Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Hou so aan en hy verklap diep geheime van ANC, dreig Zuma

Oudpres. Jacob Zuma se korrupsiesaak wat verband hou met die staat se omstrede wapentransaksie is tot 26 Mei uitgestel.

Sy ondersteuners, wat Ace Magashule, geskorste sekretaris-generaal, en Tony Yengeni, lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee, insluit, het die skare buite die hof toegespreek.

“Daar is diep geheime van die ANC wat ek nie mag deel nie. Maar indien die aanslag op my voortduur sal ek gedwing wees om dit te doen,” het Zuma gesê.


17 Mei 13:07:46

Hou so aan en hy verklap diep geheime van ANC, dreig Zuma

Oudpres. Jacob Zuma het Maandagmiddag buite die hooggeregshof in Pietermaritzburg aan sy ondersteuners gesê hy is reg vir sy korrupsiesaak om voort te gaan.

“Hierdie ding moet nou tot ’n einde kom,” het hy gesê.

Hy het sy verbintenis aan sy ondersteuners en die ANC bevestig.

“Daar is diep geheime van die ANC wat ek nie mag deel nie. Maar indien die aanslag op my voortduur, sal ek gedwing word om dit te doen,” het Zuma in Zoeloe gesê.

17 Mei 12:58:21

Oudpres. Jacob Zuma op die verhoog. Hy sing  “Awuleth' Umshini Wam' ” (“Bring my masjiengeweer”) voordat hy die verhoog verlaat. Foto: Deaan Vivier

17 Mei 12:47:16

Niemand kan my verban nie, sê Magashule

Magashule sê hy kan die versekering gee dat niemand hom in ’n demokratiese bestel kan verban nie.

Hy sê hy sal nie ’n nuwe party stig nie en sal in die ANC sterf.

“Ek sal die ANC nooit verlaat of daaruit verban word nie. Volgende keer, op 26 Mei, sal ons die hele Vrystaat hierheen bring. Ons soek ook die hele KwaZulu-Natal hier op 26 Mei. Bring jou ma, jou pa en jou kind om Zuma te ondersteun.”

Volgens Magashule sal ook hy weer hier wees en hy sal dan praat.

Diegene sonder kos, werk en behuising moenie hoop verloor nie, sê hy.

Magashule sê hy gee ook nie om wat die media van hom sê nie. Hy het nie die media nodig nie, maar eerder “die massas van ons mense”.

Volgens Magashule moet die leierskap van die ANC gerespekteer word.

Daar moenie opgegee word totdat ekonomiese vryheid behaal word nie.

“Dit moet behaal word in ons tyd en die tyd is nou.”

17 Mei 12:44:49

Ace Magashule spreek die skare buite die hof toe. Foto: Deaan Vivier

17 Mei 12:36:42

Ace Magashule, geskorste sekretaris-generaal van die ANC, sing nou op die verhoog en prys vir Zuma.

17 Mei 12:34:54

RET, grondonteiening moet verdedig word, sê Yengeni

Tony Yengeni, lid van die ANC se NUK, sê aan die skare hy gaan nie om verskoning vra dat hulle as ANC-lede daar is om vir Zuma te ondersteun nie.

"Dit is niks anders as ’n politieke verhoor nie. Geen ander saak in Suid-Afrika het so lank geneem nie. Dit is onaanvaarbaar."

In Yengeni se beskouing word staatsorgane gebruik om politieke opponente te vervolg.

Yengeni sê voorts Zuma is nie bang vir tronkstraf nie; geen revolusionêr vrees die tronk nie.

Hy praat ook oor die skorsing van Magashule en dat hy tot sekretaris-generaal verkies is.

Die ANC-takke moet nou hul stem dikmaak, want die leiers van die ANC is deur hulle verkies.

Radikale ekonomiese transformasie is ’n resolusie van die nasionale verkiesingskonferensie en radikale ekonomiese transformasie moet verdedig word.

Grondonteiening sonder vergoeding moet verdedig word en so ook die resolusie om die Reserwebank te nasionaliseer. Is enige van die resolusies toegepas? Hoekom nie?

17 Mei 12:33:32

MK-veterane het Zuma beskerm op pad van die hofgebou tot by die verhoog. Foto: Deaan Vivier

17 Mei 12:30:08

Zuma, Ace saam op verhoog

Carl Niehaus, woordvoerder van die Umkhonto we Sizwe-militêreveteranevereniging (MKMVA), spreek die Zuma-ondersteuners buite die hof in Pietermaritzburg toe.

Toni Yengeni, Duduzane Zuma, oudpres. Jacob Zuma en Ace Magashule is ook op die verhoog.

Volgens Niehaus was die nasionale vervolgingsgesag nie gereed om voort te gaan met die saak nie.

Hy wil dit duidelik stel dat niemand vir Magashule uit die ANC kan verban nie.

“Magashule se bloed is groen, swart en geel. Op die 54ste nasionale konferensie is Magashule as die sekretaris-generaal van die ANC verkies en niemand kan die sekretaris-generaal verwyder nie, behalwe die lede van die ANC. As hulle Magashule wil verwyder, moet hulle ’n spesiale verkiesingskonferensie belê,” sê Niehaus.

Magashule sal volgens hom daar wen.

Volgens Niehaus word Zuma ook om politieke redes geteiken.

Die MKMVA sal nie toelaat dat leiers om politieke redes geteiken word terwyl ander skotvry wegkom nie. Hy sê ook dat daar nie aan Zuma of Magashule geraak moet word nie.

“Viva, ANC, viva!”

 

Oudpres. Jacob Zuma en Ace Magashule, geskorste sekretaris-generaal van die ANC, saam op die verhoog wat buite die hooggeregshof in Pietermaritzburg opgerig is. Foto: Deaan Vivier

17 Mei 12:27:07

Toni Yengeni, 'n senior lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee, Zuma se seun Duduzane, Zuma en Magashule op die verhoog. Foto Deaan Vivier

17 Mei 11:26:47

Staat was reg om voort te gaan, Zuma ook

Volgens Downer was die staat gereed om te begin en daarom is die eerste getuie, Patricia de Lille, minister van openbare werke en infrastruktuur, vandag hier.

Koen bedank haar dat sy die verrigtinge bygewoon het.

Sy sal slegs terugkeer om te getuig wanneer die staat dit versoek.

Masuku sê hy wil dit op rekord stel dat Zuma vandag gereed was om met die verhoor voort te gaan.

“Ek wil dit duidelik maak dat Zuma gereed is en nog altyd gereed was. Die pleitskrif wat ter sprake is, moenie beskou word as Zuma wat nie gereed is nie.”

Koen sê hy neem kennis. Adv. Barry Roux, wat Thales verteenwoordig, sê Thales is ook gereed om met die verhoor voort te gaan.

Koen stel die verhoor tot 26 Mei uit.

Die beskuldigdes word gewaarsku om dan in die hof teenwoordig te wees.

Die hof verdaag.

 

Die staat se eerste getuie, Patricia de Lille, minister van openbare werke en infrastruktuur, was vandag reg om te begin getuig. Foto: Deaan Vivier

Meer oor:  Hofsaak  |  Korrupsie  |  Zuma-Korrupsiesaak  |  Thales  |  Oudpres. Jacob Zuma
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.