Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
OORSIG: Kommissie verdaag sodat Afrikaanse tolk gevind kan word

  • Die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping fokus tans op die Estina-projek en die Guptas, asook Vrystaatse amptenare en politici se betrokkenheid daarby.
  • Doctor Radebe, voormalige DA-raadslid in die Phumelele-munisipaliteit, asook Willie Basson, ‘n sakeman van Vrede, getuig.
  • Die Vrystaatse regering het meer as R200 miljoen aan Estina, 'n Gupta-verwante maatskappy, betaal om die Vrede-suiwelprojek te bestuur.
  • Die Vrystaatse regering betaal glo steeds maandeliks R1 miljoen aan 'n maatskappy om die tussen 120 en 160 melkkoeie te melk.
25 Jul. 13:34:23

Zondo verdaag dan tot Vrydagoggend om 09:30. 

25 Jul. 13:34:01

Zondo: Wat môre se begintyd betref, hoe lank sal môre se eerste getuie wees?

Gcabashe sê daardie getuie sal so drie tot vier ure lank getuig.

Gcabashe: Die tweede een impliseer niemand, so ons het hom ingedruk vir môre, maar hy is in Johannesburg en ons kan hom vra om op 'n gereedheidsgrondslag te wees.

25 Jul. 13:32:38

Zondo: Jammer, soos ek gesê het, my Afrikaans is nie so goed nie. Hoe meer ek luister, hoe meer verstaan ek. Me. Gcabashe is baie bekommerd.

Gcabashe: Dit is so, Voorsitter.

Sy sê dit sal met alle respek aan die huidige tolk beter wees as 'n ander tolk gekry word omdat dit in belang van die kommissie is.

Zondo sê aan die tolk daar is kommer oor die akkuraatheid van sy tolkwerk. Haar kommer is genoeg dat ons 'n ander tolk moet kry. Verstaan jy?

Die tolk sê dit is so.

Zondo vra of Basson môre beskikbaar sal wees om voort te gaan.

Basson: Ja, ek kan oorslaap.

25 Jul. 13:29:46

Gcabashe: Al die fakture wat jy het, het dieselfde posbus in Vrede gebruik.

Basson: Dit is 100% reg. Hulle het kantore op die melkplaas.

Gcabashe: Behalwe Prasad, wie anders het jy nog op die plaas ontmoet?

Basson: Kyk daar was drie Guptas. Dit is nou familie van die grootkoppe. Ek het drie persone daar gehad. Hulle het aan stoomketels gewerk. Hulle was van Indië. Hulle is as Guptas aan my voorgestel.

Zondo: Jy het van grootkoppe gepraat. Wie is dit?

Basson: Dit is nou die drie Guptas wat in die media genoem word.

Zondo: Herhaal net jou antwoord.

Basson: Kyk, toe die stoomketel in die land in skeepshouers ingevoer is. Toe kom drie "Indians" na my toe. Ek het toe die goed uit die skeepshouers gehaal. Dit is daardie tyd wat hulle daar aangekom het. Hulle kon nie Engels of niks praat nie.

Gcabashe: So het jy Prasad en die drie mense ontmoet wat as die Guptas aan jou voorgestel is? Jy het toe met hulle onderhandel om die melkery te stig?

Basson: Ja, hulle het gekom om die ding op te rig. Die melkprosesseringsaanleg.

25 Jul. 13:24:56

Zondo sê sy Afrikaans is ook nie so goed nie, maar dat hy al hoe meer verstaan hoe meer hy dit hoor. Hy vra die tolk dan om baie versigtig te luister en dan presies te vertolk wat gesê word.

Gcabashe sê sy sal ook haar vrae korter hou.

Die tolk probeer vertolk, maar Gcabashe sê sy is bietjie vies dat dit nie is wat sy gevra het nie.

Gcabashe sê sy soek net duidelikheid oor Basson se antwoord. Sy vra of hy gesê het Estina behoort aan die Guptas.

Basson: Ja, dit is so.

Gcabashe: En jy sal verduidelik wie die Vrede-melkery besit.

Basson: Die Vrede-melkery behoort nou aan die provinsie wat dit oorgeneem het. Dit is hulle wat nou die melkplaas bestuur.

Gcabashe: So daar was kantore van die departement van landbou in Bloemfontein?

Basson: Dit is 100% reg. Ek dink amper hulle het 'n ander naam ook.

Gcabashe: Die ander naam wat ons ken, is DART.

Basson: Ek ken nie daardie naam nie. Daar is so baie trekkers wat ek ook vir hulle regmaak.

Gcabashe: Kan dit ook die Vrystaatse Ontwikkelingskorporasie wees wat ook jou dienste gebruik het?

Basson: Dit kan so wees ja.

25 Jul. 13:20:28

Gcabashe: Net oor die beesskure waarmee jy moet help, jy het toe 'n kwotasie aan Estina gestuur? Dit is op bladsy sewe in die bundel voor jou.

Basson blaai nou daarheen.

Basson: Die bedrag was R6 384 en dit is aan Estina gestuur.

Gcabashe: Ek wys dit uit omdat jy in jou verklaring sê daar was ook 'n ander subkontrakteur.

Basson: Hulle het van die subkontrakteurs laat loop omdat hulle te duur was. Daar is nog iets. Die ander subkontrakteur was Koos. Koos Eksteen. En nog 'n persoon. Hulle het ook 'n ander kontrak by Estina gehad. Maar hulle het geen masjiene gehad nie. Hulle het toe vir my gehuur om die werk vir hulle te doen. Koos is eintlik 'n ingenieur wat die werk gekry het, maar hy het nie die masjinerie gehad nie en het my gevra om uit te help.

Daar is fakture wat ek ook vir Koos Eksteen geskryf het.

Gcabashe: Die meeste van die fakture van jou is eerder na Estina of na die Vrede-suiwelprojek gestuur.

Basson: Ek het vir my kantoordame gesê om al Estina en die Vrede-suiwelplaas se fakture uit te haal.

Gcabashe sê daar het net 'n vertolkingsfoutjie ingesleep omdat sy Basson verstaan dat hy met die laaste antwoord bedoel het dat hy sy kantoordame gevra het om al Estina en Vrede se fakture uit te haal toe hy sy verklaring vir die kommissie voorberei het.

Basson sê dit is so.

Gcabashe: Dit verduidelik egter nie aan die voorsitter wie die Vrede-suiwelprojek was nie. Was dit ook die maatskappy Estina?

Basson: Kyk, Estina het sy eerste fakture. Die Vrede-melkery is oorgeneem deur die provinsiale regering.

Gcabashe sê sy is op universiteit gedwing om Afrikaans te doen en dat sy verstaan al kan sy nie so lekker praat nie. Sy sê daar is nou en dan belangrike inligting wat in die vertolkte weergawe uitgelaat word. 

25 Jul. 13:10:27

Basson: Die plaas is toe nog deur die munisipaliteit besit voordat Estina dit gekoop het. Die munisipaliteit se boerdery daarop was bekend as Krynaauwslust.

Kyk, dit was nie eintlik 'n privaat persoon wat die plaas bewerk het nie. Dit was raadslede van die munisipaliteit.

Zondo: Is dit raadslede?

Basson: Hulle het 'n plaasboer gehad wat dit namens hulle bedryf het. Hulle het toe met beeste en mielies geboer.

Gcabashe: Jy sê in Maart 2013 is jy versoek om dreinerings- en konstruksiewerk met betrekking tot die beesskure te doen.

Basson: Dit is so. Want daardie sloot is baie groot en is gebruik om die urine van die beeste weg te voer.

25 Jul. 13:05:10

Gcabashe: Jy sê jy is in 2012 gekontak deur mense wat wou hê jy moet help by die suiwelprojek?

Basson: Ja. Dit was C.P. Prasad van Indië. Hy was die bestuurder.

Hy het my gevra om te help met paaie bou en 'n damwalletjie wat moes klaarkom. Dit was rondom 2012 en 2013. Ek is nie so seker nie, maar dit was daardie tyd. 

Gcabashe: Die kommissie het reeds gehoor dat die suiwelplaas teen Desember 2012 al aan die gang was. Is dit so?

Basson: Nie heeltemal nie. Dit was net gedeeltelik. Hulle was besig om 'n groot stoor op te sit.

Gcabashe: Net om jou te help om die gebeure in kronologiese volgorde te onthou. Jy praat van 'n dam wat jy gebou het. Was dit voordat jy die skuur gebou het?

Basson: Nee dit was ná die dam dat die skuur gebou is. Die beeste wat toe al reeds op die plaas. Hulle is al in 'n sirkel gemelk. Daar was 'n klein skuurtjie waar hul voer in was. Ek was al op die plaas voordat Prasad my daarheen genooi het. Die geboue was toe nog nie daar nie. 

Zondo: Hoe lank voor daardie besoek was jy ook op die plaas?

Basson: Dit was so vier jaar voor dit toe ek laas daar was.

25 Jul. 12:57:50

Gcabashe: Vir hoe lank het jy 'n konstruksiebesigheid in Vrede?

Basson: Van 1978 af.

Gcabashe: Jy praat ook van die uithuur van grondverskuiwingsmasjinerie. Is dit deel van die konstruksie-onderneming?

Basson: Dit is inderdaad. Ek is ook 'n plaasboer. Ek boer met vleis- en melkbeeste sowel as met wild. Ek het onlangs die plaas met die vee verkoop. Dit is nou die bees- en wildplaas.

Ek het nooit belange in die melkbedryf gehad nie. Maar ek het wel die melkboere in die omgewing geken. Ek ken die boere wat op die grond by Vrede geboer het voor die Estina-projek. Een van die plase se naam was Krynauwrus. Daardie boere was nie melkboere nie.

25 Jul. 12:52:31

Gcabashe vra hom nou om na sy beëdigde verklaring in die bundel voor hom te gaan. Hy sê dit is sy naam en handtekening wat daarop is.

Hy sê hy het die verklaring op 26 Junie in Vrede onderteken.

Gcabashe vra of hy enige wysigings, al is dit klein, aan sy verklaring wil aanbring.

Basson sê hy het R1 miljoen se voer aan die plaas verskaf.

Zondo sê hy het seker nie die vraag reg verstaan nie. Hy sê die vraag is of hy enige veranderinge aan sy verklaring wil aanbring. Basson sê nee.

Gcabashe vra waar Basson woon.

Hy sê hy bly in Vrede by Kerkstraat 61.

Gcabashe: Van waar bedryf u u onderneming?

Basson: Vanaf Kerkstraat 1 in Vrede. Nog 'n besigheid is in die Vrystraat in Standerton. Ek het ook 'n huis en nog 'n onderneming in Warden.

Gcabashe: Hoe ver is u onderneming vanaf die Vrede-suiwelplaas wat kilometers betref?

Basson: Op die meeste agt kilometer. Ek verwys na die onderneming in Vrede en die plaas.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.