Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Roets ruik bloed ná rubriek oor God

AfriForum se eis dat ’n “aggressief anti-Christelike” rubriek onvoorwaardelik onttrek word aan die nuusblad van die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV), het die afgelope week tot beskuldigings gelei dat AfriForum ’n “nuwe apartheid” tot stand wil bring.

Ernst Roets (links)

Dit was ’n nuwe laagtepunt in die broedertwis tussen dié twee invloedryke drukgroepe.

Die sneller vir die jongste relletjie tussen Frans Cronje, die IRV se uitvoerende hoof, en Ernst Roets, hoof van beleid en aksie by AfriForum, was ’n rubriek wat op 24 November gepubliseer is op die IRV se nuusblad, The Daily Friend.

Onder die opskrif “Let’s Decolonise Religion” het die kommentator Ivo Vegter gevra waarom die Christelike godsdiens nog nie soos Westerse letterkunde, standbeelde of selfs die wetenskap geteiken is met die eis dat dit “gedekoloniseer” moet word nie.

“Christenskap is na Afrika gebring deur die koloniseerders om die ‘barbare te help beskaaf’. Vandag word dit uitgebuit deur boewe en kwaksalwers om by die armes te steel. So waarom sal enige selfrespekterende swart persoon kies om die godsdiens van die koloniseerders en verdrukkers te volg?” het Vegter gevra.

Die IRV glo blykbaar dat om God, Christene en gelowiges bespotlik te maak nie bots met hul beginsels nie, maar ’n gespot met mense op grond van ras wel.
Ernst Roets

Hy skryf Afrikane word gekul en besteel deur predikers soos die Malawiër Shepherd Bushiri en dat Afrikane hul politici aanspreeklik moet hou pleks van na kerke stroom om verlossing van hul sorge te vra.

Toe sommige Christelike lesers kapsie maak, het die IRV in ’n redaksionele kommentaar gesê geen onderwerp behoort bo debat of kritiek verhef te wees nie.

“Dít is die essensie van debat: Om toe te laat dat opponerende sienings gelug word sodat lesers tot hul eie gevolgtrekkings kan kom. Christenskap het die meeste volgelinge wêreldwyd. Dit is voorheen gekritiseer en sal weer gekritiseer word. Christene sal terug-argumenteer, soos hulle moet.”

’n Rits Christelike IRV-kollegas soos Hermann Pretorius het Vegter op The Daily Friend vasgevat, maar tog die debat verwelkom.

Roets was woedend.

Frans Cronje

Op Twitter het hy die IRV op 27 November gekap weens “aggressief anti-Christelike artikels” en gesê die instituut verhef liberale waardes “bo Christus”.

In ’n brief  aan Michael Morris, die IRV se mediahoof, het Roets gesê die IRV se besluit om Vegter se artikel te dra, nadat hulle in Meimaand die rubriekskrywer David Bullard oor beweerde rassisme afgedank het, “slaan 'n mens dronk”.

“Die publikasie van hierdie artikels laat dit lyk asof die IRV nie ten volle verstaan dat ons aangeval word in ’n kultuuroorlog nie . . . waarin die kern van Westerse identiteit, geskiedenis en oortuigings die teiken is.

“Die IRV glo blykbaar dat om God, Christene en gelowiges bespotlik te maak nie bots met hul beginsels nie, maar ’n gespot met mense op grond van ras wel.

Ons is onder sulke konstante druk om ons beginsels te kompromitteer dat as ons dit een keer sou doen ter wille van geld, sou ons dit weer kon doen.
Frans Cronje

“Om met God te spot op ’n IRV-platform is so ernstig dat slegs ’n onvoorwaardelike onttrekking (van die artikel) sal deug,” het Roets geskryf.

Bullard se bydraes tot The Daily Friend is in Mei beëindig nadat hy op Twitter oënskynlik met die gebruik van die gewraakte K-woord gespot het (sien twiet hier bo).

Maandag het Cronje op The Daily Friend  geskryf  AfriForum probeer met sy ultimatum oor Vegter se rubriek “die IRV sink”, tot skade vir hul verbete veldtog teen onteiening sonder vergoeding en regstellende aksie – doelwitte wat hulle en AfriForum deel.

“Ons groot donateurs het ons grootliks verlaat weens die posisies wat ons inneem teen swart ekonomiese bemagtiging, onteiening sonder vergoeding en die links-geïnspireerde kultuuroorloë wat in die Westerse wêreld woed. Ons is onder sulke konstante druk om ons beginsels te kompromitteer dat as ons dit een keer sou doen ter wille van geld, sou ons dit weer kon doen, totdat weinig oorbly van die liberalisme wat ons bestaan om te verdedig.”

Geen geloof is bo kritiek nie: Cronje skryf dit was die IRV wat in 2017 die Deense koerantredakteur Flemming Rose na Suid-Afrika genooi het, wat destyds die omstrede spotprente van die profeet Mohammed gepubliseer het.

Toe was sekere Moslems die josie in.

Vir dié twiet is David Bullard vanjaar in die pad gesteek as rubriekskrywer vir die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV).

Cronje sê AfriForum is “geweldig suksesvol”, maar hy is bekommerd dat hulle nie help om die swart en wit “middelgrond” in Suid-Afrika te verenig nie, iets wat noodsaaklik vir ons land se voortbestaan is.

Hy glo daar is sommige mense in die Solidariteit-beweging “wat die IRV as ’n bedreiging beskou vir ’n rasnasionalistiese projek om ’n nuwe apartheid op die puin van Suid-Afrika se demokratiese eksperiment te bou”.

“Die leierskap speel speletjies met hul lede en hul vrese en emosies en lei hulle in ’n donker gat in. Hiervoor sal hul ondersteuners, ook Afrikaners, ’n verskriklike prys betaal.”

Roets sê aan Rapport AfriForum eis dat Vegter se rubriek onttrek word “omdat dit Frans Cronje se presiese woorde was met betrekking tot ons dokumentêr Disrupted Land.

“Ek dink dat dit ironies of selfs skynheilig van die IRV is om een dag te sê dat AfriForum se dokumentêr onvoorwaardelik onttrek moet word en wanneer AfriForum presies dieselfde woorde oor ’n artikel op die IRV se platform sê, verpak die IRV dit as ’n aanval op spraakvryheid en liberale waardes.”

Roets meen die IRV is “skaam of bang” om Islam te kritiseer en dat skrywers soos Vegter die “wortels van die Westerse beskawing afkap” met sy aanvalle op die Christendom.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.