Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
OORSIG: 'Ironies' dat Zuma nie wil getuig

Oudpres. Jacob Zuma doen aansoek voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping dat adjunkhoofregter Raymond Zondo hom as voorsitter moet onttrek. 

LEES ADJUNKHOOFREGTER RAYMOND ZONDO SE ANTWOORD OP ZUMA SE BEWERINGS OOR FAMILIEBANDE

LEES OUDPRES. JACOB ZUMA SE BEËDIGDE VERKLARING HIER

LEES OOK: Zondo kies kant teen my – Zuma

16 Nov. 16:26:45

Sitting verdaag

Zondo verdaag die sitting vir die dag. Môre se sitting sal om 10:00 begin.

Zondo sal deur die loop van vanaand die voorleggings oorweeg. Die idee is om so gou as moontlik ’n bevinding te maak.

As die beslissing nie teen 10:00 Dinsdag gereed is nie, sal hy bekend maak wat die posisie dan is.

16 Nov. 16:25:58

'Zuma het geen vrees oor kommissie se bevindinge'

Sikhakhane sê Pretorius praat neer teenoor hom, en ontken dit dat hulle samesweringsteorieë aanhang. Hy het slegs gestel wat in die gedagtes van sy kliënt aangaan.

Volgens Sikhakhane het Zuma geen vrese oor die bevindings van die kommissie nie, maar tog sê Pretorius dit ís die geval.

Die verantwoordelikheid berus op Zondo om die argumente te oorweeg. As hy teen Zuma-hulle bevind, is dit so, sê Sikhakhane.

16 Nov. 16:13:43

Pretorius sluit af en benadruk dit dat Zondo nie homself as voorsitter van die kommissie kan onttrek nie.

Sikhakhane is nou aan die woord. Hy sê hy gaan net vlugtig praat.

16 Nov. 16:11:00

Kommissie 'is politieke wapen teen Zuma'

Volgens Pretorius blyk dit dat die aansoekers die idee voorstel dat die kommissie as ’n politieke wapen ontwerp is om Zuma te ondermyn as deel van ’n faksiegeveg.

As voorbeeld lees hy voor uit Zuma se beëdigde verklaring waar hy die aantyging gemaak het dat Zondo in Augustus bloot voorgegee het dat hy ontsteld is omdat minister Pravin Gordhan nie nie na die kommissie gekom het om te getuig nie.

Dit is nie ’n objektiewe, redelike ontleding van die feite nie, meen Pretorius.

16 Nov. 15:51:32

'Ironies dat Zuma nie wil getuig'

Pretorius sê dit is ironies dat Zuma, wat getuienis kan betwis of klarigheid daaroor kan bied, traag is om voor die kommissie te getuig.

As Zondo homself onttrek, word daar vereis dat ’n ander voorsitter toesig moet hou oor die verrigtinge van Zuma se getuienis. Maar volgens Pretorius sal die nuwe voorsitter nie deeglike kennis dra van die vorige bewerings nie.

Die waarnemende voorsitter kan dan dalk boonop beslis dat die kommissie deel is van ’n politieke sameswering, terwyl Zondo ander bevindings maak. Wat dan?

Dit sal volgens hom die ineenstorting van die kommissie beteken.

16 Nov. 15:31:05

'Regte rede vir aansoek is weens moontlike negatiewe bevindings'

Die herhaalde beroepe wat die voorsitter gemaak het om na vore te kom om te getuig, is ook nie in ag geneem nie, aldus Pretorius.

Zondo het nooit gesê diegene wat ’n sekere politieke agenda het, moet kom getuig nie.

Volgens Pretorius sukkel hulle ook om uitlatings deur Zondo te vind wat van vyandigheid teenoor Zuma spreek. Selfs al het Zondo sulke uitlatings gemaak, moet die aansoekers kan bewys dat dit Zondo sal beïnvloed om partydig op te tree.

Volgens Pretorius kan daar aangevoer word die regte rede vir waarom die aansoek ingedien is, is omdat die aansoekers voel dat negatiewe bevindings teen Zuma gemaak kan word.

Daar is ’n gevoel dat die bewyse opbou en meer word.

16 Nov. 15:15:08

'Zondo sal nie bloot swyg en luister nie'

Pretorius is nog besig om Zuma se regspan se argument te hanteer.

Die toets is of ’n redelike, objektiewe en ingeligte persoon op grond van die korrekte feite sal insien dat die regter onpartydig is deurdat hy (Zondo)  ’n oop kop het en oortuig te kan word, aldus Pretorius.

Onpartydigheid gaan nie oor absolute neutraliteit nie, maar oor ’n bereidwilligheid om ’n oop kop te hê en oortuig te kan word. Uiteraard het regters oortuigings, want hulle is net mense.

Zondo is nie ’n skeidsregter nie. Sy funksie is om ’n ondersoeker te wees en daarom kan hy nie bloot swyg en luister nie. Dit is sy werk om sy kommer te lug, om vrae te stel en om weergawes te toets.

Die kommissie moenie verwar word met ’n hof nie.

16 Nov. 14:58:25

'Dis Zondo se taak om stellings te maak'

Pretorius praat verder oor hoekom die argumente vir die onttrekkingsaansoek nie meriete het nie.

Volgens hom het die aansoekers aanvanklik gekla oor die aanwysing van getuies en dat dit bevooroordeeldheid wys.

Sowat 257 getuies het al getuig, onder meer Duduzane Zuma, Zuma se seun, wat ooglopend nie tel onder die kategorie van getuies waarmee die aansoekers ’n probleem het nie.

Volgens Pretorius lyk dit nou asof Zuma se regspan eerder ’n probleem het met die volgorde van die getuienis. Maar volgens hom is Zondo gelei deur die verslag van die openbare beskermer (OB).

Pretorius sê dit is juis ook die taak van Zondo om stellings en weergawes aan getuies te stel sodat hyself beter kan verstaan, maar ook vir ander wat die verrigtinge volg.

Die aansoekers beweer ook die kommissie is verkeerd deur daarop aan te dring dat Zuma getuig. Pretorius sê egter die kommissie moet Zuma se weergawe aanhoor om sy werk te kan doen.

16 Nov. 14:49:16

Zuma-aansoek 'slaag nie die toets nie'

Volgens Pretorius slaag Zuma se ontrekkingsaansoek nie die toets soos uiteengesit in die wet nie.

Soos hy die argument van Zuma se regspan verstaan, is die aantyging nie dat Zondo bevoordeeld is en dat hy reeds gevolgtrekkings gemaak het tot so 'n mate dat hy nie andersins oortuig kan word nie.

Die argument gaan daaroor dat Zuma meen sy weergawe van die getuienis gaan verwerp word en dat hy vrese het in die lig daarvan dat hy glo hy is die slagoffer van ’n samesweringsteorie.

Dié argument slaag volgens Pretorius nie die toets nie.

Die argument gaan volgens hom in ’n neutedop daaroor dat daar negatiewe bevindings teenoor Zuma gemaak kan word. Volgens Pretorius moet die aansoekers kan bewys dat ’n redelike aanskouer tot die gevolgtrekking sal kom dat Zondo bevooroordeeld is en reeds gevolgtrekkings gemaak het.

Dit gaan oor die feite en nie samesweringsteorieë nie.

16 Nov. 14:33:36

'Geen middeweg met onttrekking'

Adv. Paul Pretorius SC, getuienisleier vir die kommissie, sê as daar gronde bestaan dat Zondo homself moet onttrek, sal hy dit doen. Daar is geen middeweg nie.

As daar bepaal word dat Zondo nie bevooroordeeld is nie, kan daar moontlik vir praktiese doeleindes ander reëlings getref word. Maar hy is huiwerig daarvoor en sal daaroor nadink.

Meer oor:  Staatskaping  |  Politiek  |  Zondo-Kommissie  |  Jacob Zuma
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.