Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Regter: De Lille was ‘reg’ om aansoek te bring
Patricia de LilleFoto: WARDA MEYER

Die vonke gaan na verwagting spat in die Kaapstad-metro nadat die hooggeregshof in Kaapstad gesê het Patricia de Lille, burgemeester van Kaapstad, was reg om op die vooraand van die wantrouemosie teen haar ’n dringende aansoek in te dien.

De Lille het die hof verlede week genader om ’n bevel te kry vir ’n geheime stemming om te verseker dat DA-raadslede kan stem soos hulle wil sonder enige vrees vir gevolge van die partyleierskap.

Regter Robert Henney het Dinsdag in sy uitspraak gesê, gesien in die lig van die omstandighede wat binne die DA geheers het toe die burgemeester die hof genader het, is dit duidelik dat De Lille “reg” was en geen ander opsie gehad het as om die aansoek te bring nie.

Regter Henney het gesê aangesien die DA en die speaker van die Kaapstad-metro geen besware het teen ’n geheime stemming nie, “is daar geen rede hoekom die hof nie so ’n tussentydse vergunning aan De Lille kan gee nie”.

“Die speaker moet met die uitoefening van sy diskresie dit in gedagte hou dat daar in die DA-koukus nie eenparigheid is oor die mosie van wantroue teen die burgemeester nie, en dat daar lede kan wees wat geneig sal wees om teen die wense van hul party te stem,” het Henney gesê.

Die hof het beslis dat De Lille onder die omstandighede geen ander uitweg gehad het as om die hof te nader nie.

“Na my mening het die applikant aan die vereistes vir ’n tussentydse vergunning voldoen.”

Gevolglik het Regter Henney beslis dat die speaker van die stadsraad, Dirk Smit, sy diskresie moet gebruik om te verseker dat raadslede volgens hul gewete kan stem.

Hy het ook beveel dat die DA De Lille se kostes vir haar regspan moet dra tot en met wanneer die party hul repliek by die hof ingedien het.

De Lille het ná die uitspraak gesê dat haar regspan onmiddellik met die speaker van die stadsraad in verbinding gaan tree om hom in te lig oor die hofuitspraak.

Sy sê sedert haar skermutseling met die DA vat sy “elke dag soos dit kom”.

Na my mening het die applikant aan die vereistes vir ’n tussentydse vergunning voldoen.

“Ek was net bekommerd oor die regverdigheid van die stem en die hof het in my guns beslis ten opsigte van geregtigheid en dat die raadslede sonder vrees kan stem.”

Die DA het die hofuitspraak verwelkom.

Bonginkosi Madikizela, die DA se provinsiale leier, het gesê die party is in besonder bly oor die hof se bevinding dat die besluit om ’n geheime stemming te hou ’n besluit van die stadsraad is, en dit is hoe dit moet wees.

Madikizela sê die party het lankal gesê dat hul raadslede vry is om met hul gewete te stem in die wantrouemosie.

Die stadsraad sal Donderdag die mosie van wantroue teen De Lille aanhoor.

Meer oor:  Patricia De Lille  |  Burgemeester  |  Kaapstad  |  Hof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.