Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Spoor bied aan om Zuma gratis te verteenwoordig

Die bekende menseregteprokureur Richard Spoor bied aan om oudpres. Jacob Zuma in sy komende korrupsieverhoor rakende die wapenskandaal gratis te verteenwoordig.

Spoor se aanbod kom nadat Eric Mabuza, Zuma se vorige prokureur, verlede Woensdag die hooggeregshof in Pietermaritzburg in kennis gestel het dat hy voortaan nie meer Zuma se prokureur sal wees as hy weer op 17 Mei in daardie hof op bogenoemde aanklagte moet verskyn nie.

Richard Spoor Foto: Deon Raath/Rapport

Zuma en die Franse wapenvervaardiger Thales staan in dié hof tereg op 16 aanklagte van korrupsie, bedrog en geldwassery oor die destydse wapenskandaal.

Vukile Mathabela, Zuma se woordvoerder, het Sondag by navraag gesê hy moet eers by Zuma uitvind of hy bewus is van Spoor se aanbod “omdat ons ook deur die media daarvan bewus geword het. Hy (Zuma) is egter vandag in vergaderings en kan nie bereik word nie.”

Volgens Spoor het iemand uit Zuma se private kantoor hom al oor die aanbod gebel “om uit te vind of dit bona fide is. Ek het nog nie persoonlik daaroor met hom gepraat nie.”

“Dit hang van die oudpresident af of hy my aanbod sal aanvaar of nie.”

Vroeër is berig dat die nasionale vervolgingsgesag bevestig het dat hy gereed is om voort te gaan met die saak teen Zuma en Thales wat al baie jare sloer.

Spoor het Sondag verder gesê die saak teen Zuma kom al vir baie lank, voordat Mabuza hom onttrek het.

“Soos ek verstaan, kwalifiseer Zuma nie vir regshulp nie. Dit is egter baie duidelik dat hy ’n regsverteenwoordiger benodig aangesien dit ’n baie groot saak van openbare belang is. Hy is geregtig op regsverteenwoordiging.

“My aanbod is egter nie uniek nie omdat daar baie ander prokureurs is wat ook sal aanbied om Zuma op ’n pro-bono-basis te verteenwoordig.

“Dit is ook in die openbare belang dat die saak so spoedig moontlik afgehandel word. Zuma verdien dít en regsverteenwoordiging,” het Spoor bygevoeg.

Oudpres. Jacob Zuma Foto: Ian Carbutt

Vroeër is berig dat Mabuza die afgelope jaar as prokureur ook vir Zuma moes bystaan in sy stryd teen die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping en die konstitusionele hof. Laasgenoemde hof moet ook nog bepaal of hy ’n versoek van die Zondo-kommissie om Zuma aan minagting van die hof skuldig te bevind, sal toestaan of nie.

Dit is omdat Zuma weier om gehoor te gee aan die konstitusionele hof se opdrag dat hy voor die Zondo-kommissie móét verskyn nadat meer as 40 getuies hom by staatskaping betrek het. Zuma kan twee jaar tronk toe gestuur word as hy skuldig bevind word.

Mabuza se besluit om hom as Zuma se prokureur te onttrek, het ook gekom nadat die appèlhof in Bloemfontein op 14 April Zuma se appèl van die hand gewys het teen ’n vorige beslissing van die hooggeregshof wat bevind het dat die regering nie sy persoonlike regskoste in bogenoemde korrupsiesaak hoef te betaal nie. Daar is bevind dat Zuma alle staatsgeld wat oor die jare daarvoor bestee is – wat sowat R25 miljoen kan beloop – moet terugbetaal.

• Intussen het City Press Sondag berig dat die argitek Minenhle Makhanya, wat verantwoordelik was vir die opgradering aan Zuma se Nkandla-woonkompleks ter waarde van R246 miljoen – wat belastingbetalers moes opdok – ook nou “armoede aanvoer en beweer dat hy nie eens prokureurs kan bekostig om pogings van die spesiale ondersoekeenheid (SOE) te betwis wat van daardie geld van hom wil verhaal nie”.

Die koerant berig verder dat die SOE se spesiale tribunaal R155 miljoen van Makhanya wil verhaal.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.