Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Reis, maar streng voorwaardes geld

Streng voorwaardes sal geld vir Suid-Afrikaners wat in hoërisikolande is óf wat van Donderdag daarheen vir sake- of ontspanningsdoeleindes wil reis én weer wil terugkeer huis toe.

Ministers van die nasionale koronavirusbevelsraad het dié voorwaardes Woensdagmiddag bekend gemaak op ’n nuuskonferensie in Pretoria toe hulle verduidelik het hoe dit gaan werk as Suid-Afrika van 1 Oktober weer internasionale reise toelaat.

Hoërisiko lande is dié wat meer Covid-19-infeksies en -sterftes as Suid-Afrika het. Geen ontspanningsreisigers sal vanuit dié lande in Suid-Afrika toegelaat word nie.

Sakereisigers met skaars en kritieke vaardighede, sowel as diplomate, beleggers, professionele sportlui uit dié lande sal onder streng voorwaardes toegelaat word.

Onder die hoërisiko lande is Brittanje, Amerika, Frankryk, Italië, Indië, Israel, Nederland, Portugal, Katar en Switserland.

Dr. Aaron Motsoaledi, minister van binnelanse sake, sê Suid-Afrikaners sal wel toegelaat word om na enige land te reis “as daardie lande hulle toelaat”.

“Maar as hulle terugkeer van ’n hoërisikoland sal hulle met hul aankoms in Suid-Afrika dieselfde behandeling as burgers van daardie lande ontvang.”

Op ’n vraag of ’n Suid-Afrikaanse burger wat van 1 Oktober na die buiteland reis en daar die koronavirus opdoen weer huis toe kan kom, het dr. Naledi Pandor, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, gesê iemand wat positief is, moet nie reis nie.

“Die land waarvandaan so persoon wil reis, het dan ’n verantwoordelikheid om die persoon of in ’n gesondheids- of kwarantynfasiliteit te plaas of om te eis dat die persoon in selfisolasie gaan.

“ ’n Positiewe persoon moet nie toegelaat word om aan boord ’n vliegtuig te gaan nie.”

Mmamoloko Kubayi-Ngubane, minister van toerisme, het bygevoeg dat alle lande se statusse tweeweekliks hersien sal word afhangende daarvan of die infeksies daar daal of styg.

Die bevelsraad en kabinet sal elke twee weke ’n aankondiging daaroor maak.

Internasionale vlugte sal ook net van die O.R. Tambo-, Kaapstad- en Koning Shaka-lughawe hervat word.

Sake- en ontspanningsreise na Suid-Afrika uit alle Afrika- en medium- of laerisikolande sal onder streng Covid-19-voorwaardes toegelaat word.

Oorgrens-padvervoer na Afrikalande sal ook van Donderdag oopmaak vir vrag en passasiers deur die 18 oop landgrensposte.

China, waar die koronaviruspandemie ontstaan het, is ’n laerisikoland.

Vragskepe sal ook van Donderdag in hawens toegelaat word, maar passasierskepe word steeds verbied.

Pandor sê Suid-Afrika se stelselmatige heropening van landsgrense vir internasionale reise word gelei deur riglyne daarvoor van die Wêreldgesondheidsorganisasie.

Volgens haar het Suid-Afrika voldoende voorkomingsmaatreëls ingestel om met die hervatting van internasionale reise die risiko van ’n tweede vlaag van infeksies te versag.

Reisigers uit veral hoërisikolande moet hulself eers in die land van vertrek laat toets. Dié reisigers moet ’n doktersertifikaat by hulle hê, van nie ouer as 72 uur nie en wat aandui dat hulle negatief vir die virus getoets is, met hul aankoms in Suid-Afrika.

“Enige reisiger sal met hul aankoms in Suid-Afrika vir Covid-19-simptome getoets word.”

Hulle sal  bewys van verblyf moet lewer met hul aankoms vir ingeval hulle moet selfisoleer.

Dié met simptome sal op eie onkoste getoets word.

“As die toets positief is, sal die reisiger op eie onkoste onderwerp word aan tien dae van kwarantyn by ’n toegewysde perseel.”

Pandor het benadruk dat internasionale reisigers ook verpligte reisversekering moet hê om die onkoste vir Covid-19-toetse en vir kwarantyn te dek.

As ’n paspoort van ’n reisiger uit ’n hoërisikoland toon dat iemand vir tien dae of langer in ’n laerisikoland was, sal so 'n persoon beskou word as iemand wat uit ’n laerisikoland aangekom het.

Langtermynvisumhouers wat die land vir sakedoeleindes wil besoek, sal ook toegelaat word, het Pandor gesê.

Dié lande is op die hoërisikolys
Albanië, Brasilië, Frankryk, Indië, Argentinië, Chili, Georgië, Iran, Armenië, Colombia, Griekeland, Irak, Oostenryk, Costa Rica, Guatemala, Ierland, Bahrein, Kroasië, Guyana, Israel, België, Tsjeggiese Republiek, Honduras, Jamaika, Bolivië, Denemarke, Hongarye, Jordanië, Bosnië en Herzegovina, Ecuador, Ysland, Koeweit, Lebanon, Nepal, Peru, Suriname, Luxemburg, Nederland, Portugal, Switserland, die Maledive, Noord-Masedonië, Puerto Rico, Oekraïne, Malta, Oman, Katar, Amerika, Mexiko, Palestina, Roemenië, Brittanje, Moldova, Panama, Rusland, Amerika, Montenegro, Paraguay, Slowakye en Venezuela.


Meer oor:  Koronavirus  |  Vlak 1  |  Hoërisiko Lande  |  Covid-19  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.