Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Rioolstelsels in SA danksy apartheid, sê Malema

As dit nie vir die apartheidsregering was nie, sou Suid-Afrika onder die leierskap van die ANC geen rioolstelsel gehad het nie.

So het Julius Malema, EFF-leier, Dinsdag onder luide toejuiging van honderde EFF-ondersteuners in Bloemfontein na die regerende party gekap.

Malema het hom weens uitputting eers later by die protesoptog vanaf Ramkraal na die Glaspaleis (hoofkantoor van die Mangaung-metro) aangesluit. Hy is luid toegejuig.

Tientalle Vrystaters, waaronder mense met babas, jong kinders en bejaardes het aan die optog deelgeneem om ’n griefskrif aan Olly Mlamleli, uitvoerende burgemeester, te oorhandig.

Julius Malema en tientalle EFF-ondersteuners het Dinsdag die strate in die Bloemfonteinse middestad ingevaar om ’n griefskrif aan Olly Mlamleli, uitvoerende burgemeester van die Mangaung-metro, te oorhandig.Foto: Mlungisi Louw

Minstens twee vroue het tydens die optog inmekaargesak.

Malema sê sy grootste probleem met die ANC is die gebrek aan dienslewering.

“Hulle maak nie die townships skoon nie. Townships is stortingsterreine vir dié party. Hulle kan nie agter hulle skoonmaak nie. Ons moet betoog om hulle te vra om skoon te maak.”

Volgens Malema is om skoon te maak so eenvoudig as om jou hande te was nadat jy ’n toilet gebruik het of om iemand te herinner om die toilet te spoel.

Hy sê hy verstaan dat ingenieurs nodig is vir die lewering van water en elektrisiteit.

“Om skoon te maak is ’n eenvoudige taak, maar selfs dit kan hulle nie doen nie. Was dit nie vir die apartheidsregering nie, sou ons nie ’n rioolstelsel gehad het nie. Maar nou word dit nie in stand gehou nie.”

Julius Malema voer danspassies voor die skare in Bloemfontein uit. Foto: Mlungisi Louw

Volgens Malema verval selfs paaie en geboue onder die ANC en indien ’n nuwe pad gebou word, spoel dit weg met die reën.

“Wat baat nuwe infrastruktuur as jy dit nie kan in stand hou nie?” vra hy.

Hy sê mense was beter af onder die apartheidsregering omdat hulle dienste gelewer het.

Tientalle EFF-ondersteuners het Dinsdag in Bloemfontein kom hoor wat hul leier, Julius Malema, se boodskap aan hulle is. Foto: Mlungisi Louw

Oor die grondkwessie het Malema gesê: “Kom ons deel die land en die wêreld.”

Hy sê wit mense is bang om hul grond te deel omdat hulle gelykheid vrees.

“Daar gaan geen burgeroorlog uitbreek, bloed vloei of wit mense vermoor word nie. Wit mense is net bang vir gelykheid, daarom noem hulle my ’n misdadiger en ’n waansinnige. Al swart mense wat hulle ken, is dié wat hulle as minderwaardig beskou.”

Malema het aan die protesgangers gesê verandering lê binne hul bereik.

“Sonder brandende buitebande en rubberkoeëls kan julle op 8 Mei met grimering en stiletto’s aan verandering bring as julle jul kruisies trek.”

Julius Malema is onder ’n gejuig en luide dreunsang deur sy ondersteuners in Bloemfontein verwelkom. Foto: Mlungisi Louw

Meer oor:  Julius Malema  |  Apartheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.