Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
OORSIG: Vrystaatse-landbouhoof het nooit Vrede-projek gemonitor, hoor Zondo

  • Die Estina-maatskappy, wat volgens 'n ooreenkoms met die Vrystaatse-landboudepartement R220 miljoen moes gee om 'n melkverwerkingsaanleg by die Vrede-plaas te bou, het slegs R16 in sy bankrekening gehad.
  • Dít is Dinsdag aangevoer deur adv. Leah Gcabashe SC, ondervraer van die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping.
  • Sy het die getuienis van Peter Thabethe, voormalige hoof van die Vrystaatse-landboudepartement, gelei..
  • Thabethe het verlede week in sy getuienis erken hy het nié ’n kontrak met die Estina-maatskappy deur senior regskenners laat nagaan voor hy die kontrak geteken het nie.
  • Die Zondo-kommissie, onder leiding van adjunkhoofregter Raymond Zondo, ondersoek die wydlopende korrupsie in die staatsdiens toe oudpres. Jacob Zuma die Nommer Een in die land was.
20 Aug. 16:34:14

Zondo sê dit is duidelik dat daar nie vandag met Thabethe se getuienis klaargemaak kan word nie.

Intussen sal dokumente aan Thabethe voorsien word, sodat hy bepaalde vrae daaroor kan antwoord.

Die sitting verdaag vir vandag.

Die kommissie sit nie Woensdag nie. Daar sal 'n verklaring uitgereik word oor 'n getuie wat dalk Donderdag en Vrydag sal kom getuig, maar daar is 'n moontlikheid dat dit nie sal gebeur nie, sê Zondo.

20 Aug. 16:30:13

Daar word nou gevra dat vandag se sitting kan verdaag.

Gcabashe sê daar is nog heelwat waaroor Thabethe moet getuig en dit kan nie haastig gedoen word nie.

Thabethe kan weer in September kom getuig.

20 Aug. 16:16:59

Die sitting verdaag vir enkele minute.

20 Aug. 16:05:48

Landbouhoof word gevra oor bates wat deur Estina oorhandig is

Gcabashe vra dat Thabethe teruggaan na 'n ander bondel dokumente. Dit is 'n maandelikse finansiële verslag - is dit die tipe verslag waarna Thabashe verwys?

Thabethe sê dit is korrek.

Gcabashe sê die twee verslae is heeltemal verskillend. Die rekord van bates wat aangeteken is met die oordrag van die Vrede-melkplaas na die VOK stem glad nie hiermee ooreen nie.

Thabethe sê hierdie maandelikse finansiële verslag is nie 'n bateregister nie. Meer detail is in die bateregister aangeteken.

Gcabashe sê daar is ook die getuienis van Basson wat sê daar was van die trekkers op sy perseel, want hy maak trekkers reg.

Thabethe sê soos hy dit verstaan is dat Basson die trekkers regmaak, so hy sal daarmee saamstem.

Gcabashe sê die gedetailleerde lys van bates is nié dieselfde as die maandelikse finansiële verslag nie.

Zondo sê met ander woorde Thabethe kon nie op die maandelikse finansiële verslae steun om te bepaal wat die bates van die Estina-projek was wat veronderstel was om oorhandig te word nie.

Thabethe sê hy stem saam dat die maandelikse verslag nie die besonderhede gee nie, maar dat daar byvoorbeeld net sal staan plaastoerusting is vir R42 000 gekoop. Met die bateregister kan mens sê volgens die finansiële verslae is daar plaastoerusting gekoop, so waar word dit op die bateregister aangedui.

20 Aug. 15:54:53

Estina se werk by Vrede-projek is nie behoorlik gemonitor, hoor Zondo

Thabete word nou gevra oor die kontrak wat met die Vrystaatse Ontwikkelingskorporasie (VOK) aangegaan is om die Vrede-melkplaas te bestuur. Hy getuig dat dat Vrystaatse-landboudepartement nié 'n begroting beskikbaar gestel het vir die werk wat deur die VOK gedoen moes word nie.

Gcabashe verwys nou na 'n bondel met hofdokumente. Die een dokument is die ooreenkoms met die VOK en die verantwoordelikhede van die onderskeie partye.

Thabethe vra of hy dit in die rekord moet inlees. Zondo antwoord hy kan daarna kyk om sy geheue te verfris.

Thabethe sê die ooreenkoms met die VOK was om die projek te bestuur. Dit sluit ook 'n lys van bates in sodat daar verwys kon word watter bates aan Estina behoort.

Gcabashe sê Estina is nie as 'n implementeringsagent gemonitor nie. Daar is slegs staatgemaak op Estina se verslae.

Thabethe getuig die verslae is gebruik om te weet wat met die projek aangaan.

Zondo vra of hy ooit gegaan het om te gaan kyk of die verslae wys wat wel gedoen is.

Thabethe sê hyself het baie ongereeld gegaan, in ag genome dat daar ander amptenare is wat dit sou doen.

Gcabashe sê want daar was verslae dat beeste van die plaas gesteel is, voer is gesteel en melk vanaf die plaas is in die omgewing verkoop. Dit is hoekom sy aanvoer die projek is nie behoorlik gemonitor toe dit deur Estina bestuur is nie.

Thabethe sê net omdat daar dinge gebeur het, beteken dit nie dat hulle nie die projek gemonitor het nie.

Daar is in 'n stadium vasgestel daar is van die beeste weg. Indien daar beeste gesteel is, is hulle gesteel. Maar hulle het geweet daar is probleme met die beeste. Hulle het geweet wat op die grond gebeur.

Gcabashe sê sy twyfel of die departement weet wat by Estina gebeur het.

Die VOK het by die plaas opgedaag en 'n lys saamgestel oor wat daar gekry is, maar daar was nie 'n lys waarmee dit gekontroleer kon word nie.

Thabethe sê dit is Estina wat die lys saamgestel het. Daardie lys is saam met die VOK nagegaan.

20 Aug. 15:31:11

Vrede-melkplaas moes weens 'uitdaging' gestop word

Thabethe word gevra om na foto's van die Vrede-aanleg te kyk en dit te vergelyk met die melk-verwerkingsaanleg wat hy van Paras in Indië besoek het.

Gcabashe vra hy moet die twee aanlegte vergelyk.

Thabethe sê dit is 4 of 5 jaar later, hy kan nie nou daarop antwoord nie. Hy sê ook daar moet onthou word dat die Estina-projek nooit voltooi is nie.

Gcabashe sê Thabethe het die dokumente afgeteken dat alles van Fase 1 van die projek afgehandel is.

Thabethe sê die dokument het gegaan oor die eerste R30 miljoen deel en het nie gegaan oor dié deel nie.

Gcabashe sê wat was die volgende fase van die projek volgens Thabethe.

Thabethe sê daar was 'n uitdaging en die projek moes gestop word.

Gcabashe vra of die melkverwerkingsaanleg dan deel was van fase 2, kan hy die tydlyn onthou vir dele van die projek wat voltooi moes wees.

Thabethe sê die tyd toe die projek gestaak is, was nadat die nasionale departement van landbou sy fondse gestaak het omdat Nasionale Tesourie dit voorgestel het as gevolg van die ondersoek waarmee hulle besig was.

Gcabashe sê daar is op 21 Augustus 2013 'n brief aan Thabethe gestuur dat die nasionale landboudepartement twee betalings vir die Vrede-melkplaas terughou. Daar was egter reeds betalings gemaak wat sou beteken dat daar genoeg geld sou wees tot einde Maat 2014 (die einde van die boekjaar).

Thabethe sê die briewe wat in Augustus ontvang is, het aangedui die betalings moet daardie boekjaar reeds gestop word aan Estina.

Gcabashe sê die kontrak is op 13 Augustus 2014 met Estina beëindig, watter geld sou hulle reeds in daardie stadium bestee het en watter werk moes hulle reeds in daardie stadium klaar gedoen het?

Thabethe sê die projek is gestaak sodat die ondersoek gedoen kan word.

Gcabashe sê Estina se geld sou gebruik word om die melk-verwerkingsaanleg te bou. Die klem val nou op dié verwerkingsaanleg. Estina kon met sy deel voortgegaan het.

Thabethe sê die hele projek is gestaak, nie net 'n enkele deel daarvan nie. Indien die melkery nie voltooi kon word nie, sou die verwerkingsaanleg ook nie kon werk nie.

Gcabashe sê die melkverwerkingsaanleg het nooit ooit gewerk nie.

Thabethe sê dit kon nie, want die projek is nie voltooi nie.

Gcabashe sê die aanleg wat Estina moes bou is nooit deur die landboudepartement nagegaan nie.

Thabethe sê dit was nie nodig nie, daar is 'n plan afgeteken wat gevolg moet word.

Gcabashe vra of daar in die stadium met die projek voortgegaan kan word as mens kyk na die struktuur wat gebou is.

Thabethe sê daar moet eers 'n ondersoek wees wat kan bepaal of die verwerkingsaanleg sal kan werk.

20 Aug. 15:11:04

Landbouhoof 'wou nie Estina se kontakbesonderhede gee vir ondersoeker'

Gcabashe sê die ondersoekers wat deur Nasionale Tesourie aangestel is, vanaf ENS, het vir Kamal Vasram, die enigste direkteur van Estina, gekontak. Vasram het geweier om saam te werk.

Hierna het die Tesourie-ondersoeker na Thabethe gegaan en sekere dokumente gevra maar hy het geweier om dit te verskaf.

Thabethe sê indien die ondersoek 'n derde party sou insluit, moes dit 'n ander roete volg.

Gcabashe sê Thabethe se weergawe van wat gebeur het is heel anders as wat die ondersoekers sê. Die ENS-ondersoekers het gesê Thabethe het gesê hy het kontak met Vasram maar Vasram wil nie praat nie.

Gcabashe vra of Thabethe 'n probleem met met openlikheid, verantwoordelikheid en deursigtigheid?

Thabethe sê nee hy het nie.

Dit is die gevolgtrekking wat in die verslag geskryf is dat hy nie wou help nie, maar hy het tog saamgewerk, volgens Thabethe.

Gcabashe sê die volgende voorbeeld was dat Thabethe nie sy kliënt-regsverteenwoordiger-privilegie wou opgee ten opsigte van 'n staatsprokureur nie. Thabethe sê dit was nie sy besluit nie, die staatsprokureur was 'n staatsamptenaar.

Zondo sê ook die staatsprokureurs moes self die inligting gee. Maar hier word genoem dat Thabethe geweier het dat die staatsprokureurs die inligting verskaf.

Thabethe sê indien hulle'n ondersoek doen oor die provinsiale regering, kan hulle met enige departement kontak maak wat by die projek betrokke is.

Die Tesourie-ondersoekers sê hulle het Thabethe gevra vir die uitvoerende hoof van Paras se identiteit met wie hy kontak gehad het, maar Thabethe wou nie sy naam of kontakbesonderhede verskaf nie.

Die ondersoekers het ook gesê dit kan wees dat Thabethe sekere inligting weerhou van die ondersoekers, soos dat hulle nie Estina se weergawe van die gebeure kon bepaal nie, omdat Thabethe nie die uitvoerende hoof of kontaknommer wou verskaf nie.

Thabethe sê die dokumente wat beskikbaar is voor Zondo en aan almal wat dit gevra het, is dieselfde dokumente. Dit is alles dieselfde. Hy verstaan nie watter dokumente hy weerhou het dat die Tesourie-ondersoekers kon dink hy het goed weggesteek nie. 

Thabethe sê hy stem dus nie saam nie. Daar is niks op skrif wat sê hy wou nie help nie. Hy het ook verduidelik hoe hy gevoel het Vasram is 'n party buite die departement.

Thabethe vra dat hy eers die geleentheid kry om die verslag van Maree na te gaan, voor hy oor ander punte daarin kommentaar lewer.

20 Aug. 14:48:23

Landbouhoof 'wou nie met ondersoekers van Tesourie saamwerk' hoor Zondo

Gcabashe sê David Maree, landboukundige, het gesê die departement het nié enige waarde uit die projek gekry nie. Dit is in die verslag wat Maree in opdrag van Nasionale Tesourie saamgestel het.

Die projek was op die verkeerde plek, die keuse van melkbeeste was verkeerd, daar was ook nie die regte voer nie - m net 'n paar goed te noem.

Thabethe sê hy het ongelukkig nooit die geleentheid gehad om Maree se verslag te sien alvorens dit na Nasionale Tesourie gestuur is nie. Thabethe sê hy stem nie saam met Maree se verslag nie.

Zondo sê hy kan nou die geleentheid gebruik, indien daar dele van die verslag is waarmee hy nie saamstem nie.

Thabethe sê hy vil vra dat hy die geleentheid kry om op die verslag te reageer. Hy is nie die geleentheid gegun om kommentaar te lewer aan Nasionale Tesourie nie.

Gcabashe sê hy het geweet Nasionale Tesourie doen 'n ondersoek en hy is twee keer deur die ondersoekers van Nasionale Tesourie ondervra. Thabethe sê dit was net een keer.

Gcabashe sê dit was op 9 Oktober 2013 en 22 November 2013.

Thabethe sê dan was dit 3 keer. Zondo sê mens kan nie by 3 uitkom as jy nie met 2 saamstem nie.

Gcabashe sê dit kan 2 keer wees, maar as hy na die datums luister kan dit dalk 3 keer wees.

Thabethe sê hy onthou nou, dit was 3 keer. Die eerste keer het hulle nie gekommunikeer nie, want hy het hulle teruggestuur omdat hulle nie enige bewyse gehad het dat hulle van Tesourie af was nie.

Die 2de keer het hulle met hul aanstellingsbriewe gekom en gesê hulle soek sekere dokumente.

Die 3de keer het hulle wel gekommunikeer.

Gcabashe sê Thabethe kon Tesourie tog bel om te hoor of hulle 'n ondersoek doen.

Thabethe antwoord mens kan nie net opdaag sonder 'n aanstellingsbrief of die raamwerk waarbinne hul ondersoek is nie.

Gcabashe sê maar selfs met die aanstellingsbewyse was Thabethe 'n moeilike mens om mee saam te werk.

Thabethe sê hy dink nie hy was moeilik nie, hy was sag. Hy was die hoof van die departement en die mense wat gestuur is was nie op sy vlak nie. 'n Ander hoof van 'n departement moes eers met hom gekontak het.

Zondo sê Nasionale Tesourie doen sulke ondersoeke en mens sou verwag dat die houding van ander departement se hoofde sou wees om saam te werk indien Nasionale Tesourie iemand stuur om 'n ondersoek te doen. Dit is nie iemand van buite die regering nie, dit is van dieselfde regering.

Thabethe sê hy het na die 1ste ontmoeting saamgewerk. Hy sê mens kan nie net dokumente oorhandig sonder dat daar 'n formele brief is wat sê sekere dokumente moet oorhandig word nie.

20 Aug. 14:29:44

Op 'n vraag of daar waarde vir geld was met die Vrede-melkplaas, antwoord Thabethe die projek is nooit voltooi nie, so hy kan nie sê of daar waarde vir geld is nie.

20 Aug. 14:25:46

Mosebenzi Zwane het gesê die melkplaas moet by Vrede wees, hoor Zondo

Gcabashe gaan voort met Thabethe se getuienis en spesifiek die verkryging van die grond by Vrede.

Sy vra wie het besluit op Vrede.

Thabethe sê die LUR (Mosebenzi Zwane) het gesê daar moet gesoek word na grond in die omgewing van Vrede. Hy ken die omgewing want dit is waar hy grootgeword het.

Gcabashe sê Ace Magashule, toe die premier van die Vrystaat, het die Vrede-plaas besoek. Was Gcabashe deel van dié besoek. Wat was die doel van die besoek?

Thabethe sê toe Magashule die plaas besoek het, was dit om te gaan kyk of daar wel 'n projek is. Daar is al geld bestee en vrae het ontstaan of daar 'n projek is. Magashule het gaan kyk of die projek wel bestaan.

Gcabashe vra oor die tegniese kundigheid wat aan boord gebring is vir die projek. Wat was hierdie kundigheid? Weet Thabethe wat dit was?

Hy antwoord hy weet nie watter kundigheid daar gebruik is nie, hy het gehoor daar was 'n veearts.

Gcabashe sê (Willie) Basson het getuig hy was nie beïndruk met die 3 Indiese mans wat daar by die projek was nie. Hulle het opgedaag sonder om eers 'n skroewedraaier by hulle te hê.

Basson het ook klagtes gehad dat materiaal van 'n swak standaard vir die projek gebruik is.

Zondo sê Basson het gesê die toerusting wat vanaf Indië gebring is was nie nuwe materiaal nie, maar ou goed.

Thabethe sê hy het die eerste keer dié inligting gehoor toe Basson daaroor getuig het.

Zondo vra die kere toe Thabethe die plaas besoek het, het hy nie opgemerk daar is toerusting wat te oud is vir 'n nuwe projek nie? Mens kan dalk sien dat 'n projek skaars 3 maande oud is, maar die toerusting is al 5 jaar oud nie?

Thabethse sê hy het dit nie opgemerk nie.

Zondo sê die grootte van die projek en die geld wat die departement daarin sou sit was van so aard dat hy sou verwag as hoof van die departement sou Thabethe self gaan vasstel of die kundigheid wat hy so graag vanaf Paras wou gehad het, wel die kundigheid is wat nou daar by die projek is. En dat dit iets is wat Thabethe sou wou gaan vasstel.

Ook dat hy 'n inspeksie sou gaan hou of alles wel volgens die plan gebeur het.

Zondo sê Thabethe het Indië besoek en hy het die projek gaan verkoop aan die plaaslike gemeenskap van Vrede. Mens sou verwag dat hy sou vra waar is die kundigheid vanaf Paras, wanneer sou dit opdaag?

Thabethe antwoord daar sou verskillende mense op verskillende tye van die projek opdaag. Met die bou van die melkery sal daar verskillende kundiges wees, met die suiwelaanleg sou daar weer ander kundiges wees. Tydens die konstruksiefase het die departement gesê daar moet subkontrakte aan plaaslike mense gegee word en die deel van die projek moes nie gedoen word deur mense van Indië wat ingebring word nie.

Thabethe sê hy sal met Zondo saamstem, hy het nie gaan ondersoek doen of die kundigheid wat hy verwag het, daar sal wees nie. Hy het gedink die projekspan sou dit noem indien daar probleme is.

Zondo noem of Thabethe sou kon gevra het vir verslae oor wie die mense was wat van Indië van Paras gebring is en watter kundigheid hulle het, sodat hy kon sien of Paras die mense stuur wat regtig nodig is?

Thabethe antwoord nee, hy het nie verslae gevra nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.