Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Regulasies ’n kollektiewe besluit, sê kabinet

Die kabinet het Donderdag ontken dat besluite oor Covid-19-regulasies deur enkele mense in die nasionale koronavirus-bevelsraad geneem word.

Dít kom nadat ’n handjievol ministers in die media onder skoot gekom het weens ongewilde regulasies wat in die huidige staat van inperking heers.

Daar word selfs bespiegel dat Nkosazana Dlamini-Zuma, wat as minister van samewerkende regering en tradisionele sake verantwoordelik is vir die toepassing van die regulasies, pres. Cyril Ramaphosa ondermyn deur sekere regulasies soos die verbod op die verkoop van tabakprodukte deur te voer.

lockdown, national command council
Lede van die nasionale bevelsraad vroeër op n nuuskonferensie.

Die kabinet het Donderdag in ’n verklaring gesê die regulasies is die uitvloeisel van ’n wye en kollektiewe proses deur die uitvoerende gesag.

“Ingrypings met Covid-19 word gedryf deur die departement van gesondheid en die nasionale gesamentlike operasionale intelligensiestruktuur (Natjoints),” lui die verklaring.

Natjoints is ’n oorkoepelende struktuur van die regering wat onder meer uit wetenskaplikes, gesondheidskenners, regslui, verteenwoordigers van die nasionale rampbestuursentrums en leiers van die land se veiligheid- en wetstoepassingstrukture bestaan.

“Natjoints ontvang verslae van verskillende departemente en gee voorstelle aan direkteurs-generaal (van staatsdepartemente) om voorstelle te ontwikkel wat aan die bevelsraad voorgelê word,” lui die verklaring.

Die bevelsraad oorweeg die direkteurs-generaal se aanbevelinge en bied ook sy eie aanbevelinge aan die kabinet waar voorstelle, insluitend regulasies, goedgekeur word.

“Die proses verseker dat die uitvoerende gesag kollektiewe besluite neem wat konsensueel en inklusief is.”

Luidens die kabinet is hy Woensdag ingelig oor die uitkomste van konsultasies wat pres. Cyril Ramaphosa met verskeie burgerregte-organisasies gehad het om hul ondersteuning te kry vir hoe die regering Maandag van vlak 4 van die inperking na vlak 3 sal beweeg.

As deel van die konsultasies het Ramaphosa en verskeie ministers vergader met die sake-, arbeid- en gemeenskapsektore, die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke, burgemeesters, premiers, die Suid-Afrikaanse plaaslike regeringsvereniging, tradisionele leiers en politieke partye wat in die parlement verteenwoordig word.

“Die kabinet verwelkom die konsultasies, wat in die algemeen konstruktief was en die beplanning verryk het vir die stelselmatige verslapping van beperkinge na vlak 3.”

Luidens die kabinet behels vlak 3 die verwydering van beperkings op die beweging van mense, en sal ook toelaat dat sowat agt miljoen mense kan terugkeer werk toe.

Spesiale aandag sal aan brandpunte gegee word waar ’n toename in koronavirus-infeksies bespeur word. Provinsiale gesondheidsdepartemente sal by die brandpunte ingryp deur onder meer sifting en toetse te verhoog en maatreëls vir kwarantyn in te stel.

Meer oor:  Nkosazana Dlamini-Zuma  |  Besluit  |  Regulasies  |  Kabinet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.