Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Regter Pillay: ‘Ek was vir ete by Nkandla’
Regter Dhaya Pillay Foto: Argief

Regter Dhaya Pillay, wat al in verskeie hofsake voorgesit het waarby oudpres. Jacob Zuma betrokke was en is, het vroeg Dinsdagaand voor die Regterlike Dienstekommissie (RDK) onthul dat sy by geleentheid ’n ete in Zuma se Nkandla-woning bygewoon het.

Zuma was toe nog president.

Die uitnodiging was egter nie in haar private hoedanigheid nie, maar as ’n kommissaris van die Verkiesingskommissie.

Daarom het Pillay, ’n regter van die hooggeregshof in KwaZulu-Natal, dit nie verklaar voor die saak waarin sy beslis het Zuma het oudminister Derek Hanekom in boodskappe op Twitter belaster nie.

Nie een van die twee partye se regspanne het enige besware teen haar betrokkenheid geopper nie en sowel die appèlhof as die konstitusionele hof het aansoeke om appèl teen haar beslissing verwerp.

Sy het voor die RDK verskyn as een van die nege kandidate vir die twee vakante poste in die konstitusionele hof.

Pillay sê sy was aanvanklik nie gemaklik om dié saak aan te hoor nie, maar sy was die enigste beskikbare senior regter en is opdrag gegee om die saak aan te hoor.

Pillay, wat al meer as 40 jaar in die regsberoep is, is tans ’n waarnemende regter in dié hof.

Sy was die laaste paar jaar by verskeie sake betrokke waarin Zuma ’n party was.

Sy was die laaste paar jaar by verskeie sake betrokke waarin Zuma ’n party was.

Behalwe dat sy die regter in die saak tussen Zuma en Hanekom was, was dit ook sy wat ’n uitgestelde lasbrief vir Zuma se inhegtenisneming uitgereik het toe hy nie opgedaag het vir sy en die Franse wapenvervaardiger Thales se saak nie.

Dit was omdat Zuma siek was en die hof nie die mediese sertifikaat wat ingedien is, aanvaar het nie.

Zuma en Thales staan voor Pillay op 16 aanklagte van onder meer bedrog, korrupsie en geldwassery of rampokkery tereg.

Met verwysing na die saak tussen Zuma en Hanekom, het Pillay gesê sy het bloot die wet vertolk soos daar van regters verwag word.

Zuma het onlangs in ’n striemende aanval op die konstitusionele hof juis beswaar aangeteken teen haar teenwoordigheid in dié hof.

Dit was nadat dié hof gelas het Zuma móét voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping verskyn nadat die kommissie die hof gevra het om hom te verplig om dit te doen.

Zuma voer aan Pillay het ’n geskiedenis van vyandigheid jeens hom.

Pillay het aan die kommissarisse gesê sy ken Zuma al sedert die dae toe die ANC nog verbied was en hy haar gehelp het om ’n vriend wat in ballingskap was, te besoek.

Sy het aan die RDK gesê sy ken Hanekom nie, maar het erken sy en minister Pravin Gordhan ken mekaar al baie jare. Hulle was destyds albei aktiviste in Durban.

Hoewel hulle mekaar al lankal ken, “beteken dit nie ons eet gereeld ontbyt, middag- en aandete saam nie”.

Pillay se erkennings het veral vir Julius Malema, EFF-leier, wat ook ’n kommissaris van die RDK is, diep ontstel.

Pillay se erkennings het veral vir Julius Malema, EFF-leier, wat ook ’n kommissaris van die RDK is, diep ontstel.

Hy het haar daarvan beskuldig dar sy haar in die Gordhan-faksie van die ANC bevind.

Sy het geantwoord die feit dat sy Gordhan al jare lank ken, beïnvloed nie haar oordeel nie. Die bewys hiervan lê in die feit dat sy al teen sowel die Reserwebank as die Suid-Afrikaanse Inkomstediens uitsprake gelewer het.

Malema het haar ook daarvan beskuldig dat sy deel van die “gekaapte regbank” is en haar oordeel beïnvloed word deur die feit dat sy aandele in onder meer Nedbank het.

Malema het aan Pillay gesê sy is niks anders nie as ’n politieke aktivis wat nie verdien om ’n regter in die konstitusionele hof te wees nie.

Die RDK het drie klagte ontvang oor Pillay se moontlike aanstelling.

Pillay sê daar was geen belangebotsing toe sy as regter opgetree het in enige van die sake waarby Zuma betrokke was nie.

Pillay sê sy het niks teen Zuma nie, en doen net haar werk.

“Ek is die afgelope 21 jaar ’n gedissiplineerde lid van die regbank.”

Meer oor:  Rdk  |  Nkandla  |  President
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.