Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
OORSIG: Durbanse sakeman 'steeds nie vervolg,' hoor Zondo
  • Die Zondo-kommissie het verdere getuienis aangehoor oor ondersoeke wat die Valke gedoen het. Een daarvan was 'n ondersoek in KwaZulu-Natal na bedrog binne die polisie.
  • Kol. Johannes van Loggerenberg het hieroor getuig.
  • Die kommissie ondersoek die wydlopende staatskaping in die tyd toe oudpres. Jacob Zuma in beheer was.
15 Jan. 15:37:47

Van Loggerenberg se getuienis is afgehandel.

Die sitting verdaag.

15 Jan. 15:31:58

'Bedrog in die polisie is duidelik'

Van Loggerenberg sê dit was duidelik dat daar bedrog in die polisie was. Hy het die dossier aan Opod se provinsiale hoof in KwaZulu-Natal oorhandig. Mens kan op die polisie se rekenaarstelsel 'n dossier uitboek aan die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) en dit is wat Van Loggerenberg gedoen het.

Robert McBride was in daardie stadium die hoof van Opod en hy het gesê die dossier wys daar is 'n saak wat uitgemaak is. Hierna is die dossier na adv. Gerrie Nel, toe van die nasionale vervolgingsgesag, gestuur en hy het saamgestem daar is 'n saak wat volgens die bewyse in die dossier gemaak kon word.

Die saak het vir jare verdwyn, waarna Shaun Abrahams gesê het die saak moet ingestel word. Hierna het Panday 'n aansoek in die hof gebring dat die saak teen hom geskrap moet word.

Van Loggerenberg sê dit kos nou die staat honderde duisende rande om weer die bal aan die rol te kry sodat die vervolging kan voortgaan.

15 Jan. 15:04:16

Zondo vra of Van Loggenberg ooit enige verklaring gekry het waarin iemand gesê het Panday of kol. Navin Madhoe moet die provinsiale kommissaris impliseer.

Van Loggerenberg sê niks, niks sodanig nie. Niks.

Zondo sê Van Loggerenberg was oor die jare by talle sake betrokke. In van die sake, sou die aanklaer sê wat die redes is waarom sake teruggetrek is?

Van Loggerenberg sê 'n staatsaanklaer sal bel en sê kom hiernatoe, dan werk hulle saam deur die dossier. Dit is hoe dit gebeur het, al die aanklaers doen dit so.

15 Jan. 14:53:39

'Dit gaan eintlik oor die pos van provinsiale polisiekommissaris'

Wentzel verwys nou na 'n brief vanaf adv. Moipone Noko (wat die aanklagte teen Panday en Madhoe teruggetrek het) waarin sy sê dat haar besluit in die belang van geregtigheid geneem is.

Van Loggerenberg sê hy het nie baie gewig gekoppel aan Noko se brief nie. Daarin word genoem dat daar geen bewyse was om enige iemand van enige oortreding te vervolg nie.

Van Loggerenberg sê Noko het al die dossiere gehad. Daar is beëdigde verklarings, forensiese verslae. Hy kan nie verstaan hoe sy tot hierdie gevolgtrekking gekom het dat daar nie bewyse is nie.

Hy sê Riyah Piyega, wat toe die nasionale polisiekommissaris was, het geweet van die ondersoek. Die brief wat deur Noko geskryf is, was in die tyd toe die kontrak vir die provinsiale kommissaris (Ngobeni) in KwaZulu-Natal hernieu moes word. Dit hou daarmee verband. Daar is aangevoer dat genl. Johan Booysen gehoop het om die nuwe provinsiale kommissaris te word sodat hy sy geld op die polisie se hande kan lê.

Van Loggerenberg sê dit is 'n storie wat uit iemand se duim gesuig is. Dit is absolute nonsens.

(Ngobeni se termyn van vyf jaar as provinsiale kommissaris is vir nog 'n tydperk verleng).

15 Jan. 14:29:54

Van Loggerenberg getuig die saak is in 'n stadium aan adv. Gerrie Nel gegee. Nel het gesê dit is 'n goeie saak en hy gaan dit verder neem. Die saak is ook van hom weggeneem.

Van Loggerenbeg word gevra hoe brigadier Van Graan betrokke geraak het.

Hy antwoord toe Dramat die antwoorde van Van Loggerenberg gekry het, het hy vir Van Graan na KwaZulu-Natal gestuur. Van Graan het deur die dossier gegaan en saamgestem dat daar is 'n saak is.

Dramat het gesê hy het nie saamgestem met die senior staatsadvokaat se besluit dat daar nie 'n vervolging moet wees nie.

15 Jan. 14:13:58

Kommissie stuur verkeerde dokumente aan man wat geïmpliseer word

Die sitting gaan voort.

Wentzel sê sy het 'n kwessie om onder Zondo se aandag te bring.

Dit blyk dat die verkeerde dokumente oor Van Loggerenberg se getuienis aan die Durbanse sakeman, Thoshan Panday, gestuur is.

'n Brief hieroor is deur Panday aan die kommissie gestuur. Wentzel sê dit het ongelukkig eers later vanoggend tot haar aandag gekom. Dokumente wat aan Panday gestuur moes word, is per ongeluk aan sy ma gestuur, en andersom.

Panday moet volgens die regulasies van die kommissie vooraf die regte dokumentasie kry.

Zondo sê dit is die getuienisleier se verantwoordelikheid om seker te maak die regte dokumente word aangestuur. Wentzel sê sy het nie die kennisgewings uitgestuur nie. Zondo sê dit is die verantwoordelikheid van die getuienisleier om seker te maak dit is die regte dokumente.

15 Jan. 12:53:38

Die sitting verdaag tot 14:00 vir middagete.

15 Jan. 12:31:13

Adv. Susan Wentzel lei Van Loggerenberg se getuienis.

15 Jan. 12:25:46

Sakeman was vennoot van Zuma se seun, hoor Zondo

Van Loggerenberg getuig daar was bewerings dat hy doodgemaak sou word. Hy het 'n oproep ontvang van 'n vrou wat vir Thoshan Panday werk wat gesê het dat sy bekommerd is want sy het gehoor dat Panday gesê het hy gaan Van Loggerenberg "laat uitvat".

Die dreigement was teen Van Loggerenberg en nog twee polisiebeamptes.

Die vrou het 'n tweede keer gebel en gesê sy raak werklik bekommerd hieroor.

Van Loggerenberg getuig hy het dit aangemeld. Kol. Brian Padayachee is aangestel om die ondersoek te doen en hy het aansoek gedoen om telefoonoproepe te kan afluister.

Die afluistery het egter glad nie gegaan oor die dreigemente nie, maar oor 'n aantyging wat teen genl.maj. Johan Booysen oor 'n kattebak volg geld gemaak is. (Die kommissie het voorheen gehoor dat vals aantygings teen Booysen gemaak is om hom te verwyder as hoof van die Valke in KwaZulu-Natal in 'n poging om die ondersoek teen Panday te keer.)

Van Loggerenberg getuig almal het geweet dat Panday 'n sakevennootskap gehad het met die oudpresident (Zuma) se seun (Edward Zuma). Dit het gegaan oor politiek, sê Van Loggerenberg. "My mening was dat dit 'n politieke besluit was," het Van Loggereneberg getuig oor die besluit dat daar nie 'n vervolging sal wees nie.

15 Jan. 11:54:46

Zondo vra of iemand Ngobeni ooit gevra het hoekom sy die ondersoeke gestaak het.

Van Loggerenberg sê sover hy weet het niemand Ngobeni gevra nie, maar die rede was duidelik vir almal - dit was omdat sy by die ondersoeke geïmpliseer is.

Hy getuig nou dat hulle na genl. Anwa Dramat, toe hoof van die Valke, gegaan het wat gesê het dat Ngobeni nie die mag het om die ondersoek te keer nie. Dit is hoekom hulle toe met die ondersoek voortgegaan het.

Foto: Genl. Ngobeni

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.