Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
OORSIG: Zondo sal vra Zuma moet tronk toe vir minagting van hof

Oudpres. Jacob Zuma se regsverteenwoordigers het Maandagoggend aangedui hy gaan nié opdaag by die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping nie.

Hier volg die jongste verwikkelinge: 

15 Feb. 14:39:07

Die sitting verdaag.

15 Feb. 14:39:03

Die hele week is opsygesit vir Zuma se getuienis. Of ander getuies geroep gaan word, moet nog besluit word. Die week was uitgesit vir Zuma se getuienis en hy is nie hier nie, sê Zondo.

15 Feb. 14:38:01

Zondo wil hê Zuma moet tronk toe

“Ek is al 24 jaar op die bank. Nog net Zuma het ’n kwessie met my as persoon gehad,” sê Zondo.

Dit is reg indien hy die saak wil verder vat, hy mag aansoek doen vir ’n hersiening, maar hy kan nie weier om gehoor te gee aan ’n dagvaarding nie en hy kan nie die hoogste hof in die land ignoreer nie, sê Zondo.

Die kommissie beskou Zuma se optrede in ’n baie ernstige lig. Die kommissie het hom nie verkeerd behandel nie.

In ’n geval soos dié maak die reg voorsiening daarvoor daar ’n prosedure ingestel kan word van minagting van die hof. Die kommissie gaan dit doen.

Die kommissie gaan aansoek doen by die konstitusionele hof en vra vir ’n bevel dat Zuma skuldig bevind word aan minagting van die hof.

Indien die konstitusionele hof so besluit, het dit die reg om verder ’n besluit te neem. Dit kan tronkstraf insluit vir Zuma of ’n boete.

Die kommissie gaan vra dat hy tronk toe moet gaan indien bevind word hy het die hof geminag.

15 Feb. 14:34:11

'Ons is almal onderhewig aan die Grondwet en die reg'

Daar word elke dag in die landdroshowe, die hooggeregshowe en in tribunale dagvaardings uitgereik.

Die grondwet sê ons is almal gelyk voor die reg.

“Ons is almal onderhewig aan die Grondwet en die reg. As ons nie gelukkig is daarmee nie, kan ons nie net terugsit en niks doen nie.

“Ons kan ’n aansoek om appèl bring.

“Of mens hou van ’n bevel of nie, daar is nie ’n keuse nie,” sê Zondo.

“Daar kan nie twee regstelsels wees nie. Daar kan nie reëls vir een en nie vir die ander wees nie. Ons moet almal dieselfde voor die reg wees,” sê Zondo.

15 Feb. 14:31:28

'Zuma ignoreer dagvaarding asof dit nie bestaan'

’n Dagvaarding is geldig en ’n hofbevel is geldig. Indien ’n persoon dink ’n dagvaarding is nie geldig nie, is dit nie daardie persoon se besluit om te neem nie. Die persoon moet die hof nader en verduidelik hoekom die dagvaarding tersyde gestel word. Slegs dan het die persoon die reg om nie te verskyn nie.

Zuma behoort dit te weet.

In dié geval het hy die dagvaarding geïgnoreer. Hy het dit bloot geïgnoreer asof dit nie bestaan nie.

Eerstens het hy op 19 November uit die kommissie geloop. Tweedens het hy in die week van Januarie 2021 besluit om nie te verskyn nie, selfs nadat hy deur die kommissie daaraan herinner is dat die dagvaarding nie tersyde gestel is nie.

Hy het dit geïgnoreer.

Hy het weer dieselfde gedoen.

Dit is baie ernstig, indien dit toegelaat word, sal daar wetteloosheid wees.

Indien ander mense sy voorbeeld volg wanneer hulle gedagvaar word of aan hofprosesse moet deelneem, kan hulle besluit om dit te ignoreer.

15 Feb. 14:26:10

‘Dis jammer Zuma het besluit om nie te getuig’

Met die getuienis van Dudu Myeni het ek versoek dat die regspan versigtig deur haar getuienis moet gaan en kyk of sy gronde het vir al die vrae waarop sy haar swygreg uitgeoefen het, sê Zondo.

Indien daar vrae is wat sy wel moet beantwoord, kan sy teruggeroep word om die vrae te beantwoord.

Ten opsigte van Zuma sou dieselfde gegeld het.

Die konstitusionele hof het nie enige van sy regte weggeneem oor die reg om homself nie te inkrimineer nie.

Dit is jammer dat Zuma besluit het om nie voor die kommissie te verskyn nie.

Dit is ’n uittarting van die konstitusionele hof se bevel, die hoogste hof in die land.

Die kommissie het nie net konstitusionele hof toe gehardloop om ’n bevel te kry teen Zuma om te verskyn nie. Die kommissie het die stap gedoen toe dit duidelik geword het dat hy regtig nie bereid is om gehoor te gee aan die kommissie se dagvaarding nie.

15 Feb. 14:18:08

Zuma het gekies om nie by hoogste hof sy saak te stel

Daar is korrespondensie aan Zuma gestuur.

Indien hy gedink het sy hersieningsaansoek voor die konstitusionele hof is ’n rede waarom hy nie verder aan die kommissie se sittings sal deelneem nie, kon hy sy saak by die konstitusionele hof gestel het. Dit is nie gedoen nie, sê Zondo.

Geen getuie voor die kommissie het die reg tot stilswye wanneer hulle getuig nie.

Zuma het geweet dit sou die kommissie se argument in die konstitusionele wees. Al wat hy kon pleit, is die reg tot stilswye om homself nie te inkrimineer nie.

Hy en sy regspan het geweet dit is een van die kwessies wat by die kommissie ter sprake sou wees. Indien hulle geweet het dit is hul saak, kon hulle dit voor die konstitusionele hof gebring het. Hulle het verkies om dit nie te doen nie.

Zuma het die geleentheid gehad om sy saak voor die konstitusionele hof te stel, of sy redes gewig dra of nie. Hy het verkies om dit nie te doen nie, sê Zondo.

15 Feb. 14:10:37

Zuma het voorheen uit sitting geloop

Omdat Zuma vantevore op 19 November 2020 uit die kommissie se sitting gestap het, hoewel hy beveel is om daar te wees, moes daar stappe deur die kommissie gedoen word.

Hy het uitgeloop sonder toestemming en het geen verduideliking gegee vir sy optrede nie.

Die kommissie het gevrees dat hy nie ag sal slaan op verdere bevele of voor die kommissie sal getuig en vrae sal beantwoord wat aan hom gestel word nie.

15 Feb. 14:05:13

Zondo sê hy hoef nie ’n bevinding te maak nie, maar gaan wel uiteensit wat die kommissie gaan doen.

15 Feb. 14:05:06

Dit sitting gaan voort.

Meer oor:  Jacob Zuma  |  Raymond Zondo  |  Regter Zondo  |  Staatskaping  |  Zondo  |  Zondo-Kommissie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.