versoek dat die bespreking gemaak word. Faktuur sal aan Westville Travel gestuur word wat dan die faktuur aan Maatskappy X sal stuur. Ek het later uitgevind dat te veel geld van Maatskappy X vir sulke reise aangevra is.

Ons het weer aansoek gedoen vir nog 'n deursoekingslasbrief vir Maatskappy X. Dit het gewys meer as R1 miljoen is betaal aan Westville Travel in 18 maande vir reise.

Ons kon vasstel dat agente wel ook deur Westville gevlieg het. Maar die ander was vir familielede en vriende wat die rekening gebruik het om te vlieg. Die reisagent het sommer sy eie familie ook laat vlieg deur die geheime fonds.

Op 25 Oktober 2011 is ons na Westville Travel. Mnr. Prajek het daar vir my gewag met dokumente. Hy het gesê hy is versoek om dit vir ons voor te berei. Ons het dit nie versoek nie.

Hy het gesê FM08 (die geheime agent) het hom ingelig dat ons sy perseel sou deursoek. Prajek het gesê FM08 het hom gebel en gesê Valke-ondersoekers kom om fakture vir die reise te kom soek.

17 Sep. 14:47:07

Mdluli en vroue reis danksy 'geheime fonds'

Roelofse: Daar was talle ander ondersoeke wat ek nooit kon afhandel omdat ek nie die nodige dokumente daarvoor van misdaadintelligensie kon kry nie.

September: Jy praat van gesprek met genl. Mothiba. Kan jy uitwei?

Roelofse: Net nadat ek met Naidoo gepraat het, het ek Henkel by my gesprekke betrek. Want ek wou nie as onverantwoordelik gesien word in die omgewing waarin ek gewerk het nie. As deel daarvan het Henkel aan sy strukture terugvoer gegee oor wat ons onthul het. Ek het ook aan my direkte base terugvoer gegee.

Mothiba was toe hoof van die polisie se speurdiens.

Hulle het Kaap toe gevlieg waar ek hulle ontmoet het. Ek het hulle ingelig van die inligting wat ek oor Gauteng, KZN en die Wes-Kaap van Henkel ontvang het.

Dit is hoekom Mothiba my kom sien het. Twee mense is toe aangestel om die kwessies in KZN te ondersoek. Sake wat gekom het uit inligting wat Naidoo my gegee het.

As dit by die eerste deel van my verklaring kom, gaan dit oor wat Naidoo my vertel het. Hoe daar uit geheime fonds vir Mdluli en sy vroue se privaatreise betaal is.

 

Mdluli mag nie op geheime fondse rondreis nie

Mdluli was nie veronderstel om op die geheime fonds-gelde rond te vlieg nie. Hy moes dit deur die polisie se oop rekening gedoen het. As 'n agent van Kaapstad na Johannesburg moes reis om daar met bron te vergader, is dit amptelik van aard. Gelde daarvoor sal uit die geheime fonds betaal word.

Daar sal ook dokumentasie na so 'n reis wees oor wat dit behels het. Daar is niks daarmee verkeerd nie.

As dit by Mdluli kom, is hy as hoof van intelligensie nie 'n agent nie, maar 'n openbare figuur. Hy kan nie na Durban vlieg en aandui dat dit 'n koverte missie was nie. Dit is nie die norm nie. Daar is ander maniere hoe hy vir sulke reise kon betaal.

Naidoo het gesê Lazarus het ook voordeel getrek uit vlugte wat deur die geheime fonds betaal is. So ook 'n pastoor van die African Dream Family Church.

17 Sep. 14:37:20

Opdraende pad vir ondersoek

Roelofse: Henkel van misdaadintelligensie is toe verwyder van ons ondersoek en na ander afdeling verskuif. Henkel het die nodige dokumente vir my ondersoek teen misdaadintelligensie verskaf. Nadat hy verwyder is, kon ons niks meer uit misdaadintelligensie kry nie.

Soos ons aangegaan het met ons ondersoek en nie dokumente van een bron kon kry nie, het ons ander roete ingeslaan. Ons het geweet dat hulle met privaat maatskappye gewerk het wat nie dokumente kan klassifiseer nie.

Ek het toe aansoek gedoen om op daardie maatskappye se rekenaar- en ander IT-toerusting beslag te lê. Die tegniese ondersteuningseenheid wat ons egter daarmee moes help was in misdaadintelligensie gebaseer. Hulle het onder Lazarus gewerk en was verplig om hom daaroor in te lig. Dieselfde man wat ons ondersoek het.

September verwys hom na ander dokument in bundel en vra wat dit is.

Roelofse: Ek het dit in Maart 2012 opgestel. Daardie tyd was ek baie mismoedig. Sake is net terug getrek in die hof. Dit het gelyk dat ons teen almal moes baklei net om mense aan die pen te laat ry. Ek het daar lys gemaak van wat ons alles gedoen het om seker te maak dat die saak op die hofrol gebly het.

September: Die inligting wat Naidoo jou gegee het, het dit tot ander ondersoeke gelei?

Roelofse: Dit is so.

17 Sep. 14:29:08

Is prokureurs uit geheime fonds betaal?

September: Was daar vorige berig ook gepubliseer oor die rendisie-skandaal?

Roelofse: Ja, op 13 Oktober 2011.

September: Wat het op 21 Oktober 2011 gebeur?

Roelofse: 'n Ontstelde Naidoo het my gebel. Hy het gesê hy is weer by sy huis opgetel en na misdaadintelligensie se kantore geneem waar Barnard en FM07 en FM10 teenwoordig was. Hy het gesê hy het onveilig gevoel. Ek het hom en sy gesin daardie aand in getuiebeskerming geplaas.

Naidoo het my ingelig Lazarus het mag om geld uit die geheime fonds te onttrek en ook verslaggewers te betaal om oor dinge verslag te doen.

Lazarus het ook geld uit die geheime fonds gebruik om verdedigingsprokureurs vir hom te betaal.

September: Hoe weet hy dat prokureurs ook daaruit betaal is?

Roelofse: Ek en Viljoen was op pad na 'n vergadering by OR Tambo met Valke-hoofde toe Viljoen 'n oproep kry van prokureur wat gesê het misdaadintelligensie het hom aangestel om hulle te verteenwoordig in die deursoekingslasbrief wat ons uitgereik het. Ons wou nie met hulle praat omdat hulle nie korrekte prosedures gevolg het nie. Hulle moes deur die polisie se regsdienste gewerk het.

My opinie is dat daardie prokureurs uit die geheime fonds betaal is.

September: Is dit jou opinie?

Roelofse: Ek kan dit nie as feit stel nie. Die prokureur het net gesê misdaadintelligensie het hom aangestel. Ek het aangeneem hy is deur die geheime fonds betaal. So my opinie is gegrond op die telefoniese gesprek wat ons met die prokureur gehad het.

September: Jy praat ook van Cecil Burgess wat toe voorsitter van gesamentlike staande komitee oor verdediging in die parlement was.

Roelofse: Ja dit is so. Ek is ingelig dat Lazarus vir Burgess genader het om te probeer om hom te oortuig dat ons ondersoeke nasionale veiligheid in gevaar gestel het. Ons het briewe daaroor gesien.

17 Sep. 14:19:59

Misbruik van geheime fondse

September sê sy wil voortgaan met Roelofse se getuienis.

Sy vra hom wat op 18 Oktober 2011 gebeur het.

Hy getuig:

 

Ek het reëling gehad om met ene kol. Naidoo op daai dag te ontmoet. Hy het vir misdaadintelligensie gewerk. Hy moes inligting vir my gee. Hy het sewe bundels vir my gegee. Ek het daaruit vasgestel dat Naidoo met die betrokke agente van misdaadintelligensie gewerk het wat ons ondersoek het.

Ek het Naidoo daaroor uitgevra en hom gevra oor Mdluli se reis na Singapoer.

Kol. Naidoo het vir my gesê hy het vir genl. Lazarus gewerk en het direk aan hom gerapporteer.

Hy het beskryf dat hy vriende met Lazarus was en indirekte familie is. En dat hy al baie lank met hom gewerk het. Dat Lazarus ook instrumenteel was om hom van KZN te bring om saam met hom in Gauteng te werk.

Hy was spraaksamig, maar was huiwerig om ten volle oor sy rol te praat en waar hy ingepas het.

Ek het weer met hom op 19 Oktober gepraat. Dit was die volgende dag.

Hy het toe besluit om my te help met die ondersoek. As deel van dit het hy my ingelig van bewerings van die misbruik van die geheime fonds en sy eie rol in die misbruik daarvan.

Hy het op daardie dag terug na sy kantoor gegaan en vir kol. Barnard ingelig. Op dieselfde dag is hy deur FM08 en FM09 (Dit is name van agente wie se name nie bekend gemaak kan word) by sy huis gaan optel.

Hulle het hom na Lazarus se huis geneem en hom daar beskuldig dat hy met die Valke saamwerk en wat hy vir die Valke vertel het. FM10 het ook by hulle aangesluit.

Kol. Naidoo het dit ontken dat hy met die Valke gewerk het. Dit was in daardie gesprek dat FM10 Naidoo ingelig het dat hy deur die mense in die Valke ingelig is dat Naidoo met die Valke werk. Hy het hulle egter weggepraat daarvan.

Hulle het toe gepraat van Westville Travel en vlugkaartjies wat daardeur gekoop is. Die FM's het Naidoo toe ingelig dat Naidoo die vlugkaartjies moet vernietig.

Naidoo het ook gehoor dat Lazarus en die ander 'n advertensie in die media wil plaas rakende die klagte waarvan Dramat en Sibiya destyds aangekla het. Dit om hulle verdag te laat lyk.

Ek het Dramat daarvan ingelig. Die koerantberig het toe op 23 Oktober 2011 in die Sunday Times verskyn. Mdluli het toe 'n voorlegging oor sy vervolging aan die NVG gemaak. Deel daarvan is dat daar sameswering teen hom was. Dit om Dramat en sy mense verdag te laat lyk.

Ek was nie bewus dat die koerantberig gepubliseer sou word wat Dramat by die rendisie-skandaal sou betrek nie. Ek het later daarvan bewus geword.

September: Die inligting wat jy deur Naidoo gekry het, is dit reg dat dit die waarheid was?

Roelofse: Dit was so. Hy het gesê dat Dramat en Sibiya by die rendisie-skandaal in die koerant betrek sou word. Dit het toe net so gebeur.

September verwys hom nou na afskrif van die Sunday Times-berig waarna hy verwys het. Roelofse bevestig dit.

17 Sep. 14:07:44

Die sitting gaan voort.

 

September sê sy wil eers vroeëre vrae van die regter beantwoord. Gaan oor wie die minister van polisie was in die verskillende fases wat Roelofse oor getuig. Sy handig dokument daaroor in.

Sy sê sy wil ook die volle hooggeregshofuitspraak van Freedom Under Law teen die besluit van die nasionale vervolgingsgesag om die strafregtelike vervolging van Mdluli en die tugverhoor teen hom te staak, as getuienis indien.

Die hooggeregshof het daardie besluite omgekeer en beveel dat die 17 klagte weer teen hom en sy medebeskuldigdes ingestel word. Die hof het ook die heraanstelling van Mdluli in sy pos as misdaadintelligensiehoof van die polisie ter syde gestel.

September sê die nasionale direkteur van vervolging het toe onderneem om die klagte weer in te stel.

Meer oor:  Staatskaping  |  Zondo-Kommissie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.