Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Regter 'moes Prasa-gemors opruim'
 Francois Botes
Adv. Francois Botes Woensdag voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping in Johannesburg. Foto: Gallo Images

’n Pretoriase regter wat deur oudpres. Jacob Zuma aangestel is, het volgens getuienis voor die Zondo-kommissie aan een van die mees senior advokate in Pretoria gesê Zuma het haar ook as waarnemende Prasa-voorsitter aangestel “om die gemors daar uit te sorteer”.

Tintswalo Makhubele is in Oktober 2017 deur die Regterlike Dienskommissie (RDK) as die gekose kandidaat vir ’n pos van regter aanbeveel. Sy is dieselfde maand as die waarnemende voorsitter van Prasa aangestel.

Makhubele is in die spervuur daaroor en die organisasie #UniteBehind het ’n klag by die RDK ingedien. Hulle sê Zuma het haar in November 2017 as regter aangestel met ’n begindatum van Januarie 2018. Dit terwyl sy in Oktober 2017 as Prasa-voorsitter aangestel is.

Adv. Francois Botes SC,van die Pretoriase balieraad het Woensdag voor die Zondo-kommissie getuig dat Makhubele uitdruklik in ’n telefoongesprek aan hom gesê het Zuma het haar as waarnemende voorsitter van Prasa aangestel “om die gemors daar op te los en skoon te maak”.

Adv. Vas Soni, wat die getuienis oor Prasa voor die kommissie lei, het aan Botes uitgewys Makhubele sê op haar beurt sy is nie deur die president aangestel as Prasa-voorsitter nie, maar deur die minister.

Botes het getuig dat sy wel gesê het sy is deur die president aangestel.

Die antwoord is maklik, kyk na die rekords van my selfoon. Ek gebruik net my selfoon en het nie ’n landlyn nie. Kyk na ons albei se selfoonrekeninge en vergelyk dit.

Botes het getuig Makhubela het in die betrokke gesprek inligting gevra oor die Siyaya-maatskappy se likwidasie-aansoek teen Prasa. Botes was deel van die regspan wat Siyaya se aansoek in die Pretoriase hooggeregshof gebring het.

Makhubele beweer Botes het haar eerste gebel oor Siyaya, maar Botes het Woensdag getuig hy het nie geweet Makhubele is as waarnemende Prasa-voorsitter aangestel totdat sy hom daaroor gebel het nie.

Botes het getuig Makhubele het gesê sy vertrou nie die interne regsafdeling van Prasa nie en sy word ondermyn. Sy wou by Botes weet wat die status van die likwidasie-aansoek is.

Oor wie eerste gebel het, het Botes getuig: “Die antwoord is maklik, kyk na die rekords van my selfoon. Ek gebruik net my selfoon en het nie ’n landlyn nie. Kyk na ons albei se selfoonrekeninge en vergelyk dit.”

Die oproepe en boodskappe tussen Botes en Makhubele wys ook dat Botes op die dag toe die onbestrede likwidasie-aansoek deur Siyaya teen Prasa voor die hof was, ’n boodskap van die hof af aan Makhubele gestuur het om te vra wat aangaan omdat ’n regspan van Prasa opgedaag en gesê het die likwidasie-aansoek gaan teengestaan word.

Botes het gesê hy wou weet of die Prasa-raad opdrag gegee het aan die regspan. Makhubele het in ’n geskrewe whatsapp-boodskap geantwoord die span het nie die mandaat van die Prasa-raad nie.

Botes het na die regter gegaan en Makhubele se whatsapp-boodskap gewys. Die geld in Prasa se bankrekening, sowat R60 miljoen, is gevries vir die betaling aan Siyaya.

Volgens Botes was Makhubele later baie ontevrede omdat hy die whatsapp-boodskap aan die regter gewys het. Sy het ’n klag daaroor teen Botes ingedien by die balieraad van Pretoria.

Botes sê hy was baie geskok en teleurgestel omdat dit sy reputasie skade gedoen het. Die balieraad het op 22 Mei vanjaar laat weet dat hy onskuldig bevind is.

Meer oor:  Tintswalo Makhubele  |  Zondo-Kommissie  |  Prasa  |  Aanstelling  |  Staatskaping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.