Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Beleidshoof kap DA in bedankingsbrief

Sy glo nie die DA neem beleid ernstig op nie – die party bestee meer geld aan tydelike advertensieborde en ander bemarking as om ’n omvattende bloudruk oor sy beleid vir die land te ontwikkel.

Dié woorde verskyn in Gwen Ngwenya se bedankingsbrief aan Mmusi Maimane, DA-leier, waarin sy verskeie redes vir haar besluit uitstippel.

Ngwenya het verlede week as beleidshoof van die DA bedank, maar sy bly aan LP.

In haar bedankingsbrief skryf Ngwenya dat die uitvoerende hoof van die DA oor beleid besluit.

“In die praktyk is dit die uitvoerende hoof wat oor die beleid van die party besluit en nie die verkose verteenwoordigers nie.”

Sy wys daarop dat toe sy genader is om die DA se beleidshoof te wees sy die versekering gegee is dat dié beleidseenheid die ondersteuning van die leierskap sou hê, dat dit semi-onafhanklik sou funksioneer en dat dit daar sou wees om onbelemmerde raad gegrond op navorsing te verskaf. Boonop sou hulpbronne aan haar verleen word om haar werk te verrig.

“Geen van dié bepalings is gedeeltelik, laat staan nog ten volle, nagekom nie. In plaas daarvan is ek aan my eie lot oorgelaat te midde van ongelukkigheid oor beleid in die party. Daar was gebiede van beleid waaraan nie geraak kon word nie, geen begroting is aan die beleidseenheid toegeken nie en geen bykomende personeel kon aangestel word nie.”

Volgens Ngwenya sou sy waarskynlik nooit die rol aanvaar het as dít uit die staanspoor aan haar uiteengesit is nie.

Dit was waarskynlik die oomblik toe ek moes bedank; toe ek aan my eie lot oorgelaat is sonder soveel as ’n telefoonoproep nadat ek herhaal het wat die leier maande gelede reeds gesê het, al was dit in die betreklike veiligheid van ’n DA-nuusbrief.

Sy verwys na ’n artikel wat sy verlede jaar geskryf het waarin sy sê dat swart ekonomiese bemagtiging (SEB) nie aan die verwagtinge voldoen het nie en dat die DA ’n alternatief daarvoor ondersoek. Dit het groot reaksie in die party ontlok.

Volgens Ngwenya het die federale uitvoerende raad haar in Julie 2018 die mandaat gegee om ’n nierassige alternatief te ondersoek.

Sy skryf sy het Maimane se eie woorde in die artikel aangehaal wat in sy aanlyn nuusbrief Bokamoso verskyn het. Dit het onder meer gelui dat grootskaalse verandering in die bemagtigingsbeleid nodig is, dat daar wegbeweeg moet word van ’n beleid wat op ras gegrond is en wat tot die verryking van die elite lei na ’n beleid wat die stelsel van ontneming, waarin miljoene Suid-Afrikaners steeds vasgevang is, wesenlik sal afbreek.

“Die gevolg daarvan om oor partymandaat en die woorde van die leier te kommunikeer, was ’n openbare teregwysing oor my standpunt deur die federale voorsitter. Ek glo hy het op die wysheid van ons kommunikasie-eenheid opgetree.”

Ngwenya merk op dat in plaas daarvan om oor SEB te debatteer en sy eie struktuur se besluit te erken, het die party dit goedgedink om sy beleidshoof aan te val.

“Dit was waarskynlik die oomblik toe ek moes bedank; toe ek aan my eie lot oorgelaat is sonder soveel as ’n telefoonoproep nadat ek herhaal het wat die leier maande gelede reeds gesê het, al was dit in die betreklike veiligheid van ’n DA-nuusbrief.”

Ngwenya het navrae na Solly Malatsi, DA-woordvoerder, verwys.

Malatsi het Ngwenya bedank vir haar rol as beleidshoof en sê sy sal haar nou ten volle toewy aan haar rol in die portefeuljekomitee oor energie.

“Beleid in die DA word ontwikkel deur verskeie strukture en hoogs vaardige individue en dié werk sal voortgaan wat sal manifesteer in die bekendstelling van ons verkiesingsmanifes op 23 Februarie. Die manifes sal gestalte gee aan ons visie om verandering te bring in een Suid-Afrika vir almal.”

Meer oor:  Gwen Ngwenya  |  Mmusi Mai­Mane  |  Reklamebord  |  Politek  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.