Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Regulasies: Godsdiens-gemeenskap ‘nié geteiken’

Regulasies vir die staat van inperking weens die Covid-19-pandemie teiken nie die godsdiensgemeenskap of enige ander sektor in Suid-Afrika nie.

Dr. Nkosazana Dlamini-ZumaFoto: Daily Sun

“Dit is net om lewens en mense se lewensbestaan te kan red,” het dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), Donderdagaand in die parlement gesê.

Pres. Cyril Ramaphosa raadpleeg volgens haar ook eers gereeld die godsdiensgroepe voordat regulasies verskerp of verslap word.

“Die president raadpleeg self dié sektor omdat almal besef hoe belangrik die goddiensgroepe is. Dít terwyl ministers gewoonlik ook ander organisasies of sektore raadpleeg. Ons neem ook dié sektor se voorstelle baie ernstig op,” het Dlamini-Zuma verder aan die portefeuljekomitee oor samewerkende regering en tradisionele sake gesê.

Sy het voor dié komitee verskyn nadat verskeie godsdiensorganisasies Dinsdagaand skriftelik hul kommer oor die impak van die regulasies op hul sektor uitgespreek het. Baie voel hulle word by die opstel van die regulasies uitgesluit.

Faith Muthambi, komiteevoorsitter, het vroeër ook gesê die sektor meen ook die regering neem hulle nie ernstig op nie en dat die Wet op Rampbestuur “onregverdig” teenoor hulle is “in die konteks” van die Covid-19-pandemie.

Die sektor se interaksie met die komitee Dinsdagaand was op dieselfde tyd as wat Ramaphosa die land weens die vinnig stygende infeksiesyfers landwyd tot vlak 3 van die inperking geskuif en strenger regulasies aangekondig het.

Ingevolge die strenger regulasies mag net 50 mense tans binnenshuise godsdiensbyeenkomste bywoon en net 100 buite. Net 50 mense mag begrafnisse bywoon.

Dlamini-Zuma het dit Donderdagaand ook duidelik gemaak dat nie sy of haar departement enige besluite oor die regulasies of die staat van inperking neem nie.

“Ons pas net kabinetsbesluite toe. Voordat die kabinet finale besluite neem, beraadslaag hy ook eers die presidensiële koördineringsraad daaroor.

“Daarna kondig die president die kabinetsbesluite aan en die departement proklameer dit net.”

Die land het volgens haar net Woensdag meer as 13 000 nuwe Covid-19-gevalle aangemeld.

Volgens haar kan die kabinet egter nie toelaat dat die lewe soos normaal voortgaan met die derde vlaag van koronavirusinfeksies wat in die land woed nie.

“As die infeksiesyfers laer is, het die kabinet nog altyd daarop reageer deur bepaalde aktiwiteite wat weens die hoër syfers verbied is weer toe te laat.”

Die land het volgens haar net Woensdag meer as 13 000 nuwe Covid-19-gevalle aangemeld.

“Dit is baie hoog. Dit sal daarom nie moontlik wees om godsdiensorganisasies toe te laat om soos normaal voort te gaan terwyl ander nie kan nie.”

Sy het dit benadruk dat die regulasies nie dié sektor teiken nie.

Volgens haar moes selfs politieke partye Woensdag hul jaarlikse Jeugdagvieringe aanpas om aan die jongste regulasies te kan voldoen.

Dlamini-Zuma het verder gesê sommige godsdiensorganisasies het die regering hof toe gesleep oor die regulasies.

“Dit is hul reg. Ons verduidelik ook in ons hofstukke waarom ons die maatreëls moes instel.

“Ek wil dit duidelik maak dat dit nie enige spesifieke groep, veral nie godsdiensorganisasies, teiken nie. Dit is om lewens te red en om dit ook te balanseer met die red van mense se lewensbestaan,” het Dlamini-Zuma bygevoeg.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Nkosazana Dlamini-Zuma  |  Maatreëls  |  Virus  |  Pandemie  |  Teiken
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.