Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Regulasies vir toerisme-bedryf bekend gemaak

Mmamoloko Kubayi-Ngubane, minister van toerisme, het Maandag die regulasies vir die opening van restaurante, kitskosrestaurante, koffiewinkels, lodges, bed-en-ontbyt-plekke, oorde, tyddeeleenhede, gastehuise, selfrit-uitstappies, casino’s en konferensielokale vir vergaderings in die Staatskoerant gepubliseer.

Mmamoloko Kubayi-Ngubane
Mmamoloko Kubayi-Ngubane, minister van toerisme. Foto: Lindile Mbontsi

’n Daaglikse rekord van klante by restaurante, kitskosrestaurante en koffiewinkels moet gehou word vir wanneer iemand nagespoor moet kan word. Alle werknemers by restaurante, kitskosrestaurante en koffiewinkels sal ook by hul aankoms en aan die einde van hul werkdag deur ’n siftingsproses moet gaan. Alle voertuie en houers vir die aflewering van eet- en drinkgoed moet daagliks deeglik ontsmet word. Kombuispersoneel moet ook wasbakke een op ’n slag gebruik om hul hande gereeld te reinig. Vir die afhaal van items moet daar ’n duidelike gemerkte ruimte wees wat afsonderlik is van aansiteetplekke en die kombuis waar kos berei word. Klante wat items via afleweringsdienste bestel het, moet gesigmaskers dra wanneer sulke aflewerings gedoen word. Die afleweraar moet sy of haar hande was elke keer wanneer ’n aflewering voltooi is.

Mense wat restaurante besoek, moet te alle tye gesigmaskers dra, behalwe wanneer hulle eet en drink. ’n Gesonde afstand van 1,5 m moet tussen mense wat aansit, gehandhaaf word.

Ingevolge die regulasies moet alle oorbodige tafels en stoele by restaurante, kitskosrestaurante en koffiewinkels wat voldoende spasie tussen mense kan belemmer, verwyder word. Mense mag nie in toue vir buffet-etes staan nie, maar kan vooraf kositems bespreek wat dan afgehaal moet word of deur personeellede aan mense in porsies oorhandig word. Die spyskaarte in restaurante moet ook vervang word met opsies waaraan klante nie hoef te raak nie of moet gereeld gereinig word. Alle tafels moet voor en nadat mense aansit, skoongemaak word. ’n Kelner moet minstens 1 m van ’n tafel wegstaan. Waar moontlik moet alle tafeldoeke van die tafels verwyder word en slegs noodsaaklike items, soos sout en peper, moet beskikbaar wees.

By hotelle, lodges, bed-en-ontbyt-plekke, tyddeeleenhede, oorde en gastehuise waar meer as 50 mense aandoen, moet siftingstasies aangebring word. Daar sal ook hier van gaste gevra word om te alle tye gesigmaskers te dra, behalwe wanneer hulle in hul eenhede tuisgaan of wanneer hulle drink of eet. Slegs 50% van die kapasiteit van ’n algemene slaapkamer met baie beddens mag gebruik word. ’n Reiniger moet in alle gastekamers beskikbaar wees. Toegangsleutels of -kaarte vir eenhede moet by uitgaan en aankoms van gaste ontsmet word. By hul aankoms moet alle gaste se reisbagasie ook ontsmet word.

Nie meer as 50 mense sal op ’n konferensie en in ’n vergaderingslokaal toegelaat word nie. Diegene wat die konferensie of vergadering aanbied, is verantwoordelik vir die handhawing van ’n gesonde afstand tussen konferensiegangers wat neerkom op minstens 1,5 m. Konferensiegangers sal ook by hul aankoms ’n siftingstoets moet ondergaan. Spesifieke sitplekke sal vir konferensiegangers aangewys word wat nie onder mekaar uitgeruil mag word nie. Elkeen moet hul eie pen en papier gebruik. Alle penne moet ná gebruik skoongemaak of van ontslae geraak word. Alle papier wat nie deur konferensiegangers gebruik word nie, moet vernietig word.

Nie meer as 50% van ’n casino se vloerruimte mag gebruik word nie. ’n Gesonde afstand moet ook hier gehandhaaf word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.