Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
OORSIG: Giftige plante groei op Vrede-melkplaas, hoor Zondo

  • Die grootskaalse korrupsie met die Vrystaatse Estina-suiwelprojek word verder voor die Zondo-kommissie ondersoek.
  • 'n Begunstigde van die Vrede-suiwelprojek in die Vrystaat het Dinsdag aan die Zondo-kommissie gesê kleinboere is elk 10 melkkoeie beloof asook 52% aandele in dié projek, maar daarvan het hulle niks gesien nie.
  • Die Vrystaatse regering het meer as R200 miljoen aan Estina, 'n Gupta-verwante maatskappy, betaal om die Vrede-suiwelprojek te bestuur.
  • Die einde van die uitgawes aan die mislukte projek is steeds nie verby nie en die Vrystaatse regering betaal glo steeds maandeliks R1 miljoen aan 'n maatskappy om die tussen 120 en 160 melkkoeie te melk.
  • Die Zondo-kommissie ondersoek die wydlopende korrupsie in die staatsdiens.
23 Jul. 14:52:46

Zwane vat koor wat siek word van brandrissies na Indië

Dhlamini getuig elkeen sou 10 melkkoeie kry, die koeie sou by die Vrede-melkplaas gehou word. Die begunstigdes sou na Indië geneem word om te leer hoe om die beeste te melk of hoe om hulle kos te gee.

Dit sou werkskepping in die projek beteken.

Dhlamini sê hyself het nié werk gekry by die plaas nie. Daar is wel lede van die gemeenskap wat werk gekry het, maar nie die plaaslike veeboere nie.

Gcabashe vra wat het geword van die belofte dat hulle in Indië opgelei sou word?

Dhlamini antwoord Zwane het eerder sy koor na Indië gevat vir opleiding en hulle het nie die plaaslike boere saamgevat nie. En die vreemdste is, hulle het brandrissies geëet en kon nie eers lank bly nie.

Zwane se pa was 'n pastoor en daar was 'n koor by Zwane se ouerhuis. 

Zondo sê so Zwane het 'n koor gehad en in stede daarvan om die boere na Indië te vat om opgelei te word, het hy sy koor gevat.

Dhlamini sê dit is korrek.

Zondo vra of hy die koorlede gevat het om opgelei te word as plaaswerkers.

Dhlamini antwoord dit is 'n klein gemeenskap so die kinders (van die koor) het gesê hulle het gegaan. Hulle is na Indië geneem om te leer oor die suiwelprojek.

23 Jul. 14:42:42

Dhlamini getuig van die boere wat vleisbeeste gehad het, was onder die indruk dat hulle dit moes verkoop en dan melkbeeste sou kry.

Hy noem die name van mense wat hy van weet wat hul vleisbeeste verkoop het. Hulle het dit aan die openbare beskermer genoem.

23 Jul. 14:30:12

Elke begunstigde sou 10 melkbeeste kry

Dhlamini word gevra oor 10 melkkoeie wat aan elke begunstigde gegee sou word.

Dhlamini getuig die Vrystaatse regering het gesê elke begunstigde sou 10 melkkoeie kry wat na die melkplaas geneem sou word en waarvan die begunstigdes die inkomste uit melkverkope sou kry.

Die begunstigdes is aangesê om hul vleisbeeste te verkoop (indien hulle wou) om dan 'n groter aandeel in die projek te kry. Dhlamini sê hy glo daarin mens tel nie jou kuikens voor dit uitgebroei is nie, so hy het nie sy vleisbeeste verkoop nie.

Zondo sê so die plaaslike mense is aangesê daar is 'n keuse wat hulle kon neem om hul vleisbeeste te verkoop en dan melkbeeste te koop wat deel kon vorm van die projek en daartoe lei dat hulle 'n groter aandeel kry. Maar kon hulle ook deel word van die projek indien hulle nie hul beeste verkoop nie?

Dhlamini verduidelik daar is aan die eienaars van beeste gesê die Vrede-munisipaliteit gaan 4 000 hektaar weiding veld aan die projek gee, so daar sal nie meer plek wees vir die plaaslike mense se vee om te wei nie. John Motaung, burgemeester van Vrede, het dit by 'n tweede vergadering aan die plaaslike kleinveeboere gesê.

23 Jul. 14:17:07

Dhlamini getuig oor 'n komitee wat die begunstigdes van die Vrede-melkplaas verteenwoordig het.

23 Jul. 14:09:05

Adjunkhoofregter Raymond Zondo is gereed. Die sitting begin weer.

Ephraim Dhlamini, 'n begunstigde van die Vrede-melkplaas, getuig verder.

23 Jul. 13:06:12

Die sitting verdaag vir middagete.

23 Jul. 13:06:02

Dhlamini getuig oor 'n tweede vergadering. Daar is genoem dat daar 'n honderd begunstigdes sal wees vir die Vrede-suiwelprojek. Hulle sal 'n 52%-aandeel in die projek kry.

20% sou gaan aan die konstruksie van paaie, 'n kliniek en studiehulp aan kinders. Nog 28% sou aan die staat behoort.

Dhlamini sê toe hy gehoor het hulle gaan Indië toe om opleiding te kry, was hy opgewonde om deel te wees van die projek.

Zwane was ook by hierdie tweede vergadering. Hy was die hoofspreker by die geleentheid.

Dhlamini word gevra of Zwane se vrou, Roseline (Topsy) Zwane by die eerste vergadering was. Hy sê daar was baie mense, sy was ook daar.

Dhlamini getuig daar is gesê diegene wat vleisbeeste het, moet dit verkoop, sodat hulle geld het vir aandele in die nuwe projek.

Hy word gevra om mooi te luister na die vraag, is daar plaaslike mense gekies op 'n komitee om die plaaslike mense te verteenwoordig. Die komitee is gestig nadat 'n lys van name geneem is.

23 Jul. 12:45:30

Zwane het beloof hy wil goed doen vir die mense van Vrede

Zwane het by die vergadering gesê die mense moet 'n groep vorm.

Zwane het gesê wanneer hy 'n projek begin moet dit 'n baie suksesvolle projek wees. Aangesien dit 'n melkplaas is, moet die koeie gemelk word en daar moet die verwerking van melk wees in jogurt en kaas, volgens Dhlamini.

Zwane het 'n sin vir humor, hy het gesê hy ken ons persoonlik en wil goed vir ons doen, getuig Dhlamini.

Dit het geklink na 'n baie goeie projek, mense was baie tevrede. Daar was 'n groep wat nie tevrede was met die burgemeester van Vrede, John Motaung, nie.

23 Jul. 12:39:37

Gcabashe getuig nou oor die vergaderings wat daar met die gemeenskap was oor die Vrede-melkplaas.

Hulle is deur Mosebenzi Zwane, wat die LUR vir landbou was, na die vergaderings genooi.

Gcabashe getuig hy ken vir Zwane, hy ken ook Zwane se pa - sy beeste het selfs op Zwane se pa se grond gewei.

Gcabashe getuig oor wie almal by die eerste vergadering was. Daar was byna 'n honderd mense by die vergadering.

23 Jul. 12:33:33

Veeboer getuig oor boerderye in Vrede

Gcabashe getuig hy en ander begunstigdes het twee keer vergader met adv. Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer (OB). Daar was ook vergaderings met die Valke.

Hy getuig dat hy 'n inwoner is van Thembalihle in Vrede.

Hy is in die omgewing gebore, het in Johannesburg gaan werk, en het 'n aantal jaar gelede teruggekeer om vir sy familie 'n huis te bou. Hy is 'n boer en het 52 beeste.

Daar is groot werkloosheid in die omgewing, so 'n mens moet slim planne maak om 'n inkomste te kry, daarom gaan werk baie mense buite die omgewing.

Gcabashe bevestig hy is die voorsitter van die African Farmers' Association. Hulle verteenwoordig kleinboere in die omgewing. Hulle skakel ook tussen die boere en landboudepartement.

Meeste van die lede is ook van Memel en Warden; hulle is kleinboere.




MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.