Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Rupert aan Zuma: 'Vir kinders se toekoms, bedank'
Die sakeman Johann Rupert se kommentaar op Netwerk24.
Die berig op Netwerk24 waarop die sakeman Johann Rupert kommentaar gelewer het.

Ter wille van ons kinders se toekoms, bedank asseblief!

Dit is die sakeman Johann Rupert se pleidooi aan pres. Jacob Zuma. Hy is een van die eerste hoëprofielsakemanne wat hom so sterk uitspreek oor Zuma, die ANC se versuim om teen hom op te tree en die rigting waarin die land beweeg.

Hy het gereageer op berigte dat Zuma glo aan ’n vergadering van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) gesê het hy (Rupert) het spesiaal in Desember uit Londen na Suid-Afrika gevlieg om agter Zuma se rug te konkel.

Dit nadat Zuma op 9 Desember 2015 besluit het om Nhlanhla Nene met Des van Rooyen as minister van finansies te vervang. Van Rooyen is op sy beurt binne dae deur Pravin Gordhan vervang. Volgens inligting is Zuma deur senior partyleiers en ’n afvaardiging van sakelui oorreed om dit te doen.

Rupert het Woensdag by die berig “JZ sê glo: ‘Sê my reguit of ek moet bedank’ ” op Netwerk24 geskryf hy het nie uit Londen teruggevlieg nie omdat hy as kanselier waargeneem het by die Universiteit Stellenbosch (US) se gradeplegtigheid. Hy was dus reeds in Suid-Afrika.

“Pres. Zuma, u moet asseblief opsy staan en na u ANC-tak teruggaan, veral indien u glo dat ek ‘uit Londen’ na Suid-Afrika gevlieg het om met ’n senior ANC-leier te vergader en te eis dat dié aanstelling (van Van Rooyen) omgekeer word.

“Indien u ‘inligting’, nie van die Guptas nie, korrek was, sou u kon sien dat ek by die gradeplegtighede by Universiteit Stellenbosch was. 

“Hoe kon ek dus ‘terugvlieg’? 

“Ja, vir die kinders se toekoms, bedank asseblief.”

Hy het uit Amerika aan Netwerk24 gesê hy is nou “keelvol” vir die manier waarop Zuma die land bestuur.

“Dis nou die tyd vir mense om hul stem te laat hoor.

“Ons (sakelui) moet nou maar, soos met die vorige regime, bereid wees om ongewild te wees.”

Sakelui en beleggers met wie hy oorsee in gesprek is, waarsku hom dat Suid-Afrika se kredietgradering onvermydelik na rommelstatus op pad is. “En dit gaan beteken ’n dollar gaan eensklaps R30 kos. Die gevolge gaan verreikend wees.”

Ian Cruickshanks, ekonoom by die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudings (SAIRR), het aan Pauli van Wyk gesê Rupert se kommentaar is “gewigtig”.

“Hy is die eerste groot sakeman wat dit in die openbaar en op die rekord sê.”

Rupert is voorsitter van Remgro.

Hy het aan die Sowetan gesê die ANC is besig om al hoe meer soos die Nasionale Party van ouds op te tree en "derdemagte" vir sy eie foute te blameer. 

"Ek ontvang talle navrae van beleggers uit die buiteland. Hulle grootste bekommernis is die oppergesag van die reg asook staatskaping. As 'n land nie deur sterk instellings, soos die Grondwet en howe, gerig word nie word hulle deur sterkmanne gerig. Die verswakking van instellings lei na korrupsie en chaos."

Hy reken dit sou rampspoedig gewees het as Van Rooyen se aanstelling nie ter syde gestel is nie. "Die land was op die rand van 'n kredietramp. Nog 'n polities-gemotiveerde, irrasionale besluit deur die president sal daartoe lei dat die wêreld en kredietgraderingsagentskappe ons onder geweldige druk plaas." 

Gordhan is besig om buitelandse beleggers gerus te stel dat die land steeds stabiel en beleggersvriendelik is. 

Die kredietgraderingsagentskap Moody’s was verlede week in Suid-Afrika om navorsing te doen voordat hy besluit om die land verder af te gradeer.

* Hierdie berig is sedert sy oorspronlike plasing bygewerk.

Lees ook: ''Sê my reguit of ek moet bedank'

Meer oor:  Jacob Zuma  |  Johann Rupert  |  Bedank
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.