Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
OORSIG: Mnr. X vrees vir lewe na Myeni bel - Zondo
  • 'n Sakeman van KwaZulu-Natal, wat slegs as Mnr. X geïdentifiseer word, het verder voor die Zondo-kommissie wat staatskaping ondersoek getuig.
  • Mnr. X het getuig hoe Dudu Myeni aan hom opdrag gegee het om geld wat vanaf haar seun se besigheidsrekening aan hom oorbetaal is, onder meer aan die Jacob Zuma-stigting te betaal.
  • Hy het getuig hoe hy ingesleep is by die skep van vals fakture vir betalings.

LEES OOK: Mnr. X’ vrees wraak oor Dudu Myeni-getuienis 

Volg die regstreekse dekking hier.



18 Feb. 15:32:41

Die sitting verdaag vir vandag.

18 Feb. 15:31:25

Zondo bedank Mnr. X dat hy te midde van vrese vir sy lewe getuig

Zondo het verdere vrae aan Mnr. X nadat sy getuienis afgehandel is.

Zondo wil weet of Mnr. X presies kan onthou wat Dudu Myeni se woorde was toe sy hom gebel het.

Mnr. X sê Dudu Myeni het hom gebel en gevra of hy gesien het daar is aktiwiteite op sy bankrekening. Mnr. X het geantwoord: Ja, hy het dit gesien.

Zondo vra aan Mnr. X of hy self geld gehad het om aan die Jacob Zuma-stigting te skenk. Mnr. X sê die keer toe die geld in sy rekening inbetaal is en hy gevra is om die geld aan die stigting oor te betaal, was sy banksaldo R840 in die skuld.

Zondo verduidelik aan Mnr. X hy moet nog opweeg wat die waarheid is wat voor hom getuig is, maar hy wil intussen dankie sê aan Mnr. X wat na vore gekom en kom getuig het, selfs toe h gedink het sy lewe en dié van sy gesin word bedreig.

Zondo sê die kommissie sal alles in sy vermoë doen om te help om beskerming aan Mnr. X te bied.

Zondo sê die kommissie het meer Suid-Afrikaners nodig om getuienis te kom bied, selfs al meen hulle dit sal hul lewe bedreig. Die kommissie verstaan dit is nie altyd maklik nie.

Mnr. X vra of hy iets kan sê. Hy wil aan sy gemeenskapslede, sy vriende en sy familie sê hy het nie gekom om iemand uit te verkoop nie. Hy is deur die kommissie genader en hy moes die waarheid praat. Hy kon nie anders nie.

18 Feb. 15:08:44

Mnr. X se gesin vrees vir hul lewe

Hofmeyr vra of Mnr. X se maatskappy, Isibonelo-konstruksie, enige werk gedoen het vir Premier Attractions.

Mnr. X sê: Nee.

Hofmeyr sê dat Thalente Myeni se getuienis is dat Isibonelo die werk gedoen het vir Premier Attractions ter waarde van R3 miljoen. Dit sou beteken dat Mnr. X lieg.

Mnr. X sê wat hy aan die kommissie vertel is die waarheid.

Hofmeyr vra was daar enige manier waarop Mnr. X daarby sou baat om vandag die getuienis te lewer. Hy sê daar is niks wat hy hierby baat nie.

Hy sê wat hy verloor is dat hy hoop verloor om te oorleef, dat hy vriende gaan verloor en selfs dat die gemeenskap hom sal sien as iemand wat hulle nie kan vertrou nie.

Mnr. X sê dit raak sy gesin baie erg. Hulle het by die bure gaan slaap. Hulle weet nie wat met Mnr. X sal gebeur hierna nie.

Hy word gevra oor die oproep wat sy dogter op 24 Januarie vanjaar gekry het.

Mnr. X antwoord nadat hy deur die ondersoekspan van die kommissie genader is, het hy aan hulle gesê hulle moet die mense gaan vra wat die geld in sy rekening betaal.

Dit is die dag hierna dat sy dogter 'n oproep van Dudu Myeni gekry het waarin sy gesê het Mnr. X verkoop haar uit.

Zondo vra of Dudu Myeni haar dogter se nommer gehad het. Mnr. X sê ja, hulle het mekaar as familie beskou so hulle het mekaar se kinders se telefoonnommers.

Zondo vra of Dudu Myeni vantevore sy dogter gebel het. Hy antwoord ja sowat anderhalf jaar gelede. 

18 Feb. 14:55:44

Myeni gee opdrag dat Mnr. X R1,8 miljoen vir Zuma-stigting betaal

Mnr. X word nou gevra oor die derde bedrag wat vanaf Dudu Myeni se seun se sakerekening (Premier Attraction) na sy rekening oorbetaal is.

Die bedrag wat inbetaal is, is R1 miljoen. Hiervan het Mnr. X R800 000 oorbetaal in die bankrekening van die Jacob Zuma-stigting nadat Dudu Myeni hom opdrag gegee het om dit te doen.

Hofmeyr sê die geld is op 2 Februarie 2016 in sy rekening betaal en twee dae later is 'n betaling van R800 000 gemaak na 'n rekening met die verwysing JGZF.

In die geval het Dudu Myeni vir Mnr. X telefonies opdrag gegee om die bedrag geld in die bepaalde rekening te betaal. In daardie stadium het Mnr. X nie geweet dit is aan die Jacob Zuma-stigting nie.

Hofmeyr vra of dit Mnr. X se plan was om 'n skenking van R1,8 miljoen aan die Jacob Zuma-stigting te maak.

Mnr. X sê hy het nie geld aan Jacob Zuma geskenk nie. Hy het nie geld om te skenk nie.

18 Feb. 14:48:18

Mnr. X sê hy het nie self belanggestel aan wie die geld betaal word nie. Hy sê dit was vir hom pynlik om te sien watter groot bedrae in sy rekening inbetaal word, wat hy dan weer moet uitbetaal.

Hy het sy sekretaresse gevra om die betalings te behartig.

18 Feb. 14:41:38

Mnr. X betaal geld aan die Jacob Zuma-stigting, hoor Zondo

Adv. Kate Hofmeyr gaan voort om Mnr. X te vra om te getuig oor die ander transaksies wat plaasgevind het nadat daar geld vanaf Dudu Myeni se seun (Thalente Myeni) se maatskappy na Mnr. X se sakerekening betaal is.

Die tweede bedrag van drie bedrae wat in Mnr. X se rekening inbetaal was, was R1,1 miljoen en is op 11 Desember 2015 in Mnr. X se rekening inbetaal.

Myeni het hom gebel en gesê sy sal die besonderhede gee van die bankrekening waarin hy die geld moet oorbetaal. Myeni het dit per SMS of in 'n telefoongesprek gedoen.

Mnr. X het sy sekretaresse gevra om die geld in die rekening in te betaal. Die beskrywing hierby sê betaling is aan die Jacob Zuma-stigting.

Mnr. X sê hy het nie toe geweet die geld is aan die Jacob Zuma-stigting betaal nie, hy het eers van die inligting bewus geword toe hy deur die Zondo-kommissie se ondersoekers genader is as deel van hul ondersoek.

Mnr. X getuig Dudu Myeni het net die rekeningnommer gegee sonder 'n beskrywing aan wie die rekening behoort.

18 Feb. 14:33:10

Mnr. X getuig verder oor geld wat hy op versoek van Dudu Myeni onttrek het.

Hy getuig oor verskeie onttrekkings, onder meer op 25 November 2015 wat hy in opdrag van Dudu Myeni onttrek het. Die bedrag was R100 000.

18 Feb. 14:26:21

Geïmpliseerde getuie raak siek, kan nie vandag getuig

In 'n onverwagse verwikkeling het Mbonesi Majola, ingenieur van die waterraad in Richardsbaai, wat deur Mnr. X in sy getuienis geïmpliseer word as die tussenganger tussen Dudu Myeni en Mnr. X, Maandag siek geword.

Sy regsverteenwoordiger het 'n aansoek gebring dat hy nie vandag as getuie geroep moet word soos wat die plan was nie. 'n Siekbrief word by die kommissie ingehandig.

Zondo aanvaar die siekbrief en sê Majola se getuienis sal later aangehoor word.

18 Feb. 14:20:59

Die sitting gaan voort na middagete.

18 Feb. 13:00:01

Die sitting verdaag tot 14:15 vir middagete.

Meer oor:  Staatskaping  |  Dudu Myeni  |  Zondo-Kommissie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.