Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Rooikaart wink vir nuwe sportwet
Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur.Foto: Argief

Die regering se Wysigingswetsontwerp op Sport en Ontspanning wat stil-stil gepubliseer is, kry die wind van voor.

Die voorgestelde wetsontwerp sal dit vir die regering moontlik maak om Suid-Afrikaanse sport te “nasionaliseer” en selfs by spankeuses betrokke te raak.

Byna alle magte van die huidige sportbeheerliggame sal oorgedra word aan ’n adjunk-direkteur-generaal van die departement van sport en ontspanning.

JOHANNESBURG, SOUTH AFRICA - JUNE 09: Gideon Sam d
Gideon Sam Foto: Gallo Images

Gideon Sam, uittredende president van die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee van Suid-Afrika (Saskok), het Sondag aan Netwerk24 gesê die inmenging hou groot gevolge vir Suid-Afrikaanse sport in.

Hy het gewaarsku die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) en die sokkerbeheerliggaam Fifa sal nie inmenging van regeringskant af duld nie.

Die gevolg kan wees dat Suid-Afrika soos in die apartheidsjare uit die Olimpiese Spele en ander internasionale sport geskop word.

As die minister wil oorvat, moet hy teruggaan na die sportkommissie en Olimpiese sportsoorte hul eie pad laat loop.
Gideon Sam

“As die minister wil oorvat, moet hy teruggaan na die sportkommissie en Olimpiese sportsoorte hul eie pad laat loop,” het Sam gesê.

Op sy beurt het AfriForum die regering daarvan beskuldig dat hy sy eie ideologiese agenda bo die belange van Suid-Afrikaanse sport stel.

Kallie Kriel Foto: Elizabeth Sejake
Byna al die internasionale sportfederasies se regulasies verbied uitdruklik enige politieke inmenging in sport.
Kallie Kriel

Kallie Kriel, uitvoerende hoof, sê as die wysigingswetsontwerp in sy huidige vorm aanvaar word, sal AfriForum beslis klagte indien by byna alle internasionale sportfederasies en die IOK.

“Byna al die internasionale sportfederasies se regulasies verbied uitdruklik enige politieke inmenging in sport,” sê Kriel.

“As die regering sou voortgaan met sy planne, stel hulle Suid-Afrikaanse sport op roekelose wyse bloot aan skorsing uit internasionale sportdeelname.

Die DA het die konsepwetgewing beskryf as niks anders nie as die “nasionalisering van sport”.

Veronica van Dyk, ’n DA-woordvoerder oor sport, kuns en kultuur, het gesê daar is geen manier dat die DA die nuwe wet sal aanvaar nie. “Ons sal dit beveg.”

Emeritus-professor Pieter Labuschagne, ’n regs- en politieke kenner van Unisa wat gereeld wetenskaplike artikels oor sport en politiek skryf, waarsku ook die minister se potensiële inmenging sal nie deur die magtige organisasies soos die IOK en Fifa geduld word nie.

“Behalwe dié aspek is die oorburokratisering en oorregulering deur die staat verstommend.

“In praktyk is álle sportaktiwiteite wat ’n bydrae tot fiksheid lewer in die staat se fokus – dus selfs iets soos (Bruce Fordyce se) Parkrun- sosiale wedlope en fiksheidsinstrukteurs by gimnasiums,” sê Labuschagne, wat op sy dag onder andere die atlete Zola Budd en Elana Meyer afgerig het.

“Ek sou graag die betrokke minister net een vraag wil vra: Watter samelewingsverband funksioneer meer doeltreffend nadat die staat betrokke geraak het?”

LJ van Zyl in 2011 in aksie by die Wêreldkampioenskap in Daegu, Suid-Korea. Foto: Getty Images

Die voormalige Olimpiese hekkiesatleet LJ van Zyl, wat tans besig is met ’n meestersgraad in Olimpiese studies aan die Duitse Sportuniversiteit in Keulen, sê hy sien nie net die negatiewe in die wysingswetsontwerp raak nie.

“Ek dink nie ons moet te gou op hol raak nie. Die proses is nog nie afgehandel nie,” het Van Zyl gesê. Hy het Suid-Afrika in drie Olimpiese Spele en ses keer in Wêreld-atletiekkampioenskappe verteenwoordig.

Tog waarsku hy die finale spankeuses en administrasie moet by die onderskeie sportfederasies lê en nie by die departement nie.

“Ek is ten gunste van voorstelle dat belastinggeld gebruik word vir sportontwikkeling.

“As die nuwe wet uiteindelik lei tot meer geleenthede, toegang tot oefengeriewe soos gimnasiums, atletiekbane, rugbyvelde, tennisbane en swembaddens, en ook finansiële ondersteuning vir sportmanne en -vroue, sal dit wonderlik wees,” sê die oudatleet.

Hy dink ook nie die voorgestelde tribunaal om geskille in sport op te los, is ’n slegte idee nie.

“Veral as sportmense tronkstraf kan kry as hulle verbode middels gebruik. Dit sal die ideale afskrikmiddel wees,” meen Van Zyl.

Die departement van sport en ontspanning het nog nie gereageer op ’n versoek om kommentaar nie.

Meer oor:  Kallie Kriel  |  Gideon Sam  |  Afriforum  |  Sport
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.