Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
OORSIG: Niemand wou luister na Molefe se klagtes oor Prasa - Zondo
  • Die Zondo kommissie van ondersoek na staatskaping in die tyd toe pres. Jacob Zuma die president was, se sittings het Maandag voortgegaan
  • Die kommissie, onder leiding van adjunkhoofregter Raymond Zondo, het weer begin sit nadat ook dié instansie se werking deur die Covid-19-inperkings onderbreek is.
  • Die optrede van oudministers Dipuo Peters, Jeff Radebe en Joe Maswanganyi, asook dié van oudpres. Jacob Zuma, was alles om te keer dat die grootskaalse korrupsie by Prasa bekend word, het Popo Molefe, voormalige voorsitter van die Prasa-raad, Maandag getuig.
  • Baleka Mbete, in haar hoedanigheid as speaker in die parlement, sowel as Dikeledi Magadzi, die voormalige voorsitter van die portefeuljekomitee oor vervoer en nou adjunk-minister van vervoer, het nié eers geantwoord op briewe waarin Molefe die grootskaalse korrupsie by Prasa uitgelig het nie, volgens hom.
29 Jun. 17:26:24

Molefe se getuienis word tot uitgestel.

Zondo verdaag die sitting tot 10:00 Dinsdagoggend.

29 Jun. 16:34:04

Molefe getuig dat daar bewerings was dat lede van die land se intelligensie-strukture betrokke was by misdade. Daar is by kantore ingebreek en dokumentasie is gesteel.

Nou word gevra dat dié intelligensie-ondersoekers werknemers van Werksmans se persoonlike inligting moet nagaan as deel van ‘n veiligheid-siftingsproses. So daar is gevra dat die ondersoekers van Prasa ondersoek moet word, getuig Molefe. Iets wat ongekend was.

29 Jun. 16:28:23

“As jy kyk na die optrede van Peters, Maswanganyi, Zuma en Radebe. Dit is alles om te keer dat korrupsie blootgelê word, voer Molefe aan.

29 Jun. 16:14:33

Molefe het na opposisiepartye gegaan met Prasa-inligting

Molefe sê hy kan dit nou maar erken, toe dit duidelik geraak het dat die portefeuljekomitee oor vervoer nie sou toegelaat het dat die verslag oor Prasa bespreek word nie, het hy parlementslede genooi om na die verslag te kyk.

Dit was nie lede van die regerende party nie, maar uit die geledere van opposisieparty – individue wat besef het hulle sou nie behoorlike inligting kry in die sirkus van die portefeuljekomitee se vergaderings nie, getuig Molefe.

29 Jun. 16:08:01

Niemand wou luister na Molefe se klagtes oor Prasa

Molefe sê hy het ook 'n brief geskryf aan Dikeledi Magadzi gestuur in haar hoedanigheid as voorsitter van die portefeuljekomitee van vervoer in die parlement, oor die toedrag van sake by Prasa.

Sy het nie hierop geantwoord of erken dat sy die brief ontvang het nie. (Magadzi is nou die adjunk-minister van vervoer).

Net soos wat Mbete nie geantwoord het nie en net soos wat Maswanganyi nie geantwoord het op Molefe se briewe oor Prasa nie.

“Die boodskap van hierdie stilte is baie duidelik Ons soek jou nie daar nie. Jy moenie daar wees nie. Daarom gaan ons jou nie antwoord nie,” getuig Molefe. Hy sê hy het baie briewe geskryf.

Shaun Abrahams het ten minste geantwoord. Hy het nie gesê hy gaan doen wat Molefe voorstel nie, maar hy het ten minste geantwoord.

Molefe getuig lede van die portefeuljekomitee het as groep opgetree. Dit is 'n sirkus. Mens het die gevoel gekry dat daar vooraf geoefen is hoe om die Prasa-raad te hanteer. Hulle is kortaf behandel. Hulle het onderling vrae rondgestuur wat om aan die raadslede te vra, maar wou nie luister na die raadslede nie. Dit het gelyk asof die vrae van aanhitsers buite die komitee gekom het.

Dit was uit die geledere van die regerende party, getuig Molefe op 'n vraag hieroor, nie vanuit opposisie partye nie.

29 Jun. 15:40:09

Baleka Mbete het nooit geantwoord op Molefe se versoek oor Prasa

Molefe word gevra oor sy pogings om die parlement in te lig oor Prasa.

Hy het 'n brief aan Baleka Mbete geskryf in haar tyd as speaker in die parlement.

“Ons het alles in die boek gedoen. Ons het dit met ministers bespreek. Probeer om inligting aan portefeuljekomitees te gee. Ons was in die hof. Die vervolgingsgesagte wou ons nie help nie.

"Ek het gedink die parlement sal wou weet wat aangaan in Prasa. Dit is die parlement wat besteding goedkeur. Die minister van finansies se begroting en hoe die departemente geld bestee, moet steeds deur die parlement goedgekeur word," getuig Molefe.

Molefe sê hy het Mbete gevra dat daar 'n openbare ondervraging moet wees. 

Molefe sê daardie brief is tot nou toe nooit deur Mbete erken nie. Tot vandag toe was daar geen antwoord nie.

Hy het gevra dat die minister van finansies moet optree sodat daar 'n uitvoerende hoof aangestel word vir Prasa. Verder moet daar opgetree word teen amptenare wat verkeerd opgetree het. Die parlement moes ook kennis neem dat daar hofsake was omkontrakte met 'n waarde van R7 miljard te bevraagteken.

Molefe sê hy wou verslag lewer oor wat aangaan by Prasa en dat die parlement daarvan moes weet. Dit sou nie help om met die klagtes polisie toe te gaan nie, die polisie was in daardie stadium nie funksioneel nie.

Die brief aan Mbete sou per epos gestuur word en ook per hand afgelewer word. 

29 Jun. 15:13:51

Zuma is soos Donald Trump, sê Molefe

Molefe getuig dat mense gesê het hulle sal wys waar die mag lê, waar dit eindig.

"Dit is soos in Amerika waar die president van die land (Donald Trump) nie die landswette en die grondwet respekteer nie. Dit is groot geld wat tel.

"Sy eie mense is te bang om teen hom op te tree. En wat doen hy, hy verwyder al die goeie vervolgers in die land.

"Ons het dit hier gesien. Ons het dit met ons eie president (oudpres. Jacob Zuma) gesien en al die mense wat die regerende party verteenwoordig het. Hulle het hulle gedra asof hulle niks verkeerd gesien het nie. Hulle het daardie posisie beskerm tot op die vlak van howe.

"Daar is 'n gevaar om die tipe misbruik van die openbare kantoor te dryf. Dit kan mense se lewens vernietig, lei tot armoede.

"Dit is belangrik dat daar mense is wat hierteen opstaan. Die fundamente saak wat ons moet dryf is ons waardes, eerder as om te sê jy het 'n lidmaatskapkaart van die party," getuig Molefe.

29 Jun. 15:01:12

Nou, vyf en 'n half jaar later, het Prasa steeds nie 'n raad nie, bevestig Molefe.

29 Jun. 14:55:31

Mense wil nie getuig voor kommissie

Molefe sê daar is mense wat inligting het, wat nie bereid is om voor die Zondo-kommissie te kom getuig nie.

Zondo sê dit is so. En dit is belangrik om te leer watter metode gebruik is deur mense wat korrupsie pleeg. Is dat waar dat hulle mense uit poste verwyder het wat dit vir hulle moeilik gemaak het om korrupsie te pleeg?

Hy hoop dat daar meer mense na vore sal kom en getuig oor wat met hulle gebeur het en wat hulle wet.

29 Jun. 14:51:21

Nuwe minister van vervoer 'ondermyn Prasa-raad'

Molefe getuig die Prasa-raad, met hom as voorsitter, is deur die hof heraangestel.

Nadat Mkhacani Maswanganyi as minister van vervoer aangestel is in Peters se plek, het hy aan die raad kennis gegee dat hy die raad gaan ontbind. Dit was sonder dat hy enige van die Prasa-raadslede persoonlik ontmoet of hulle werk bespreek het.

Die nuwe minister het die brief met die kennisgewing op 5 Junie 2017 gestuur. Hy het egter nie dié dreigement deurgevoer nie. Molefe sê daar was twee poste in die raad wat nie gevul was nie. Dit moes deur amptenare gevul word - die een in die department van vervoer en die ander in tesourie. Die poste is nooit gevul nie.

Maswanganyi het as verduideliking gesê dit neem lank om die poste te vul en dat hy sy voorstelle eers na die kabinet moet neem vir goedkeuring.

Molefe sê dit maak nie sin nie want die ministers se keuses sou gegeld het en die kabinet sou dit nie teenstaan nie.

Hy het dit as verskoning gebruik om nie die poste te vul nie, wat dan sou beteken dat die Prasa-raad nie 'n kworum gehad het om sy werk te kan doen nie.

Molefe getuig dit is gedoen om die werk van die raad onder hom as voorsitter te ondermyn en dat van die raadslede op die raad genoem het hulle is genader om uit die raad te bedank. Die voorsitter van die oudit-komitee asook die voorsitter van die komitee oor menslike hulpbronne het ook bedank.

"Dit was 'n grootskaalse plan om die raad onwerkbaar te maak," getuig Molefe.

Meer oor:  Prasa  |  Kommissie  |  Popo Molefe  |  Johannesburg  |  Zondo-Kommissie  |  Staatskaping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.