Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Roelf se groep skenk miljarde vir opkomende boere

Die organisasie In Transformation Initiative se landbou-ontwikkelingsagentskap, waarin oudminister Roelf Meyer ’n sleutelrol speel, het Woensdag op die regering se tweede internasionale beleggingskonferensie in Johannesburg R12,9 miljard oor die volgende vyf jaar bewillig om veral opkomende en bestaansboere in die land te help.

Meyer het met die aankondiging gesê sowat 450 000 mense in landelike gemeenskappe sal na raming hieruit voordeel trek.

Tot 300 000 werksgeleenthede kan hiermee geskep word, het Meyer aan pres. Cyril Ramaphosa, voorsitter van die konferensie, gesê.

Rob Shuter, uitvoerende hoof van MTN, gesels Woensdag op die regering se tweede internasionale beleggingskonferensie in Johannesburg met pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Presidensie

Meyer en Ramaphosa ken mekaar baie goed sedert die Kodesa-onderhandelinge toe hulle onderskeidelik die ou NP-regering en die ANC se hoofonderhandelaars was.

Een van die groot uitdagings in Suid-Afrikaanse landbou is finansiële ondersteuning vir opkomende en swart kommersiële boere.

Sowat 1 500 beleggers en sakelui uit Suid-Afrika en 22 ander lande woon die konferensie by wat Donderdag eindig.

Verskeie ander maatskappye, waaronder MTN (R50 miljard oor vyf jaar), die Nuwe Ontwikkelingsbank (R23 miljard), Transnet (R22,1 miljard), Sappi (R14 miljard), Discovery (R1,4 miljard), en Toyota (R12 miljard), het reeds Woensdagoggend beleggings beloof.

Nóg aankondigings word Woensdagmiddag verwag.

Die regering hoop om oor ’n tydperk van vyf jaar R1 200 miljard se beleggings te lok.

Die eerste beleggingskonferensie verlede jaar het R300 miljard opgelewer en die regering hoop om dit vanjaar te ewenaar of selfs te verbeter, het Ramaphosa in sy verwelkomingstoespraak gesê.

“Van die 31 projekte wat verlede jaar hier aangekondig is, is agt voltooi en 17 ander is nog in die konstruksiefase of besig om in werking gestel te word.

“Van die R300 miljard wat verlede jaar beloof is, is R238 miljard bestee.

“Dit is ’n buitengewone prestasie deur dié maatskappye wat verlede jaar hier gestaan, beloftes gemaak en dit uitgevoer het,” het Ramaphosa gesê.

Dit is goed om te sien dat beleggers Suid-Afrika steeds as ’n beleggingsbestemming sien. Suid-Afrika is ’n land wat baie het om te bied en is ’n lewensvatbare en winsgewende beleggingsbestemming.

“Dit is goed om te sien dat beleggers Suid-Afrika steeds as ’n beleggingsbestemming sien. Suid-Afrika is ’n land wat baie het om te bied en is ’n lewensvatbare en winsgewende beleggingsbestemming.

“Ons het baie te bied in die gedaante van ons mense, ons natuurlike en minerale bronne, ’n gesofistikeerde telekommunikasiestelsel, en ’n goed gereguleerde finansiële en bankstelsel,” sê Ramaphosa.

“Die oppergesag van die reg geld, ons regbank is onafhanklik, ons regstelsel is sterk, veral waar dit kom by handel, belasting, maritieme kwessies, mededingingswetgewing, intellektuele eiendom, eiendomsreg en basiese menseregte.

“Voorts het ons ’n energieke burgerlike gemeenskap, ’n progressiewe arbeidsbestel en ’n onafhanklike en robuuste media,” het Ramaphosa bygevoeg.

“Ons word bemoedig deur soveel sakelui wat die potensiaal van ons land raaksien. Daarom nooi ek julle om saam met ons te werk om Suid-Afrika ’n land van stabiliteit, vooruitgang en voorspoed vir almal te maak.”

Ramaphosa se kabinet woon ook vanjaar se konferensie by, sowel as Suid-Afrikaanse ambassadeurs en hoë kommissarisse van die buiteland. Die diplomatieke korps in Suid-Afrika is ook goed verteenwoordig.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.