Die wangedrag-verhoor teen die Wes-Kaapse regterpresident, John Hlophe, het Maandag amptelik ná 12 jaar begin.
Sello Chiloane, woordvoerder van die Regterlike Dienstekommissie (RDK), het Donderdag gesê die verhoor word in die Premier Hotel in die O.R. Tambo Internasionale Lughawe in Johannesburg gehou.
Die voorsittende beamptes is oudregter Joop Labuschagne van Gauteng, asook regter Tati Makgoka van die appèlhof en Nishani Pather, ’n regspraktisyn. Hulle is ingevolge die Wet op Regterlike Dienstekommissie aangewys om die saak aan te hoor.
Verskeie vertragings het veroorsaak dat die verhoor nie die afgelope 12 jaar kon plaasvind nie. Meer onlangs was dit Hlophe se senior advokaat wat weens die koronaviruspandemie nie van Engeland na Suid-Afrika kon reis nie. Voor dit moes regter John Musi hom in 2018 aan die saak onttrek en die verhoor is onbepaald uitgestel.
Musi was ’n lid van die tribunaal van die regterlike gedragskomitee wat besluit het Hlophe moet vervolg word.

John Hlophe, regterpresident van die Wes-Kaap Foto: Gallo Images
Hlophe het Musi in 2017 gebel en hom gevra om hom aan die saak te onttrek omdat hy in 2016 op ’n byeenkoms in Zimbali naby Durban glo neerhalende aanmerkings oor hom (Hlophe) gemaak het.
Musi het dit ontken, maar het hom steeds onttrek.
Klagte van growwe wangedrag staar Hlophe in die gesig nadat hy na bewering twee regters in sake voor die konstitusionele hof in oudpres. Jacob Zuma se guns wou beïnvloed.
Hy het regters Bess Nkabinde en Chris Jafta na bewering genader en probeer oortuig om die saak in Zuma se guns te beïnvloed. Die volle regbank van die konstitusionele hof in Johannesburg het die klag teen Hlophe aanhangig gemaak.
Daar was vier sake hangende in die hof waarby Zuma betrokke was: Thint (Pty) Ltd teen die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging (NDOV) (CCT 89/07), J.G.
Zuma teen die NDOV (CCT 91/07), Thint Holdings (South Africa) (Pty) Ltd teen die NDOV (CCT90/07) en J.G. Zuma teen die NDOV (CCT 92/07).
Van die sake het oor die wapenskandaal gehandel waarby Zuma betrek word.
Hierdie saak sal op Dinsdag 8 Desember weer in die hooggeregshof in Pietermaritzburg hervat word.
Die daaropvolgende week sal die tribunaal ook die klagte tussen Hlophe en sy adjunk, Particia Goliath, asook regter Mushtak Parker, aanhoor, het Chiloane gesê. Goliath het vroeër ’n klag van wangedrag teen Hlophe ingedien.