Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
OORSIG: Mnr. X vrees vir lewe na Myeni bel - Zondo
  • 'n Sakeman van KwaZulu-Natal, wat slegs as Mnr. X geïdentifiseer word, het verder voor die Zondo-kommissie wat staatskaping ondersoek getuig.
  • Mnr. X het getuig hoe Dudu Myeni aan hom opdrag gegee het om geld wat vanaf haar seun se besigheidsrekening aan hom oorbetaal is, onder meer aan die Jacob Zuma-stigting te betaal.
  • Hy het getuig hoe hy ingesleep is by die skep van vals fakture vir betalings.

LEES OOK: Mnr. X’ vrees wraak oor Dudu Myeni-getuienis 

Volg die regstreekse dekking hier.



18 Feb. 12:59:43

Meer oor die kontantbetalings aan Dudu Myeni

- Die eerste betalings was nadat Premier Attraction op 24 Oktober R1 miljoen in Mnr. X se rekening betaal het.

Op 27 Oktober 2019 het Mnr. X R50 000 kontant onttrek nadat Myeni hom gevra het om dit te doen.

Op 28 Oktober 2015 het Mnr. X R31 500 kontant in Richardsbaai onttrek in opdrag van Dudu Myeni. Hy sê dat Myeni nie gesê het hoekom hy die geld moet onttrek nie en hy het ook nie gevra nie.

Mnr. X het ook op 28 Oktober 2015 'n bedrag van  R600 000 na sy geldmarkrekening oorgeplaas. Hy het geld wat nie sy eie maatskappy se geld is nie na die rekening oorgeplaas, verduidelik Mnr. X.

OP 29 Oktober 2015 het Mnr. X R200 000 onttrek in Richardsbaai in opdrag van Dudu Myeni. Hy het weer die geld vir haar in haar kantoor gaan wegsteek.

Op 3 November 2015 is daar R27 000 kontant onttrek in opdrag van Dudu Myeni en die geld is aan haar oorhandig.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo vra of iemand dit met Mnr. X bespreek het dat die geld vanaf Premier Attraction in sy maatskappy se rekening betaal sou word. Mnr. X antwoord nee.

18 Feb. 12:39:19

Mnr. X getuig hoe hy kontant aan Dudu Myeni gegee het

Mnr. X word gevra wat het van die geld geword wat vanaf Premier Attraction in sy bankrekening inbetaal is.

Hy word gevra om na die drie inbetalings te verwys.

Die eerste was nadat R1 miljoen op 24 Oktober 2015 in sy rekening betaal is.

In sy beëdigde verklaring het Mnr. X gesê Myeni het hom versoek om die geld in kontant aan haar te gee. Mnr. X sê hy dink sy het hom gebel hieroor.

Hy getuig dat hy die geld nie direk aan Myeni oorhandig nie, maar dit na haar huis geneem het. Sy het twee huise gehad waarin sy in 2015 gebly het. Sy het drie huise gehad maar het in twee van die huise gebly sê Mnr. X.

Hy getuig dat hy ook haar kantore gebruik het. Albei haar huise het kantore wat hy ook gebruik het. Mnr. X sê hy het daarheen gegaan en die kontant in die kantore weggesteek maar nie voor die huiswerker nie.

Mnr. X sê sy verhouding met Myeni was baie heg, so hy het toegang gehad tot haar huise. Hy het soms in daardie kantore gaan werk.

Mnr. X sê hy het Myeni dan gebel en gesê presies waar hy die geld weggesteek het. In een of twee gevalle het hy die kontant direk aan Myeni gegee, die ander kere het hy dit in haar kantore weggesteek en haar gebel en gesê waar hy dit weggesteek het.

18 Feb. 12:28:37

So het Mnr. X en Dudu Myeni mekaar geken

Mnr. X word gevra oor die sake wat hy saam met Dudu Myeni gedoen het.

Hy het getuig hulle het in Richardsbaai aan projekte in die konstruksiebedryf saamgewerk.

Dit is toe dat Myeni die besonderhede gekry het van Mnr. X se maatskappy se bankrekening. Myeni het dit gekry want daar is betalings aan hom gemaak vir die werk wat hy gedoen het vir Myeni, getuig Mnr. X.

18 Feb. 12:22:11

Dudu Myeni se seun betaal ook geld aan Mnr. X, hoor Zondo

Mnr. X word nou gevra oor betalings, onder meer een betaling van R1 miljoen wat op 24 Oktober 2015 in sy konstruksiemaatskappy Isibonela-konstruksie gemaak is.

Dit is ook vanaf PA 1016 gemaak.

Die tweede betaling vanaf PA 1016, 'n bedrag van R1,150 miljoen, is op 11 Desember 2015 gemaak.

Die derde betaling was op 2 Februarie 2016 gemaak en ook vanaf PA 1016.

Mnr. X sê hy het nie in daardie stadium geweet wie PA 1016 is nie. Hy het nie geweet dit is deur Premier Attraction gemaak nie en het die ondersoeker van die kommissie gevra om te help in hul ondersoek om uit te vind van wie dit gemaak is.

Mnr. X getuig die ondersoekers van die kommissie het teruggekom en gesê dit is Premier Attraction 1016.

(Maandag het Thalente Cyril Myeni, Dudu Myeni se seun, getuig dit is sy maatskappy.)

Hofmeyr sê die rekening wys Premium Attraction 1016 en vra of Mnr. X in daardie stadium geweet het wie die eienaar daarvan was of in die maatskappy gewerk het.

Mnr. X antwoord nee.

Hy sê die kommissie se ondersoekers het uitgewys dit is Thalente Myeni. Hy het voor Mnr. X grootgeword en hy weet wie dit is.

Hofmeyr vra of hy in die tydperk van Desember 2015 en Januarie 2016 enige sake gedoen het met Thalente Myeni of met Premium Attraction.

Mnr. X antwoord nee.

18 Feb. 12:01:23

Geld vanaf Stefannuti Stocks ook deur Mnr. X ontvang

Hofmeyr verwys nou na 'n bedrag van R900 000 wat Mnr. X op 7 Desember in 'n ander rekening betaal het, asook  R1 miljoen op 9 Desember wat in nog 'n rekening betaal is. Dit is alles van die R2,2 miljoen wat Stefanutti Stocks in Mnr. X se sakerekening inbetaal het.

Op 6 Desember het Mnr. X nog 'n faktuur aan SSOJB uitgereik, hy bevestig dat hy nie geweet het wie dit is nie. In die geval is die beskrywing van werk aangedui as werk aan 'n heining (R895 000) en werk aan 'n pompstasie (R853 000).

Mnr. X sê sy konstruksiemaatskappy het nie sodanige werk gedoe vir SSOJB nie. Die totale bedrag was R1,9 miljoen.

Mnr. X se bankstaat wys dat die bedrag ontvang is vanaf Stefannuti Stocks/OROJB. Mnr. X bevestig dit.

Hofmeyr verwys nou na wat met die geld gebeur het. Mnr. X het die geld aan ander entiteite uitbetaal, in een geval op 24 Februarie 2016 'n bedrag van R850 000, in opdrag van Majola. Dieselfde dag het Mnr. X nog 'n bedrag, R700 000, aan 'n tweede maatskappy betaal in opdrag van Majola.

Op 25 Februarie 2016 het Mnr. X 'n bedrag van R150 000 in kontant onttrek in Richardsbaai in opdrag van Majola. Hy het Majola gebel en gesê hy het nou die geld. Daarna is die kontant aan Majola oorhandig.

Hofmeyr sê hierdie is die einde van die betalings wat aan Mnr. X se maatskappy gemaak is en wat hy daarna weer uitbetaal het.

18 Feb. 11:49:14

Só vloei geld in en uit in Mnr. X se sakerekening

Hofmeyr verwys nou na nog 'n onderneming, Ndima Civils, en 'n faktuur wat Mnr. X uitgeskryf het vir onder meer die verf van 'n dak. Die faktuur is op 29 Septermber 2015 uitgereik. Mnr. X sê ook in dié geval het sy konstruksiemaatskappy nie werk gedoen vir die betaling wat gemaak is nie. Dit was ook in opdrag van Majola.

Die bedrag was vir R816 000.

Die volgende dag, op 30 September 2015, het Mnr. X se ondeneming 'n faktuur uitgeskryf aan SSOJB. Mnr. X sê hy weet nie eers waarvoor dit staan nie. Die beskrywing van werk was om 'n kantoor op te knap. Mnr. X het nie die werk gedoen soos aangedui nie. 

Hofmeyr sê daar sal verdere getuienis gegee word dat dit Stefannuti Stocks is waarna die SSO verwys. Sy vra of Mnr. X enige ooreenkoms gehad het met Stefanutti Stocks. Mnr. X antwoord nee.

Mnr. X getuig hy het ook nie daarna enige handeling met Stefanutti Stocks gehad nie.

Op 2 Desember 2015 is 'n bedrag van R2,2 miljoen in Mnr. X se sakerekening betaal. Dieselfde dag moes Mnr. X 'n bedrag van R30 000 in kontant aan Majola gee. Hy het dit in Richardsbaai onttrek en aan Majola oorhandig.

Dieselfde dag was daar 'n transaksie van geld wat Mnr. X aan 'n ander maatskappy moes oorbetaal.

Die volgende dag (3 Desember 2015) het Mnr. X weer R150 000 kontant in Richardsbaai onttrek op versoek van Majola. Mnr. X het ook die kontant aan Majola oorhandig.

Nog 'n bedrag van R15 000 is onttrek en Mnr. X sê dit kon sy eie tjek gewees het.

Op 4 Desember is daar twee betalings aan Isibuno Sami gemaak, R150 000 en dan nog R100 000, op versoek van Majola.

18 Feb. 11:27:58

Waterraad-ingenieur kom haal self kontant by Mnr. X

Die sitting gaan voort met adv. Kate Hofmeyr wat Mnr. X verder ondervra oor geld wat in 2015 in sy konstruksiemaatskappy inbetaal is, waarna hy dit uitbetaal het in opdrag van Mboniseni Majola, 'n ingenieur by die Mhlathuze-waterraad in Richardsbaai.

Mnr. X se maatskappy, Isibonelo-konstruksie, het onder meer betalings vanaf Klomac-ingenieursdienste vir sogenaamde dienste gelewer soos heinings oprig en werk aan hysbakke.

Mnr. X bevestig sy maatskappy het nie sulke werk gedoen nie en dit ook nie vir vir Klomac gedoen nie.

Nadat die geld deur Klomac in Mnr. X se sakerekening inbetaal is, het hy opdrag gekry van Majola in watter rekeninge hy die geld moet betaal en watter bedrae geld hy in kontant vir Majola moet oorhandig.

Mnr. X getuig die kontant wat hy aan Majola moes gee, is deur hom uit sy bankrekening onttrek, waarna hy Majola gebel en Majola die kontant in persoon by hom kom haal het.

18 Feb. 10:57:21

Die sitting verdaag vir tee tot 11:15.

18 Feb. 10:45:28

Mnr. X getuig hoe geld versprei is sonder dat werk gedoen is

Hofmeyr vra nou oor nog 'n betaling vanaf Klomac, die keer van sowat R866 000, waarin genoem word dat Mnr. X 'n hysbak reggemaak het.

Mnr. X sê ook in dié geval het sy konstruksiemaatskappy nie werk gedoen vir die betaling wat in sy kontstruksiemaatskappy se rekening inbetaal is nie.

Op 21 April 2015 is Mnr. X opdrag gegee deur Majola om 'n betaling van R600 000 te maak aan Sifeza Konke-konstruksie.

Op 22 April 2015 is Mnr. X opdrag gegee om nog 'n bedrag geld in die rekening Isivumo Trading te betaal. In die geval het Mnr. X nie geweet wie of wat dit is nie en hy het nooit enige sake met Isivumo Trading gedoen nie.

Mnr. X getuig oor oor kontantbedrae, onder meer vir bedrae soos R30 000 en R100 000, wat hy in opdrag van Majola in kontant moes onttrek.

18 Feb. 10:30:52

Nog 'n maatskappy se naam wat genoem word, is Afrostructures.

Meer oor:  Staatskaping  |  Dudu Myeni  |  Zondo-Kommissie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.