Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Reis se hoërisikolys ‘terugslag vir SA toerisme’

Die feit dat mense uit vier van die vyf lande waarvandaan Suid-Afrika se meeste toeriste kom nie tans vir plesier na Suid-Afrika mag reis nie, is ’n groot terugslag vir die toerismebedryf.

Só sê toerismekenners nadat die regering Woensdag meer inligting oor die regulasies oor internasionale reis bekend gemaak het.

Dr. Naledi Pandor, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, het op ’n mediakonferensie aangekondig dat lande as hoë, medium- en lae risiko geklassifiseer word vir wanneer internasionale reise van Donderdag af geleidelik hervat.

Die klassifikasielys sal elke twee weke hersien word.

Van Suid-Afrika se grootse toerismelande – Brittanje, die VSA, Frankryk en Nederland – word tans as hoërisiko bestempel, wat beteken dat mense van dié lande nie in Suid-Afrika sal mag kom vakansie hou nie.

Sakereisigers en beleggers van die betrokke lande sal wel na Suid-Afrika mag reis.

Ek voel ook die regering het nie die ekonomiese invloed genoeg in ag geneem deur sekere lande as hoërisiko te klassifiseer nie. Die feit dat die res van die regulasies so streng is, sal op sigself die risiko voldoende verklein.

Pandor het verduidelik dat riglyne deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) en lande se sterfte- en infeksiekoers van die koronavirus in berekening gebring is om te besluit in watter kategorie lande val.

Suid-Afrika en lande met ’n soortgelyke koers word as mediumrisiko geklassifiseer, en lande met ’n hoër en laer berekende koers as Suid-Afrika, onderskeidelik as hoë- en mediumrisikolande.

Alle Afrikalande val basies in die laerisikogroep.

Gillian Saunders, ’n toerismedeskundige verbonde aan die Universiteit van Johannesburg se skool vir toerisme en gasvryheid, meen die lys is irrasioneel.

“Ek voel ook die regering het nie die ekonomiese invloed genoeg in ag geneem deur sekere lande as hoërisiko te klassifiseer nie. Die feit dat die res van die regulasies so streng is, sal op sigself die risiko voldoende verklein.”

Saunders het ook ’n probleem daarmee dat almal wat na Suid-Afrika reis oor internasionale reisversekering moet beskik sodat die versekering vir kwarantyngeriewe en koronavirustoetse kan uitbetaal ingeval dit vereis word.

“Daar is baie min reisversekering wat kwarantyn en toetse dek, en die wat wel sal uitbetaal, is baie duur. Daarom kan dit toeriste ontmoedig,” waarsku Saunders.

Tshifhiwa Tshivhengwa, uitvoerende hoof van die toerismesakeraad van Suid-Afrika, sê die regering moet ’n volledige lys met die klassifikasie van lande verskaf omdat dit steeds onduidelik is presies watter lande waar op die klassifikasiespektrum is.

“Die regering het ook lande soos Trinidad en Tobago as hoërisiko bestempel, maar ons ontvang jaarliks waarskynlik minder as tien toeriste daarvandaan. Dis onmoontlik dat so ’n klein getal mense ’n risiko inhou,” meen hy.

Prof. Peet van der Merwe, ’n dosent in toerismebestuur aan die Noordwes-Universiteit, sê ’n groot troosprys is dat China, waarvan ook baie toeriste kom, as ’n laerisikoland geklassifiseer word.

“Die reispakkette vir Suid-Afrika sal waarskynlik goedkoop wees, en daarom kan dit meer reisigers lok van lande wat tradisioneel nie van ons grootste toerismemarkte is nie.”

Volgens Pandor gaan die Suid-Afrikaanse regering nie Suid-Afrikaners verhoed om na enige ander land te reis nie, hoewel ander lande hul eie reisbeperkings kan hê.

Suid-Afrikaners wat uit hoërisikolande in die land aankom, sal aan dieselfde streng maatreëls onderwerp word as toeriste vanuit dié lande.

Otto de Vries, uitvoerende hoof van die vereniging van Suider-Afrikaanse reisagentskappe, sê hulle verstaan dit beteken dat Suid-Afrikaners onder meer ook ’n koronavirustoets sal moet ondergaan 72 uur voordat hulle op ’n vliegtuig klim.

“Ons het egter steeds vrae oor hoe dit gaan werk wanneer mense van ander lande by ’n spilpuntlughawe soos Heathrow in Londen land om na Suid-Afrika te reis.”

Volgens Pandor moet alle internasionale reisigers ’n koronavirustoets by ’n gesondheidspraktisyn ondergaan 72 uur voordat hul op die vliegtuig klim en bewys daarvan kan lewer wanneer hulle land.

Hulle sal by Suid-Afrikaanse lughawens onderwerp word aan sifting en sal dan nog ’n koronavirustoets moet ondergaan.

As hulle positief toets en die plek waar hulle tuisgaan hulle nie voldoende kan isoleer nie, sal die regering kwarantyngeriewe vir reisigers identifiseer, waar die reisigers self vir hul verblyf sal moet opdok.

Meer oor:  Koronavirus  |  Toerisme  |  Inperking  |  Vlugte  |  Covid-19  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.