Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Reserwebank: Hof se uitspraak oor OB ‘rigtinggewend’
Adv. Busisiwe MkhwebaneFoto: DAILY SUN

As die konstitusionele hof se uitspraak Maandag teen adv. Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer is, sal oproepe vir haar verwydering uit haar pos beslis toeneem.

Dié mening is Sondag deur Ralph Mathekga, politieke ontleder, gehuldig.

Die konstitusionele hof is geskeduleer om Maandag uitspraak te lewer in die saak tussen Mkhwebane en die Suid-Afrikaanse Reserwebank. Die hof sal uitspraak lewer oor of sy persoonlik aanspreeklik gehou moet word vir ’n gedeelte van die koste in die hooggeregshofsaak waarin haar verslae oor die Reserwebank en die Absa-Bankorp-sage ter syde gestel is.

Mathekga het by navraag gesê as die konstitusionele hof bevind dat sy persoonlik aanspreeklik gehou moet word vir ’n deel van die regskoste, beteken dit dat daar geen grondslag vir haar was om met die saak voort te gaan nie en dat dit nie in ooreenstemming met die mandaat van die OB was nie.

“As die uitspraak teen haar is, sal dit implikasies inhou vir haar. Oproepe vir haar verwydering uit haar posisie sal beslis toeneem. As die uitspraak in haar guns is, sal sy baie aggressief reageer.”

Die moontlikheid bestaan volgens Mathekga dat die hof haar net kan teregwys en nie persoonlik aanspreeklik hou vir die regskoste nie.

Theo Venter, politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit, het gesê hy meen die hof sal Maandag ’n rigtinggewende uitspraak lewer oor hoe die OB haar werk moet doen.

As die ANC-koukus gaan hande vat teen haar sal dit vir haar baie moeilik wees om voort te gaan met haar werk.
Theo Venter, politieke ontleder

“Dit gaan net so belangrik wees soos die hof se uitspraak in die Nkandla-kwessie wat rigtinggewend was in verband met die amp van die OB. Dit sal kwessies hanteer rakende die beperkinge van haar rol en waaroor sy versigtig moet wees.”

Volgens Venter kom die posisie van die OB toenemend onder politieke druk. Baie hang af van wat die parlement gaan doen in die parlementêre komitees waar sy verantwoordelik gehou word.

“As die ANC-koukus gaan hande vat teen haar sal dit vir haar baie moeilik wees om voort te gaan met haar werk,” het hy gesê.

Die saak spruit uit ’n verslag wat Mkhwebane in Junie 2017 bekend gestel het waarin sy aanbeveel het dat Absa ’n bedrag van R1,125 miljard aan die Reserwebank moet terugbetaal. Dié bedrag was volgens haar ’n reddingsboei wat die Reserwebank in die apartheidsera aan Bankorp betaal het. Absa het Bankorp later oorgeneem.

Die Reserwebank en Absa het later ’n aansoek by die hooggeregshof in Pretoria ingedien om die verslag en die aanbevelings daarin ter syde te laat stel.

Die hof het in die banke se guns beslis en Mkhwebane is ook beveel om 15% van die Reserwebank se regskoste in haar persoonlike hoedanigheid te betaal. Die res moes deur haar kantoor betaal word.

Mkhwebane het teen dié uitspraak appelleer, maar die appèlhof het dit van die hand gewys waarna sy haar tot die konstitusionele hof gewend het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.